Saai-Neasa-vennootskap bied groot impak vir familieboere

Foto: Dr. Theo de Jager (Saai) en Gerhard Papenfus (Neasa) (Foto verskaf)

Die familieboerorganisasie Saai en die werkgewersorganisasie National Employers Association of South Africa (Neasa) het Donderdag ’n vennootskapsooreenkoms onderteken om arbeidskwessies in landbou te oorbrug en om boere te help met arbeidsprobleme, asook beleidsbeïnvloeding.

Dié vennootskap behels verder dat gesprekke en onderhandelinge met vakbonde en die staat plaasvind en om strategiese rigting te gee aan klein en medium ondernemings en boerderye wat andersins geen stem by die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac), Business Unity South Africa (Busa) of die departement van indiensneming en arbeid het nie. Die vennootskap gee vir Neasa ’n beduidend groter voetspoor in die landboubedryf en bied aan Saai-lede direkte toegang tot arbeidsadvies, hulp en verteenwoordiging op verskeie nasionale arbeidsforums.

Van alle vorme van geadministreerde koste en beleggingsonvriendelike beleidsuitgangpunte wat mededingendheid in die landbousektor kniehalter, is arbeidskwessies in sosiale, politieke en veiligheidsterme die sensitiefste en dikwels emosionele twispunte in die openbare diskoers.

Werkloosheid hang swaar aan ’n reeds kreupele ekonomie en is die grootste dryfveer van armoede en weghol-misdaadstatistieke. Tog maak die regsraamwerk en populistiese beleidsbesluite oor kritieke aspekte van indiensneming soos minimumlone, verblyfreg en die ruimte wat ’n werkgewer het om van ’n probleemwerker ontslae te raak, dit byna onmoontlik vir boere om ’n wesentlike bydrae tot werkskepping te lewer.

Klein- en mediumgrootte boere voel meer dikwels in die spervuur van politieke uitsprake en media-aantygings wat voorgee dat alle boere uitbuiters, slawedrywers en wetsongehoorsames is as wat hulle ooit as vennote betrek word om te help om werk te skep waar Suid-Afrika dit die nodigste het – in die diep landelike gebiede.

Tog presteer landbou as werkgewer op terreine waar geen ander sektor kan meedoen nie. Boere neem mense in diens wat geen ander plek in die arbeidsmark het nie; die mees ongekwalifiseerde, mees onervare en vaardigheidarmstes en mees ontoegeruste werksoekers in die plattelandse gebiede word op plase geakkommodeer.

Miljoene mense verwerf hulle basiese vaardighede vir ander loopbane op ’n plaas. Hulle leer daar om ’n trekker te bestuur, dan ’n bakkie en dan ’n trokkie en word uiteindelik die bestuurders van swaar vragmotors wat Suid-Afrika se logistieke ratte laat draai. Landbouwerkgewers lei mense op vir baie ander sektore in die ekonomie.

Plaaswerkers word nooit ryk nie, maar hulle ly ook nooit honger nie. Waar voedselproduksie op kommersiële plase gedy, eet veel meer as net plaaswerkers, hulle gesinne en uitgebreide families van daardie plase af. Waar hulle hulle werk vanweë onbekostigbare minimumlone of ander arbeidsregulasies verloor, het die staat ’n jammerlike rekord van versuim om vir hulle te sorg of om honger gesinne te ondersteun.

As werkgewer presteer die landbousektor ver bo sy gewig. Hoewel landbou slegs sowat 2,5% tot die bruto nasionale produk bydra, skep dit byna 5% van alle werkgeleenthede direk op plase en ’n verdere 12% elders in die waardekettings.

“Landbou kan werk skep as dit nie deur swak beleid in die wiele gery word nie,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai. “Saai en Neasa het reeds kragte saamgesnoer in ons stryd teen onbekostigbare minimumlone en met noodvoedselpakkies vir honger gemeenskappe tydens die inperkingstydperk, weerstand teen ’n bedingingsraad in landbou en verskeie aksies teen onteiening sonder vergoeding. Die formalisering van die vennootskap bied aan Neasa ’n legitieme teenwoordigheid in die landbou, verbreed sy reikwydte en invloedsfeer substansieel, en bied aan familieboere die kragtigste beskerming, verteenwoordiging en hoorbaarheid wat beskikbaar is op die arbeidsterrein.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tiptol

Baie goeie vennootskap vir ons boere wat altyd aan die swaarste end trek.

annie

Ek het gedink boere is slim en leer uit hul foute. De Klerk het dieselfde mistakie gemaak. As ons net hande vat… kan ons oorvat… Ons trek altyd aan die swaarste end… en die stedelinge lewe so lekker… Boel!