Saai gryp in om familieboere op plase te hou

Foto: Willem de Lange

Die Suider Afrika Agri Inisiatief (Saai), ʼn landboubelangenetwerk vir boere, het Donderdag bevestig hy wil met ’n moontlike kollektiewe aksie ʼn oplossing vind om droogtegeteisterde boere met hul hoë skuldlas by te staan.

Dié landbounetwerkorganisasie beoog om soveel as moontlik inligting oor die omvang en intensiteit van die probleem in te samel om só uiteindelik ʼn uitkoms te bereik. Saai gaan ook banke en ander skuldeisers skakel, en indien nodig, ook druk op die regering plaas om die regulerende omgewing só te wysig dat uitbuitende optrede deur megakorporasies ingeperk word.

Luidens ʼn verklaring wat Donderdag deur Saai uitgereik is, het die landbougemeenskap sy kommer uitgespreek oor die drastiese toename in selfmoord onder boere wie se finansiële posisie deur die droogte uitgeknikker is. “Boere in droogtegeteisterde gebiede se lewens word weens die ergste droogte in dekades deur ’n hoë skuldlas, ongenaakbare banke en ander finansiële diensverskaffers en uitbuiterprokureurs ondraaglik gemaak,” lui die verklaring.

Saai meen hoewel daar al vir jare met grondonteiening sonder vergoeding gedreig word, is dit eintlik banke en ander kredietverskaffers wat droogtegeteisterde boere se skuld oproep en hulle van hul plase afsit. Hulle is verál bekommerd oor honderde familieboere wat geslagte lank al op familieplase boer en weens skuld hul kosbare erfenis kwyt is.

“In die rampspoedige droogte is daar min kopers op veilings, en ná ’n leeftyd se werk word dié plase deur banke verkoop teen pryse veel minder as die boer se uitstaande skuld. Boonop word die boer ná die verkoop van sy plaas steeds vir die uitstaande bedrag aanspreeklik gehou.”

Saai is in Februarie vanjaar vir die eerste keer bekendgestel. Dié landbounetwerkorganisasie se doel is om die regte, waardes, ideale en behoeftes van familieboere in die primêre produksiesektor te beskerm en te bevorder.

Saai moedig boere aan om by dié landbounetwerk aan te sluit. Besoek gerus die webblad of stuur ’n e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Hoe kan die SA gemeenskap SAAI help om n bydrae of hulp te verleen? Ons moet ons naastes bystaan mense!

Kandas ·

Amen!! Dit is NOU die tyd dat ons volk moet saamstaan en bydraes maak, al is dit klein!!

CHAPPIES ·

my hart skeur aan flarde, vir ons kosbare, kosbare boere… mens het nie meer woorde, van troos oor nie…bid vir spoedige Goddelike Deurbraak

JV ·

Het vanoggend op whatsapp ‘n voicemail gekry, Oom Angus hou ‘n (hy noem dit ‘n vergardering) op die 1 ste Februarie 2020 op Loftus Versfeld waar ons almal saam kan kom om te bid, mense dis regtig al wat oorbly bid vir God want die satan met al sy volgelinge en slim planne is besig om SA te verwoes

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.