Saai ‘skepties’ oor Ramaphosa-uitsprake oor grond

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die landbouorganisasie Saai het pres. Cyril Ramaphosa se stelling dat die ANC nie die EFF se strewe na die nasionalisering van grond steun nie, verwelkom.

Ramaphosa het hom Donderdag uitgespreek teen die soort voogdyskap vir die staat oor grond wat die EFF tans met die regerende party bespreek.

Die EFF en ANC se verteenwoordigers op die parlementêre ad hoc-komitee wat artikel 25 van die Grondwet moet wysig om onteiening sonder vergoeding meer eksplisiet te maak, onderhandel tans oor die EFF-voorstel rakende voogdyskap, wat sal beteken die staat besit alle grond en landsburgers kan dit by die staat huur.

Die DA, IVP en VF Plus het geweier om substantief met die ANC te onderhandel oor ʼn wysiging van die Grondwet.

Nadat hy daaroor gepols is, het Ramaphosa hom uitgespreek teen die konsep van staatvoogdyskap oor grond en het dit as die nasionalisering van grondbesit verwerp. Hy sê net soos die ANC met die EFF onderhandel, sal hy ook met ander partye onderhandel.

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê egter grondeienaars en veral boere is nie deur die president se uitspraak gerusgestel nie.

“Suid-Afrika het al daaraan gewoond geraak dat die ANC rondom omstrede kwessies ’n vlieër opstuur om die politieke klimaat te toets en wanneer die temperatuur te warm is daarvan afstand doen en dit dan tydelik weer wegpak.”

Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai. (Argieffoto)

De Jager sê só is die voorstel om gewone Suid-Afrikaners te ontwapen reeds ʼn paar jaar gelede deur die ANC geopper. Na heftige reaksie is dit as ʼn gespreksrigting in die party afgemaak. Daar is egter hernieude sprake daarvan.

“Die president het drie jaar gelede by die Verenigde Nasies die verskynsel van plaasmoorde ontken, maar ná omvattende negatiewe reaksie daarop die wêreld probeer oortuig dat sy regering ernstig is om iets aan die ontstellende plaasaanvalsyfers te doen.

“Gegewe die gebrek aan implementering van die landelike veiligheidstrategie en die ontwapening van kwesbare plaasfamilies, is die meeste boere maar skepties oor die ANC se verbintenis tot die president se standpunte.”

De Jager sê die skeptisisme spruit veral uit ’n oënskynlike gebrek aan bevel- en beheerstelsels in die regering.

“As die ANC so verbind was tot die president se standpunt teen die nasionalisering van grond, waarom sou senior leiers in die party wat direk met die beoogde grondwetwysiging gemoeid is, dan toegelaat word om so ’n radikaal ander standpunt die wêreld in te stuur? Waarom sou die president die omvang van onsekerheid, die skade aan beleggersvertroue en die reputasieskade aan sy administrasie toelaat?” sê De Jager.

Hy sê dieselfde proses is gevolg met voorstelle oor die nasionalisering van die Reserwebank, waaroor daar geskimp is en dit gevolglik ontken is, tot die ANC by Nasrec ’n resolusie ten gunste daarvan aanvaar het.

“Pres. Ramaphosa se versekering dat nasionalisering van grond nie deel van die onteiening-sonder-vergoeding-pakkie is nie, is die resultaat van volgehoue druk van voorstanders van ’n vryemarkstelsel en kom nie uit die ANC se oortuiging nie.

“Daarom kan die druk op die regering om ’n meer sake- en beleggersvriendelike rigting in te slaan, ook nie opgehef word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Spyker ·

Onbetroubaar, ongeloofbaar!
Dit is tale sonder maal bewys.
Ons moet maar daarmee saamleef.

Kanjynoumeer ·

Niemand sal belê of grond wil koop as hy/sy nie seker is oor hy/sy oor 5 jaar nog die eienaar gaan wees en as eiendomsregte nie gewaarborg word nie.
Nie goeie nuus vir die ekonomie nie.
Te veel onsekerheid.

Pieter ·

De jager en ons blankes gaan op die harde manier leer. Jy onderhandel nie met n kommunis of terroris nie ons moet nou regtig wakker skrik. Hoekom wil die anc ons ontwapen word wakker mense.

Werner ·

Hy moet die beleggers gelukkig hou sodat hy darem nog n paar randjies in sy sakke kan prop.Wanneer die waarheid einde Augustus uitkom is dit verby.Hy moet die eff gelukkig hou so moenie aan illusies ly nie die wet sal uitkom soos dit hulle sal pas.

Hettie ·

Ja, dit is so. Onbetroubaar. Sy oggend en aand praatjies kom nie ooreen nie.. Wonder net of sy plase ook na die staat toe sal gaan of sal die wet nie op “my people” van toepassing wees nie ?

