Saai bekommerd oor moontlike Britse trofeejag-verbod  

(Foto: pixabay)

Saai, die Suid-Afrikaanse organisasie wat na die belange van familieboere en ook wildboere omsien, sê hy het pas kommentaar ingedien op die Britse regering se konsultasieproses waardeur besluit moet word of die in- en uitvoer van jagtrofeë na Brittanje verbied moet word.

Die Britse departement vir omgewing, voedsel en landelike sake (Defra) het dié konsultasieproses verlede jaar aangekondig. Belanghebbendes het tot 25 Januarie om kommentaar daaroor in te dien.

Die departement sê oorbenutting is een van die groot oorsake dat spesies uitsterf en bykomende druk op reeds kwesbare spesies kan vererger weens onvolhoubare of onvanpaste bedrywighede. Die departement sê transformasie is nodig om die natuur te beskerm en te laat herstel en vra dus insette om toekomstige beleid te formuleer en optrede oor die in- en uitvoer van jagtrofeë te rig.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê daar is toenemende druk op verbruikers om weg te beweeg van diereproteïen. Vee- én wildboere kom toenemend onder skoot van aktiviste wat die skuld vir aardverwarming op sulke boerderye pak. “Dit gaan daaroor dat mense nie wil hê diere moet doodgemaak word nie en dat diere dikwels verhef word tot dieselfde status as mense.”

Hy sê vee- en wildboerdery en die metaangasse wat die boerderye vrystel, kry gereeld die skuld vir aardverwarming, maar dat dit nie die hele storie vertel nie. Talle boere, ook in Suid-Afrika, maak gebruik van herlewingsboerderypraktyke wat die uitwerking van die boerdery op die omgewing tot die minimum beperk.

Aktiviste skakel dan oor na gesondheidskwessies en voer aan mense kan gesonder lewe as diereproteïen uitgeskakel word. Daarna volg die etiese kwessie oor die doodmaak van diere.

Rossouw sê in Afrika, waar miljoene mense daagliks honger ly, gaan dit ʼn bykans onbegonne taak wees om diereproteïen met plantgebaseerde proteïen te vervang. Die gevolge daarvan is ook nog lank nie seker nie.

Hy sê geblikte jag mag en moet glad nie met verantwoordelike jagpraktyke vergelyk word nie, hoewel dié gebruik dikwels eerder aan die groot klok gehang word.

“Boere lewe baie nader aan die diere en die natuur as enige akademikus.

“Die jagbedryf skep werk en dra beduidend by tot die ekonomie. Suid-Afrika is boonop ʼn droë land en alle grond kan nie na gewasse oorgeskakel word nie,” sê Rossouw.

“Die wettige en volhoubare aanwending van die natuur, asook wettige handel in jagtrofeë het grootliks tot die herstel van kwynende spesiebevolkings bygedra. Dit het selfs diere soos die bontebok, die bastergemsbok en die swartwitpens van uitwissing gered.”

Rossouw sê Suid-Afrika word gereeld – maar onregverdig – voorgehou as ʼn voorbeeld om teenkanting vir trofeejag aan te vuur.

“Die feite en navorsing wat teen ons wildboerderybedryf gebruik word, is swak en ons glo dat wildboere en hul verteenwoordigers die geleentheid gegun moet word om hul kant van die argument te stel voordat ’n besluit geneem word.”

Saai beoog om binnekort persoonlik met die Britse owerhede te vergader en wil dan ʼn omvattende feitestel oor die Suid-Afrikaanse wildbedryf voorlê.

Rossouw sê die Suid-Afrikaanse regering steun ook die plaaslike wildbedryf.

