Saai begin plaasnaambordprojek

plaashek-pexels

Die DA vra nou vir die dokumente waarop die besluit berus om Cloete van die plaas af te sit. (Argieffoto: Pexels)

Die familieboernetwerk Saai het onlangs sy plaasnaambordprojek van stapel gestuur waarin die nuutste tegnologie gebruik word om digitale plaasnaamborde oor die hele land op te rig. Hierdie projek het ten doel om die onwettige betredings, besettings en plakkery op plase te help bekamp.

Op dié plaasnaamborde word ’n betredingswaarskuwing in verskillende tale (van die boer se keuse) en QR-kodes aangebring. Wanneer dié QR-kodes met ’n slimfoon of -tablet ontsluit word, gee dit die boer toegang tot ’n verskeidenheid van funksies. Een van dié funksies is volledige regsadvies wat deur regslui opgestel is en aan die grondeienaar of enige ander belanghebbende leiding kan gee oor hoe om grondbesettings te hanteer.

’n Ander QR-kode gee jou toegang tot ’n klagtevorm wat digitaal opgestel, ingevul en ingedien kan word. Dit registreer outomaties ook by Saai, waar sy regspan dit gereeld sal opvolg om te verseker dat die polisie ’n saak begin en iets daaromtrent doen. Saai berg dit ook digitaal namens die grondeienaar om ’n saak vir toekomstige regsaksies op te bou.

Hierdie projek het ontstaan nadat die grondbesettings in Noordwes, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal skerp begin toeneem het. Saai het besef daar sal iets daadwerkliks aan dié soort informele, ongekoördineerde en onbeheerste grondgrypgevalle op voetsoolvlak, betredings, besettings en plakkery gedoen moet word.

“Privaat inisiatiewe moet die fondamente oorneem van die owerhede (wat versuim om eiendomsreg te beskerm) en aanvul waar die staat tekort skiet. Andersyds moet elke plattelandse grondeienaar sorg dat sy huis-en-haard-beskerming volgens die bes moontlike standaard is,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Familieboere is diep bekommerd gelaat oor onwettige grondbesetting toe die ANC in 2017 besluit het om die Grondwet te verander om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak. Vier jaar later is die besluit nog nie deurgevoer nie, maar beleggersonsekerheid, die uitvlug van kapitaal, werkverlies, kredietafgradering en die ineenstorting van die Landbank lê soos modderspore op ’n gepoleerde plaashuisvloer agter die ANC se populistiese grondbeleid.

Saai het oor die afgelope twee jaar by drie geleenthede in Rome, Berlyn en New York die sinneloosheid van die onteieningsbeleid aan die Verenigde Nasies en Europese Unie se besluitnemers verduidelik. Dié organisasie skakel ook weekliks met ambassades en buitelandse landbou-unies om seker te maak dat hulle die agenda daaragter begryp.

Saai en sy netwerkvennote het honderdduisende rande ingesamel vir ’n epiese stryd in die howe, wat heel waarskynlik ook deur internasionale beregtiging beslis sal word.

Enige familieboer kan dié plaasnaamborde by Saai se webwerf by www.saai.org bestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.