SA wil Nakasa se oorskot terugbring

Nat Nakasa

Nat Nakasa

‘n Aansoek is in Amerika se hoogste hof gebring om die oorskot van die Suid-Afrikaanse skrywer Nat Nakasa na sy tuisland te repatrieer, berig die Sunday Times.

Nakase se suster, Gladys Maphumulo (73), het aan die koerant gesê sy moontlike terugkeer sal die pyn van sy dood verlig. “Dit was pynlik vir die familie dat ons hom nie kon begrawe nie. Maar daar is nou pogings om sy oorskot huis toe te bring, ons hoop ons pyn sal genees word wanneer ons hom weer begrawe,” het sy aan die Sunday Times gesê.

Nakasa, ‘n joernalis en skrywer, het in 1965 selfmoord gepleeg deur uit ‘n gebou in New York te spring. Hy was 28 jaar oud. Nakasa is in die Ferncliff-begraafplaas buite New York begrawe. Indien die aansoek suksesvol is en Nakasa se oorskot na Suid-Afrika gestuur word, sal hy in die Heldeakker-begraafplaas in Chesterville, Durban begrawe word.

Die departement van kuns en kultuur en ‘n groep joernaliste is betrokke by die aansoek om repatriasie. Die departement het ‘n Amerikaanse regsfirma aangestel om die saak te hanteer. Siphiwo Mahala, die departement se hoof van boeke en uitgewery, sê daar word gewag vir die hof se besluit oor of Nakasa se oorskot opgegrawe en terug na Suid-Afrika gestuur kan word.

Nakasa het oor apartheid geskryf en is gedwing om Suid-Afrika met ‘n verlatingsvisum te verlaat toe die apartheidsregering geweier het om vir hom ‘n paspoort te gee nadat hy ‘n Nieman-beurs van Harvard-universiteit ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.