Spatz Sperling, pionier van die Suid-Afrikaanse wynindustrie en patriarg van die Delheim-wynlandgoed, is Sondagoggend in die ouderdom van 87 oorlede.
Die Sperling-familie het dié nuus Sondagoggend bevestig. “Die Sperling-familie is baie hartseer om die dood van Michael Hans ‘Spatz’ Sperling te bevestig. Hy was ʼn geliefde man, pa, skoonpa, oupa en patriarg van Delheim,” het ʼn verklaring gelui.
Sperling het in 1951 op die ouderdom van 20 na Suid-Afrika gekom. “Oor die volgende 60 jaar het hy die plaas in die Simonsberge opgebou tot een van die gewildste en suksesvolste wynlandgoedere in die land.”
Sperling se vlagskipwyn, die Delheim Grand Reserve, is vir die eerste keer in 1981 geproduseer. “Spatz het saam met Frans Malan en Neil Joubert van Spier die Stellenbosch-wynroete op die been gebring. Hy is in 2009 met die 350ste Celebration Scroll vereer in die jaar wat Suid-Afrika 350 jaar in die wynindustrie gevier het. Hy was nie bang vir enige uitdaging nie, selfs nie vir Parkinson se siekte waaraan hy later gely het nie,” het die verklaring gelui.
Spatz word oorleef deur sy vrou, Vera, hul kinders, Victor, Nora, Maria en Nicholas, en kleinkinders, Rudi, Karl, Gabriele, Michael, Louis, en Renzo.
ʼn Privaat begrafnis sal in die Delheim-familiebegraafplaas gehou word.
Nag ou Grote. Ons sal jou nagedagtenis fier met die vrug van die druif. Saluut