Die organisasie wil nou ander lande in die Suider Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap betrek om ʼn verenigde front in die bedryf te vorm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Fossiel ·

Die argument dat wild en vee verantwoordelik is vir aardverwarming agv metaangasvrystelling is twak. In die verlede, voordat die mens wild drasties begin uitmoor het, was die veld oortrek met miljoene wild. Vee vervang wild om kos te voorsien. Wild en ekstensiewe veevleis is gesond en dra by tot ekologiese gesondheid. Dit is eerder te veel mense wat aardverwarming bevorder, elkeen met sy koolstofvoetspoor, natuur/ekologie verwaarlosing, afval en riool.

Anni ·

VERBIED TROFEE JAG GEHEEL EN AL. WANT DIS WAAROOR DIT GAAN DI TROFEE. DIS VIR MY ABSOLUUT AAKLIG AS DAAR SO OP FOTO’S GESPOG WORD, EN KYK HU KLEIN IS KINDERS DEESDAE WAT SAAM MET GEWEER EN BOK SIT. EK HAAT DIT, GEE NI OM WAT WIE sě OOR DAAR’S TE VEEL OF TE MIN WILD NI. EN DI OORSESE MENSE WAT GEEN IDEE HET WAAROOR HUL SKIET NI. DIT BLY MOORD IN MY oë. HU SKIET J EEN WAT JOU SO IN DIE oë KYK?????

Judge Dredd ·

Die grootste probleem is mense se emosies……. Dit laat geen ruimte vir logiese denke….

Hb ·

Ja dis hulle skuld dat dit so duur geword het vir my om te jag

Gaitsigubib ·

Jy so reg judge. Die oordrewe klaers sit en kerm oor vleis en jag, terwyl hulle smul n bord tunaslaai wat enige iets van marlyn tot dolfyn en skilpad bevat – totaal “ignorant” oor werklike bewaring! Die wild wat jy gejag het het op n baie meer etiese wyse op die tafel beland. Die groenes sal eers tevrede wees as alle wildplase tot nuut gegaan het en alle wilde diere op die rooidata lys is. Vra jy hulle watter diere meer in privaat aanhouding is as in nasionale parke weet hulle niks.

Realis ·

Haal net asb daai nar af van julle bladsy wat met sy geweer daar “pose”, hy het laasjaar netso veel skade aan jag gedoen met sy belaglike jag musiek video as wat hierdie moontlike verbod kan doen !!!

vis ·

Anni vind uit voor jy praat. Die vleis word altyd verkoop of vir die gemeendkap gegee. Niks gaan vir ‘n ‘mors nie. Plus oorsee mense betaal baie meer as ons so dit dra by die inkomste van die plaas. en as ons nie die diere skiet en eet nie dink hoe over populated als sal wees

Vebied Trofeejag ·

Trrofeejag is ‘n siek, siek geldmaak bedryf. Dit gaan oor geld, mag en oorheersing. Asseblief verbied dit!!!!

Neels ·

Duidelik, het jy geen belangstelling om uit te vind hoe werk die bedryf nie.
As gevolg van trofee jag oorleef spesies en word aan baie mense werk verskaf.
As gevolg van oningeligte sleutel bord krygers, word politieke persone beïnvloed om wette te laat deurvoer wat op die einde skade berokken aan gemeenskappe. Sien die hele prentjie voor julle gal af gaan asseblief.

Leon ·

Stop trofees, ja. Definitief. Geen kwessie nie. Diere word vir die sport geskiet. Diere word nie geskiet omdat hulle oorbevolk is nie of vir voedsel. As hulle wil jag, kan ons hulle laat hardloop deur die veld en dan skiet ons op hulle en dan kan hulle voel hoe dit voel. Kyk na die fliek Running Man. Ons kan altyd vir hulle ‘n Running Man skep.
Metaan aardgas is nonsens. Wild is net met slagdiere vervang. Daar was nog altyd soveel diere wat gas vrygestel het. Die ouens wat kla kan kom en sal vir hulle proppe insit sodat hulle minder aardgas vrystel.

