Saab Grintek vra likwidasie van Denel

Saab Grintek Defence het ʼn aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om die reeds sukkelende wapenvervaardiger Denel te laat likwideer.

Denel sukkel reeds geruime tyd om sy krediteure en selfs werkers se salarisse ten volle te betaal.

Werkers by Denel Land Systems het verlede maand ʼn skamele 20% van hul salarisse ontvang en die maatskappy het gewaarsku dat terwyl sy likiditeitsprobleme vererger, hy in die komende maande steeds gaan sukkel om salarisse te betaal.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het vroeër gesê Denel skuld sy werkers sowat R500 miljoen en salarisse is in Mei verlede jaar die laaste keer ten volle betaal.

Die vakbond Uasa sê hy het deur Fedusa, by wie hy geaffilieer is, die minister gevra om ander staatsdepartemente, waaronder die nasionale tesourie, te vra om finansiering te verskaf om te verseker Denel kan sy krediteure betaal en aanhou sake doen.

“Die likwidasie-aansoek van Saab Grintek Defence, hoewel dit ingevolge die bestaande likiditeit-stryd by Denel geregverdig is, kon vermy word as die staat ingegryp het soos hy gevra is om te doen. Uasa is bewus daarvan dat ander krediteure ook betalings wat lank reeds uitstaande is, van Denel eis,” sê Abigail Moyo, woordvoerder van Uasa.

Sy sê sou die likwidasie weens Saab Grintek se aansoek, of dié van enige ander krediteur, voortgaan, die vakbond sy lede sal help met eise teen die staatsbeheerde onderneming deur ʼn voorkeurlikwidateur vir oorweging te benoem om ʼn billike proses te verseker.

eNCA het die afgelope naweek berig die aansoek, wat sowat twee weke gelede ingedien is, hou verband met die verskaffing van meer as 200 brandbeheerstelsels vir sekere voertuie.

Saab Grintek se eis teen Denel beloop volgens eNCA sowat R126 miljoen. Die maatskappy het glo teen einde verlede jaar prokureursbriewe aan Denel begin stuur, maar dit is na bewering bloot geïgnoreer, waarna die maatskappy hom tot die hof gewend het.

In Maart vanjaar het die vakbond Solidariteit ʼn hofbevel bekom om ingevolge ʼn lasbrief van eksekusie beslag te lê op meer as R12 miljoen van Denel se roerende bates.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Tipper ·

Bad,alles word slegter,op die vorige nuusbrokkie kry die kêrel n meestersgraad.

Willem ·

Is daar enigiets wat die kaders van die ANC nie deur hul agterente getrek het nie?

annie ·

Verduidelik asb aan ons hoe werkers dit regkry om maand na maand werk toe te gaan sonder salarisse, vir hul gesinne te sorg en rekeninge te betaal? Onderhou die unies hulle? Is die unies so sterk dat niemand dit waag om ander werk te soek nie? Of is iets anders aan die gang? Wil ‘n ander buitelandse groep oorneem en wag nou net vir die ineenstorting van die bestuur? Spook die Gumpies nog snags in die museum?

SwartBees ·

Het jy onlangs as wit mens werk gesoek? Orals slaan deure in jou gesig toe. As jy werk het vir my sal ek dit graag aangryp om vir my gesin te sorg. Ons leef tans op geloof. Baie het alreeds als verloor en als verkoop om te leef. Ongelukkig by die stembus word die selfde skelms in beheer gehou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.