Saai hof toe oor verbod op drankverkope

(Foto: Saai)

Die organisasie Saai sê hy is besig om sy dokumente af te handel om die regering hof toe te sleep oor die verbod op drankverkope.

Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging Sondagaand van ʼn hernude verbod op drankverkope te midde van die Covid-19-pandemie het die bedryf soos ʼn voorhamer getref.

“Baie wynprodusente is familieboerderye met ʼn ryk tradisie en diep gewortelde gesinswaardes, waarin kapitaal, kundigheid, ervaring en ʼn verbintenis tot uitnemendheid van geslag tot geslag oorgedra word,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, die organisasie wat familieboere verteenwoordig.

“Dit verskil wesentlik van ander vertakkings in die alkoholbedryf. Daarom is die uitdagings van ’n wynboer nie dieselfde as dié van ’n alkoholvervaardiger nie. Die produksiedoktrine, filosofie en werkswyse is veel anders en die risiko’s is groter vir wynboere.”

Rossouw sê die afsonderingstydperk het dié verskille beklemtoon deur ontwrigtings waarin wynboere hulle aanvanklik oor operasionele inperkings moes bekommer en toe oor die sluiting van plaaslike en internasionale markte. Hierdie ontwrigting van plaaslike verspreidingsnetwerkte en uitvoere het ʼn verdoemende uitwerking op kontantvloei op die plaas en in die kelder gehad. Wynboere is ook steeds bekommerd oor die rakspasie in die buiteland wat hulle vanweë swak openbare beleid en gebrekkige begrip en beplanning moes prysgee.

Hy sê die skade wat tot dusver aan die bedryf aangerig is, beloop reeds miljarde rande en kan tot ’n dekade duur om te herstel. Dit het ook talle kleiner familiewynmakers in ’n benarde situasie geplaas. “Sonder innoverende inisiatiewe wat buite die normale markgedrewe finansieringsmeganismes daardie boere op hulle plase kan hou, staar meer bankrotskap in die gesig as wat Suid-Afrika besef.”

Saai sê anders as alkoholprodusente is ’n wynboerdery nie net geskoei op winsbejag nie, maar gaan dit ook oor ʼn nalatenskap, die oordrag van kennis tussen geslagte, die integriteit van ’n handelsmerk, die naam op die etiket en die onderhoud van ’n gesin en ʼn gemeenskap.

“’n Wynboerdery is ook nie net ’n wingerd met ’n kelder langsaan nie. Dit is ’n bestemming waar besoekers en toeriste iets tasbaar van die omgewing kan ervaar. Dus speel so landgoed ʼn wesenlike rol in die bemarking van ’n streek of provinsie en sy geskiedenis en is hy afhanklik van ondersteuning nie net met betrekking tot sy produk nie, maar ook as toerisme-aantreklikheid,” sê Rossouw.

Hy sê die gebeure tydens die Covid-19 inperkingstyd en die uitdagings wat kleiner wynboere in die gesig staar noop hulle om hulself in die huidige beleidsomgewing te herposisioneer. Dit verg nie ʼn breuk met bestaande landbou- of bedryfstrukture nie, maar maak dit noodsaaklik dat ’n duideliker stem vir familieboere in daardie strukture gehoor word.

“Kleiner gesinsondernemings se belange is anders as dié van korporatiewe of koöperatiewe ondernemings, wat die infrastruktuur, kapasiteit en spierkrag het om tot beleidsontwikkeling en -beïnvloeding in oorkoepelende bedryfsorganisasies bydraes te maak.”

Rossouw sê Saai kry in hierdie stadium groot steun uit veral die Wes-Kaap vir die beoogde hofsaak waarin hy onder meer wil vra dat wynverkope minstens toegelaat moet word.

Hy sê die instel van ’n aandklokreël en ’n verbod op drankverkope is ’n oordrewe reaksie.

Die regering voer aan dat drankgebruik tot meer traumaverwante voorvalle lei wat beteken minder hospitaalbeddens en hulpbronne is beskikbaar vir Covid-19-pasiënte.

“Om gehoor te word sal vereis dat familieboere hulle nie net op beleidsake toespits nie, maar dat hulle ook daadwerklik betrokke raak in aksies en veldtogte wat hul belange en voortbestaan bevorder. Wynboere kan nie bekostig dat hul stem verwater word deur onder die vaandel van die breër alkohol- en wynvervaardigingsektor ingegooi te word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Althes ·

Ons publiek is nie minderjarige kinders nie, om soos dit behandel te word nie. Ja ek erken dat besope mense anders mense lewens in gevaar stel en gesondheidstelsel verontrief.
Maar wil die regering hê dat mense weer gevaarlike brousels maak waaraan hul dood?
Gesonde mense is belangrik om te kan werk, maar dit help nie hul is gesond, maar geestelik is hul verwoes omdat hul nie ñ inkomste verdien nie.
Die regering moet mooi nadink, die coronavirus affekteer mense baie meer geestelik.

Jan ·

Dit is baie duidelik (dis nou as jou oogklappe af is) dat die regering alle wit besighede wil doodmaak, en hulle glo vas alle wynboere is wit en moet dus ook vernietig word. My volk, word wakker, staan op slaan terug. Dit gaan nie oor die virus nie, dis net ‘n gemaklike dekmantel vir hulle meesterplan om al ons vryhede weg te vat en komunisme te installeer terwyl die mense bang gemaak word met ‘n virus wat minder as 1% van mense wat dit kry laat sterf.

