Saai pleit by regering oor jagters

Saai versoek dat die minister teen Vrydag duidelikheid oor die reisbeperkings vir jagdoeleindes aan die organisasie verskaf. (Foto: pixabay)

Die familieboerorganisasie Saai se regspan het ʼn brief aan Barbara Creecy, die minister van omgewingsake, bosbou en visserye, gestuur oor die uitwerking van die jongste Covid-19-reisbeperkings op jagters in Suid-Afrika.

Maroela Media het berig dat Suid-Afrika se afsonderingsregulasies tot vlak 4 verskerp is in ’n poging om die derde vlaag Covid-19-infeksies te beperk.

As deel van dié regulasies is interprovinsiale reis vir ontspanning na en van Gauteng – wat tans die hoogste aantal nuwe Covid-19-gevalle het – verbied.

Saai versoek duidelikheid oor reisregulasies vir jagdoeleindes vir die volgende 14 dae asook vir die tydperk daarna, sou die inperking verleng word.

“Suid-Afrika is tans in die middel van ’n jagseisoen wat ekonomies gesproke ’n uiters belangrike tyd vir ons lede is,” sê dr. Theo de Jager, uitvoerende voorsitter van Saai.

“Dit is boonop nóg belangriker gegewe die ekonomiese uitdagings wat Suid-Afrika weens die inperking in die gesig staar.”

Saai wys in sy brief daarop dat Gauteng die tuiste van verskeie jag- en wildplase is wat finansieel op die jagseisoen staatmaak.

“Uiteraard maak talle beroepsjagters in Gauteng ook op dié jagseisoen staat en sal reisbeperkings hul vermoë om aan hulle gesinne te voorsien, verhinder.”

De Jager is van mening dat jag veilig oor provinsiale grense kan geskied.

“Indien die aantal besoekers op ’n plaas beheer word, is die plaasomgewing een van die plekke waar sosiale afstand die maklikste gehandhaaf kan word. Dit vind boonop hoofsaaklik in die buitelug plaas wat ’n verminderde risiko vir die verspreiding van die virus is.”

De Jager sê voorts indien jagters slegs in Gauteng mag jag, hulle gevolglik in groot getalle op bestaande jagplase in dié provinsie sal saamtrek.

“Dit het ook ’n beduidende invloed op verskeie jagplase buite Gauteng wat op jagters in dié provinsie staatmaak en weens die ingestelde reisbeperkings ’n reuseverlies aan inkomste sal ervaar.

“Ná ’n jaar van swak ekonomiese groei is die impak hiervan onmeetbaar.”

Saai versoek dat die minister teen Vrydag duidelikheid oor die reisbeperkings vir jagdoeleindes aan die organisasie verskaf.

“Elke dag neem onsekerheid op jagplase en onder jagters toe en is bestaansjagters toenemend bekommerd dat hulle vervolg sal word indien hulle vir dié doeleindes reis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Micheal ·

Ek het lank voor my lisensies verval aansoek gedoen vir hernuwing van lisensies en nou kry ek n sms wat se my lisensies het verval – ek het bewys v betaling vir dit, kan hierdie nie in die konstitusionle hof beveg word nie. Duidelik gaan dit oor meer as net onbevoegdheid vd regering maar ook n doelbewuste plan tot ontwapening en onteigening v privaat eiendom dis mos iets wat ek wettiglik besit?

Helgard ·

Micheal, neem aan jy praat van jou vuurwapenlisensie. Dit word in the FCA gedek; seksie 24 (4).” If an application for the renewal of a licence has been lodged within the period provided for in subsection (1), the licence remains valid until the application is decided.”

So jou lisensie bly geldig tot jou huidig aansoek klaar is; hou net jou lisensie en bewys van betaling as jou bewys van hernuwing.

FYI onthou om via DearSA al die nuwe FCA ammendments teen te staan voor 1 Julie anders gaan ons net meer kopseer en pyn met hernuwings he.

Micheal ·

Dankie nou moet n mens net hoop dat hulle dit nie afkeer nie – wat staan mens dan te doen dis wragtig n sirkus

Anel ·

My man het ook al amper 4 maande terug aansoek gedoen vir sy jagwapen se hernuwing en tot vandag toe is dit nog nie eens ingelees nie. Hy het al gaan navraag doen maar kry geen behoorlike antwoord nie, net dat as die dalk weg is moet hy maar net weer aansoek doen. Lid baie onbehulpsaam.

Dup ·

Ons regering voel vere vir die boere,terwyl die oorvol taxis heen en weer jaag en die sjebeens elke dag oop is vir besigheid.

Pieter ·

Dit is van al die pleit dat ons in die gemors sit. Ons moes lankal standpunt in geneem het. Maar dit is mos iets wat ons nie kan doen nie. Die anc kommuniste lag vir ons

Duan ·

Ek dink hulle sit en lag hulle gedink dit gan moeilik wees maar kyk nou net hoe maklik laat ons als gan ek dink hulle is geskok oor hoe maklik dit was !!!

Duan ·

Weer eens gan die boere die enigstes wees wat vlak 4 gehoorsaam gaan wees en dit op die ken vat terwyl die res maak net wat hulle wil !! Die reels is vir een groep mense dis dit !!!

SjN ·

Mev Kopdoek en kie hou nie van jag nie, pensioenarisse hoort tuis.

Rudolph ·

As ek ‘n bok was sou ek wens die inperking hou vir ewig sodat diegene wat op my kom teiken skiet by die huis bly

Aai ·

Rudolph voor hulle beeste geslag het in abattoir waarvandaan het jou vleis gekom?

Aai ·

En watse klere dra jy dat jy se geen diere produkte .So nog nooit ‘n leerskoen gedra,belt of wol?

Anoniem ·

Nou maar publiseer ‘n lys van hierdie jagplekke in Gauteng. En as die pryse reg is, kan ons kyk. Mag mos binne die provinsie reis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.