Saai: Ander moontlikhede ná Landbank?

Foto ter illustrasie. (Foto: eko pramono, Pixabay)

Die Landbank is stadig maar seker besig om in duie te stort en volgens Saai, die netwerk vir familieboere, hou dit reeds rampspoedige gevolge in vir baie van sy lede, asook vir die vooruitgang van landbou in die geheel.

Maroela Media het onlangs berig dat dié bank verwag om in die huidige boekjaar ʼn verlies van R1,06 miljard te ly, ʼn daling van ʼn verlies van R1,3 miljard wat hy ʼn jaar tevore gely het. Boonop verwag die bank om tot in die 2023-’24-boekjaar verdere verliese aan te teken.

Volgens dr. Theo de Jager, uitvoerende voorsitter van Saai en president van die Wêreldlandbou-organisasie, is die ineenstorting van die Landbank die grootste ramp wat Suid-Afrikaanse boere verlede jaar getref het.

“Van oral in Suid-Afrika kla voornemende kopers dat dit sedert die ineenstorting van die Landbank byna onmoontlik is om lenings te kry om ʼn plaas te koop. Onteiening sonder vergoeding, oorverhitte grondhervormingsjargon en ʼn stram ekonomiese omgewing maak handelsbanke skugter vir grondlenings,” het De Jager op Twitter gesê.

Hy het tydens ʼn onlangse landboufinansieringskonferensie wat Saai saam met die Thabo Mbeki-stigting aangebied het, gesê dat boere uiters afhanklik is van produksielenings wat al jare lank deur die Landbank beskikbaar gestel is, sodat hulle volgende jaar ten minste kan aanhou boer.

Daar is ʼn kans dat hierdie ineenstorting tot die likwidasie van 10% van boerderye sal lei.

Volgens Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, het die Landbank se lenings wat nie presteer het nie (lenings wat vir 90 dae of meer uitstaande is) van 16% verlede jaar tot 28% vanjaar gestyg. Dan is die skrif teen die muur.

Hy sê toe die bom in middel 2020 gebars het, het die Landbank sy rentekoerse dramaties verhoog en selfs vereis dat sekere kliënte hulle algehele lenings terugbetaal.

Dit het derhalwe baie druk op landbou-ondernemings geplaas. “Landbank kan glad nie meer nuwe kliënte betrek nie en slegs diens aan sy bestaande kliënte lewer.”

Hugo de Waal, ʼn saaiboer in die Wes-Kaap en Saai-verteenwoordiger, sê die algehele skuld in die landbousektor aan die einde van 2020 was R190 miljard, waarvan die Landbank R54 miljard en kommersiële banke R116 miljard hou. Die res is op die boeke van landbou-ondernemings soos koöperasies en private persone. Baie van die Landbank se lenings word deur landbou-ondernemings in veral opkomende boere se opheffingsprogramme gebruik.

Tydens die konferensie het Roodt dit duidelik gestel dat landbou nie meer ʼn primêre bedryf is nie. Hy voer aan dat landbou vandag eintlik baie gevorderd is en selfs deel van die tersiêre bedryf vorm as dit byvoorbeeld by hommeltuie en genetiese ingenieurswese kom. “Landbou is nou deel van die dienstebedryf en ons moet anders daarna kyk. Dit is nie meer ʼn vuil bedryfsveld nie, maar eerder ʼn hoogs gesofistikeerde moderne bedryf.”

 

Ander moontlikhede

Hy sê ons moet vrede maak met die feit dat die staat nie meer geld het nie en nie meer die Landbank gaan help nie. Hy stel voor dat die Landbank in twee gedeel moet word, naamlik in ʼn kommersiële deel wat winsgewend moet bly en ʼn ontwikkelingsdeel om die bank se mandaat te vervul.

“Boere het andersins verskeie opsies, soos dat hulle by kommersiële banke geld kan leen soos wat nou reeds ʼn geruime tyd die geval is.”

Hy sê boere kan ook wyer kyk vir finansiering. “Landbou kan teen goedkoop koerse geld oorsee leen, maar moet op sy hoede wees vir wisselende wisselkoerse. Hoewel jy versekering daarteen kan uitneem, is dit baie duur.”

Sy beste toevlug, wat wel baie ontwikkeling gaan verg, is die kapitaalmarkte. “Groot groepe boere kan as ʼn eenheid by plaaslike kapitaalmarkte leen, maar dit moet reusebedrae wees. Suid-Afrika se finansiële sektor is baie likied en goed gereguleer en die instrumente is daar vir boere wat dit wil waag.”

Mark Barnes, ʼn vorige groep-HUB van die poskantoor en wat 36 jaar in die korporatiewe finansieringswêreld betrokke was, sê daar sal altyd geld vir boere beskikbaar wees. “Dit moet net in die regte mengsel en teen die regte prys wees. Die groot vraag is hoe om dit te oorbrug sodat boere toegang daartoe kan kry.

“Wanneer ek wonder of iets gefinansier kan word, dink ek altyd aan die veerkragtigheid daarvan en hoe sy inkomste lyk. Daar is geen twyfel dat landbou sterk is en gesond groei nie. In die eerste ses maande was landbou se uitvoere R90 miljard en as jy die inkomste van plaaslike verkope bytel, sal jy besef dat dit ʼn groot bedryf is. Dit is dus vir my baie snaaks dat dit nie in staat is om voldoende en formeel gefinansier te word nie.”

 

Internasionale belangstelling

Hy sê daar moet net genoeg desperate boere bymekaarkom om ʼn uitgebreide en saamgestelde oplossing te vind. “Ek glo die Landbank sal steeds ʼn sentrale rol speel, maar dit moenie die enigste speler wees nie. Die staat sal ook kritiek belangrik wees in terme van grondsekerheid en ondersteuning, maar die bestaande strukture sal verander moet word. Ons moet dink aan sentrale koördinasie maar gedesentraliseerde toegang tot geld.”

Hy sê pasgemaakte pakkette sal vir groot- en kleinskaalse boere ontwikkel moet word wat deur ʼn intelligente oopkop-sentrum bestuur word.

Internasionale moontlikhede is ook vir Barnes ʼn oplossing en iets wat boere ernstig moet ondersoek. “Daar is diep en likiede wêreldwye kommoditeitstermynmarkte wat reeds hulle oog op ons landbou het. Ek is in gesprek hieroor met die HUB van Viterra, wat deel van Glencore is. Hulle het die kennis en vaardighede en aangesien Suid-Afrikaanse landbou deel van die internasionale sakeveld is, is hierdie opsie voor die hand liggend.”

Barnes het ook gewaarsku as landbou nie op ʼn verantwoordelike manier in die formele sektor gefinansier gaan word nie, gaan vreemdelinge of ongure karakters dit doen – en hulle stel eerder belang in voedselsekerheid in hulle eie lande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Het lankal in duie gestort als wat die anc aan raak verander in bollie.

Andrew ·

Nou sê Theo de Jager presies wat daai hoof van die land bank laas week gesê het. So nou wie het die plan nou eintlik uitgedink? Dan stel ek eerder voor dat n nuwe privaat agri-bank gestig word SAAI, TLU, VLU en ander saam met Afriforum. Los die staat en sy gemors.

Hardekwas ·

Andrew, ek kon dit nie self beter gesê het nie. Uitstekende voorstel. Registreer dan dié bank in n buurland, sodat die anc kokerotte dit nie kan bykom nie. Eswatini is n moontlikheid, want hulle kom nie goed oor die weg met die anc kokerotte nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.