Oros Soros ·

Die illusie dat die RSA ‘n regstaat is, is bloedneus geslaan met die Covid-19 pandemie. Die uitspraak van die Wes-Kaap Hoogeregshof tov “nie die hof se funksie om aan die regering voor te skryf nie”, is onrusbarend, aangesien die hof moet inmeng waar die grondwet ondergrawe word, of waar die regering sy hand “oorspeel”. Sake word ook vir te lank uitgestel om aangehoor te word en direkte toegang tot die Grondwethof word afgeskiet. “Justice delayed is justice denied”. In die VSA trek hulle standbeelde plat, in Suid-Afrika het hulle ons regstelsel en grondwet platgetrek.

Manda ·

My vraag is dit – as jou man / vrou / ma / pa as gevolg van Covid in ICU moet gaan lê en daar lê iemand wat as gevolg van ‘n alkoholverwante insident die 1 bed opgeneem het wat beskikbaar is – wat gaan jou siening dan wees?

JohanR ·

Manda – ek is nie ‘n suiplap nie! Ek drink nie spirits nie, maar geniet ‘n bier elke aand saam met my kos, of miskien ‘n glaasie wyn. By ‘n lekker kuier en braai sal ek seker soe oor die kuier tyd miskien drie biere stadig drink. Ok, soe sit nou skielik met net een bottel 750ml wyn in die yskas, en my laaste bier is Sondag gedrink. Maar die drank ding gaan nie oor die man op straat soeseer nie, maar eerder oor die verlies van die bier, spirits en wyn vervaardigers. Daar werk duisende mense met gesinne by die plekke wat alcohol vervaardig….duisende. Nou skielik net soe is daar niks vir hulle om te doen nie….die masjiene het gestop. En naderhand soe een vir een kry hulle ‘n brief wat eindig met “we wish to thank you for your years of loyal service.” Hy/sy gaan huis toe en moet sy vrou/man en vier kinders in die gesig kyk. In stede van om net soe drank te stop, kon daar ‘n ander beter plan gemaak word, sodat daai man/vrou en duisende ander nog darem ‘n werk kon gehad het!

WynandM ·

Dan moet die taxi’s en motoriste ook maar by huis bly want voertuig ongelukke is baie en dit het dieselfde effek op ICU. . Ek stem 100% saam met jou maar die ANC sal elkgeval nie die hospitale regkry, drinkers of nie drinkers nie. Hier by ons is die dranksmokkel bedryf nog steeds aan die gang. Ek hou nie daarvan om soos ‘n kind behandel te word omdat ander mense hul nie kan gedra nie. Hoe ookal, die feit is ek kry die wynkelders en wynboere baie jammer, die bedryf is al klaar onder stres en baie wynboere klim uit die bedryf. Jy sal skrik as jy weet hoe min ‘n boer maar kry vir ‘n ton wyndruiwe met uitbetalings wat nie onmiddelik is nie. Die bedryf het velle kompetisie van ander drank soorte en ander lande. Mens bou nie net sommer oornag aan ‘n bedryf met meer as 300 jaar se kennis in Suid Afrika.

koos10 ·

Manda, jy mis die punt so bietjie. Die regering het die hele bal mis geslaan met die COVID pandemie, en wil maak nou hulle ware kleure bekend. Die huidige regering het al telkemale hulle misnoë met drank en sigarette uit gespreek en gebruik nou hierdie pandemie om om hulle te laat geld, want sonder ‘n noodtoestand sou hulle nooit die kon verban nie. Hondjie, halsbandjie ding?
Ek verstaan wel wat jy bedoel, maar wat was fout met SLEGS ‘n aandklok reël of ander inperkings tyd, WAT DOELTREFFEND GEPOLISIEëR WORD?
Dis juis my punt, die regering kan nie our poeple beheer nie, daarom verban hulle lings en regs. En dit is vir my ‘n goue aanduiding dat hulle gefaal het.

Cherokee ·

Koos, jy bestempel Manda se opinie as van die kol af met ‘n lang kommentaar wat faal om te verduidelik wat in Manda se opinie nie die kol tref nie. My gunsteling drank is ‘n kelk droë rooi wyn en ek rantsoneer myself ook nou, maar Manda se vraag is geldig.

Niklaas ·

Die regering sal nie maklik oorreed word om besluite soos hierdie te herroep nie. Waar trek hulle in elk geval die streep dan ? As wyn verkope die groen lig kry , gaan daar ernstige klaagliedere wees oor bier en sterker drank soos brandewyn . Meeste mense stem saam dat dit soos in die artikel gemeld word deur die een party , dat dit eintlik “oordrewe reaksie” was om die verbod in te stel.

Renee ·

Wil net graag terugvoer gee vir Manda Hospitale en ongevalle was nog altyd daar vir noodgevalle.voor die Covid-19 Indien die regering die 500 biljoen reggebruik het vir Covid gevalle sou dit nie nou nodig gewees het om skuld te pak op alkhol of sigarette nie, maar eerder aan die diefstal, korupsie ens, voor daai geld nog die bank bereik het almal hulle sakke vol gemaak en geen ander hospitale of alternatiewe sorg is geneem nie. Die wereld het ons gewaarsku oor die Covid-19 maar nee. Die mense gaan nie net aan corona dood nie maar eerder aan hongersnood. Hoeveel werkloosheid is daar nie al in die land nie. In belasting stel hulle nie belang nie, hulle leen net weer, en indien die regering nie ons so lieg en bedrieg nie sou ons n’ baie beter lang gehad het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.