John ·

Die probleem gaan binnekort ‘n ander wending neem. Drie raaie wie gaan nou die wildplase besit? Boere is sakemanne. Punt. Luister hoe kerm en kla P&P se baas omdat mense nie meer so baie Coke koop nie omdat die smaak verander het… en die Britte nou so-en-so… Watter twak-redenasies kan die fat cat-sakemanne op groot plase nie alles langs braaivlesvure uitdink nie.

Judge Dredd ·

Saai is baie korrek – selfs dit waar sommige mense diere gelyk wil stel aan mense. (Lees maar van die kommentare hierbo)

FM ·

Ek stem saam met Leon. Diere word vir die “sport” geskiet. En om te spog. Verbied dit.

Ben ·

@anni,

Jy haal stadig asem, egalig en dan druk jy die sneller egalig, moenie pluk nie, jy kan die dier dalk kwes en nie n doodskoot gee nie. As jy wil kan jy kom en sal jou leer skiet

Anni ·

@ben,vir J inligting ek behoort aan skiet klub, Maar defnitief nor om trofees te jag ni. @vis, lees wat ek gesě het, EK HOU NI VAN TROFEE JAG NIE. HET VREDE WAT MET VLEIS GEDUN WORD!!!!! En ja als gaan oor geld, dis hukom di oorsese se klomp kom skiet. Dis net my gevoel daaroor

M'Lady ·

Hierdie sognaamde wildsplase in Suid- Afrika ‘cater’ vir die oorsese jagters. Die wildsboere is almal skatryk, veral die wat ‘geblikte’ leeu jag aanbied. Reis na al wat oorsese ‘show’ toe om die diere te bemark. Absoluut niks met bewaring te doen nie maar alles met geld.

Johan Venter ·

Niks kan sonder geld geskied nie. Elke keer as julle praat, dan hoor mens hoe die muntstukke val.

Anni jy is reg ·

Anni jou kommentaar is in die kol. Bravo!! vir jou kommentaar wat teen die trofee jagbedryf is.

@M’Lady ·

Die geblikte leeus wat in Suid-Afrika gejag word is siek, alle trofee jag is siek. Jou kommentaar is die waarheid. Dit gaan net oor geld en ‘n onversadigbare drang om diere dood te skiet en daarna te spog hoe braaf hulle kamstig is.

Die Bontebok Nasionale Park het die Bontebok van uitwissing gered (die Jagbedryf!!), Die Bergkwagga Nasionale Park het die Bergkwagga gered van uitwissing weereens die jagbedryf! En die Addo Olifant Nasionale Park die Olifante ensovoorts. ‘n Besoek aan die Krugerwildtuin laat mens net weereens besef dat trofee jag nie reg is nie. En dat dit geensins ondersteun moet word nie.

Oop oge ·

Jy verstaan natuurlik nie hoeveel “culling” in die agtergrond plaasvind in Kruger Park nie… Net n anner vorm van jag om die ou en oorskot diere van ontslae te raak… sonder n ekonomiese finansieele voordeel natturlik.

Johan Venter ·

Ek sekondeer vir jou en Anni, dis sulke mense soos julle wat ons nodig het en nie die ‘wildsboere’ en trofeejagters wat soos ‘n wafferse tollenaar vir ons wysmaak hulle bewaar nie.

Maroelapit ·

Verbied trofeejag. Dit is net vir spog, kyk my horing is groter as joune….

Gewone etiese jag, beslis.

Sonneblom ·

Hier is ‘n paar mense wat geen idee het wat Trofeejag is nie en laat blyk hul onkunde. Soms moet mens net ‘n paar sekondes dink voor jy die “stuur kommentaar” druk….

Buffel ·

Wie van julle werk of het n familie lid wat op n wildsplaas of by san parke werk .
Vra hulle wat gebeur as daar nie jagters is nie . En so sal suid afrikaners ook nie weer kan smul aan daai lekke stuk biltong nie .
So ja ek respek elkeen se mening , maar ons dink eers voor jy ink

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.