Saaci-voorsitter se verdwyning moontlik ‘gemene spel’

Wayne (Johnson) Smith, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir die Konferensiebedryf (Saaci), is steeds spoorloos.

Smith, ʼn bestuurder by Scan Display, het Woensdag omstreeks 12:00 sy kantoor in Johannesburg verlaat om ʼn taak te gaan afhandel, waarskynlik by die Rosebank-winkelsentrum, maar het glad nie weer teruggekeer nie.

Sy foon was glo ongeveer 21:00 dieselfde aand die laaste keer in Rabie Ridge, in die omgewing van Midrand, aangeskakel.

Daar is ook geen teken van sy silwer Renault Clio, met die registrasienommer HJ07RG GP, nie.

Volgens vermistepersoon-pamflette wat op sosiale media versprei word, word “gemene spel vermoed”.

“Saaci deel almal se diepe kommer oor die veilige terugkeer van ons voorsitter, Wayne Smith, nadat hy (Woensdag) in Johannesburg verdwyn het.

“Ons gebede is by Charl (Smith), sy familie, vriende en kollegas in die bedryf. Ons wil ook almal bedank wat bydra tot die soektog na Wayne,” het Saaci op sy amptelike Facebook-blad geskryf.

Smith het ʼn blou denim, wit kraaghemp, velskoene met rooi sole en ʼn swart pofbaadjie met ʼn “Scan”-handelsmerk daarop aangehad toe hy verdwyn het.

Charl en Wayne. (Foto: Facebook)

Smith se lewensmaat, Charl, het aan Maroela Media gesê die polisie volg verskeie leidrade op, maar daar was tot nou geen deurbraak nie.

Hy het gesê hy konsentreer in dié stadium net op die soektog na Wayne, maar dat die gebeure van die afgelope paar dae ʼn emosionele tol eis.

Die polisieondersoek na Smith se verdwyning duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

fred ·

Rabie Ridge??township by Tembisa….ja dit klink nie belowend nie ….hoop ek is verkeerd

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.