Saai lê strafregtelike klag ná verdagte GEPF-grondtransaksie

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, en Jaco Engelbrecht, lid van Saai by die polisiekantoor.

Saai, ’n organisasie wat die belange van familieboere beskerm, het vandag namens een van sy lede strafregtelike klagte by die Brooklyn-polisiestasie in Pretoria ingedien nadat die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) R586,5 miljoen betaal het vir ’n 60%-aandeel in ’n stuk landbougrond van 1 028 ha.

Saai het ook die saaknommer aan die Valke se eenheid vir ernstige misdaad deurgegee.

Die lid is Jaco Engelbrecht,’n deeltydse boer en onderwyser van Koffiefontein wat maandeliks tot die GEPF bydra.

Dié transaksie het onder Saai se aandag gekom nadat daar ’n advertensie in Landbouweekblad se uitgawe van 31 Januarie 2020 gepubliseer is. Dit is aanvanklik geadverteer dat plase IP (564) van 481 ha en Palmietfontein (403) van 547 ha albei deur die GEPF gekoop is. Die titelakte dui egter aan dat die GEPF slegs 60% van erfdeel 97 van Palmietfontein (403) en IP (564) teen ’n waarde van R586,5 miljoen gekoop het. Die twee plase is buite Klerksdorp in Noordwes.

Dit kom daarop neer dat ’n buitensporige bedrag van sowat R570 000 per hektaar betaal is terwyl die algemene prys vir soortgelyke grond in die omgewing minder as R20 000 is.

Die stad Motswala het erfdeel 97, wat 547 ha beslaan, in 2007 vir ongeveer R10 miljoen aan Isago@N12 Development Pty. Ltd. verkoop. Die stad se 2016/2017-waardasierol toon die eiendom was in dié stadium vir R16,55 miljoen gewaardeer. IP (564) is in 2007 vir R8,75 miljoen in dieselfde transaksie gekoop en die stad se 2018/2019-waardasie vir die grond was R8,97 miljoen.

Volgens die titelakte is 60% van albei plase op 27 Junie 2019 as landbougrond aan die GEPF verkoop teen ongeveer R586,5 miljoen.

connie-mulder-en-flip-buys-tweede-groot-trek

Connie Mulder, hoof van die SNI. (Foto: Reint Dykema)

“Daar is ’n 2 198%-prysverskil tussen die waardasieprys en die prys waarteen die pensioenfonds dié grond aangekoop het. Dit is leë landbougrond wat gekoop is met die oog op verdere ontwikkeling. Die GEPF is ’n entiteit wat veronderstel is om regeringsamptenare se pensioenfondse eerlik en verantwoordelik te bestuur. Om so ’n reuse-eskalasie vir die transaksie te betaal, kan beslis nie as eerlik óf verantwoordelik beskou word nie,” meen Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

“Isago Holdings Pty. Ltd. het ’n 40%-aandeel van die erfdeel 97-ontwikkeling ontvang, teen nul rand. Met die staatspensioenfondstransaksie is die waarde van hul aandele nou R340 miljoen,” voeg Rossouw by.

Luidens mediaberigte het die mededingingstribunaal die verkoop van die grond reeds in 2018 goedgekeur. Volgens die tribunaal wil die GEPF die grond vir eiendomsontwikkeling gebruik. Dit grens aan die N12.

Intussen het Solidariteit ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Toegang tot Inligting (Paia) aan die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) gestuur vir meer inligting oor die transaksie.

“Dit is eintlik verbysterend dat, terwyl die Zondo-kommissie se werksaamhede voortgaan en Zuma se hofsaak aan die gang is, staatsamptenare totaal ongestoord voortgaan om gewone werkers se pensioene te steel. Korrupte amptenare het duidelik geen vrees vir gevolge nie,” sê Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.In sy aansoek vra Solidariteit spesifiek vir die name van die persone wat die transaksie goedgekeur het en ook dié van die mense wat die eiendomswaardasie gedoen het. “Die tyd van skuil agter organisasies is verby – hier moet persoonlike aanspreeklikheid kom. Die verkryging van inligting is wel slegs die eerste stap in die weerstand wat Solidariteit teen die plundering van pensioenfondse gaan bied,” voer Mulder aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jr ·

Jitte. Dit hou net nie op nie. Dis omdat Syrypy Cyril gun rugraat het om iemand te arresteer. Maar dit in my opinie omdat hulle almal iets het op die ander. My opinie Syrypy bly ook in ń glashuis

Grassie ·

Dit is ongelooflik, of soos mnr Mulder sê verbysterend, dat so ‘n korrupte, dieftige transaksie ongemerk kan plaasvind en nie betyds gestop word nie. Dit is blatante diefstal maar ek twyfel of enigiemand ooit aangekla sal word. As ek reg onthou is die bestuurder van die staatsdienspensioenfonds onlangs aangestel nadat sy voorganger by verdagte transaksies betrokke was. Dit is nou ‘n goeie voorbeeld van wolf aanstel as skaapwagter. Die transaksie is al sewe maande gelede afgehandel so die kanse om van die geld te verhaal is maar skraal. Die ANC-kaders gaan nie die pensioenfonds uitlos solank daar nog geld in is nie.

Strandloper ·

Slaan my met n pap snoek vrek…hulle soos n stoom trein wat op spoed is en vir niks sal stuit nie. Kan n eenige reg denkende mens(sic) regtig so wees?

Jan ·

En, glo my, daar is massas sulke transaksies wat gereeld deur die GEPF aangegaan word. Hierdie een het maar baie terloops, 7 maande na die tyd, aan die lig gekom. Sal graag wil weet wie is aandeelhouers in Isago Holdings wat die R340 miljoen meevallertjie gekry het

henndrik ·

Hierdie tipe ding raak so algemeen dat mens sou dink ons sal afgestomp raak maar ons doen nie, ek kan nie verstaan hoe hulle net so kan aangaan sonder gevolge nie

Jakes ·

Daar is geen einde aan waartoe hierdie spul in staat is nie. Dit wil voorkom dat bedrog en korrupsie die norm geword het en dat n waardestelsel van enige aard nie meer “‘cool” is nie. Weinig van hierdie sake kom ooit in die hof nie dus bly dit n aantreklike manier vir kriminele om vining ryk te word.

Luister ·

Kom nou mense! Ons weet mos hoe dit gaan opeindig. Kom, sê saam: “Ons bly in ….land!”

Coenrad Adolf ·

Ek is seker dat daar geen ontwikkeling naby aan ‘n lughawe mag plaasvind nie. As daar ‘n vliegtuig sou val waar daar behuising of besighede is kan daar groot eiese wees. Hierdie grond is ‘n klipgooi van Klerksdorp lughawe af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.