Willem ·

Ons het met Marxiste te doen wat onderlê is in die werke van Sun Tzu en Clausewitz. Hulle gee voor dat hulle sterk is wanneer hulle swak en hulle gee voor dat hulle swak is wanneer hulle sterk is. Hulle lieg skaamteloos. Kommuniste kan nie vertrou word nie.

Chris ·

Dink die regime almal is soos hul agterryers en navolgers. Wat my dwars in die krop steek is die , “good evening fellow South Africans”. Net ‘n paar dae daarna hoor jy dieselfde persoon praat van alles moet binne ‘n sekere tyd in swart besit wees. Die witte (apartheid) kry die skuld dat daar nog nie genoeg maatskappye in swart besit is nie. Die witte gaan nog meer pak kry oor die onvermoë van die massas en die regime (bende) se totale mislukkings. Die Dunnig-Kruger effek is aan die orde van die dag.

Grassie ·

Jy praat die waarheid Chris. ‘n Mens kan dit nie beter stel nie. Ek wens al die mense aan ons kant van die straat se oë wil oopgaan.

annie ·

CR gebruik dieselfde taktiek soos in 1994 om staatskaping onder ‘n demokratiese kombers te voer. De Klerk het glo selfs geglo hy sal weer as president gekies word: Ons gaan ‘saam’ dinge be-sleg. Net die sleg het oorgebly. Weereens moet buitelandse-$£€-guns behoue bly. Daarom word die oorname slu aangevoor. Groot baklei met ontwapende wit eienaars en tussen swartes/faksies word verwag. By lg vir ‘n skep van die buit en staatshulp. En dan ‘moet’ die staat om ‘vredesonthalwe’ toetree… en… hi Kuba!

Pieter ·

Ek wens ek kon in mooi afrikaans vir jou se wat ek dink van jou en jou anc sirkus. Dalk is dit tyd dat ons standpunt in neem en begin met belating op stand ons is moeg vir julle anc gemors.

Grassie ·

‘n Mens moet nie net “skepties” oor CR se stories wees nie, mens moet ernstig bekommerd en wantrouig wees. Ons het mos al lankal gesien hy vertel een storie vir ons en ‘n heel ander een vir sy “our people”. ‘n Klompie jare gelede het hy mense gerusgestel dat grondonteiening a la Zimbabwe nie hier sal gebeur nie maar vandag staan hy op die voorpunt van die veldtog.

Jaco ·

Gaan onteiening sonder vergoeding net landbougrond raak, of is stedelike grond ook ter sprake? Ek besit 2 huise in stedelike gebied; so 25km van mekaar af.
As die EFF patroon gevolg word, weet ek dat ek dadelik albei sal verloor, as straf vir apartheid en as straf omdat ek wit is.
Maar wat gebeur as die ANC se patroon gevolg word:
1. Verloor ek albei as straf vir apartheid?
OF
2. Verloor ek net 1, met die argument “jy het nie meer as 1 nodig nie”.
Niemand kan my vraag beantwoord nie. Ek is ook te bang om die ANC direk te vra want dan weet hulle wie ek is en dan word ek eerste onteien die dag wanneer onteiening sonder vergoeding begin.

Pieter ·

Dr Jager som dit pragtig op. Veel meer kaliber as politieke ampsdraers.

Fritz ·

Ek is 100% ten gunste van privaat grondbesit, maar n “right to roam” soos in sommige Europese lande sal lekker wees.

gatgogga ·

Mens kan glad nie vir Ramaphosa glo nie.
Sy dae is in elk geval getel, sy opvolger sal nie so besluiteloos wees nie, en met die EWC en Wapenwet dan op die boeke, is ons dae ook getel. Ons moes in Ramaphosa, die swakkeling, se tyd al probeer vordering maak ket met ‘n onafhanklike staat. Maar net soos hy, slaap ons ook.

Samuel ·

President Ramaphosa is so effektief soos ‘n vlieë plakkie in ‘n kernoorlog. Pffft

Persheks Adri ·

Los ons eiendom en ons vuurwapens Cyril jy en jou kaders ondermyn ons hopeloos te lank al! Hou aan krap jy gaan te ver en “stirr” lekker tot op ‘n dag… Boerevolk word wakker!!!

Gee jou eiendom vir jou “our people” Cyril jy’t mos genoeg geld en eiendom gggmmmfff

JohanR ·

Ek sluk ‘n groot pil elke keer as ek die ou sien. Het “duck and dive” nou ‘n kuns vorm gemaak!

Jack ·

Die president het lankal sy geloofwaardigheid verloor en dit sal baie kos om weer by die ingeligte in die land vertroue te vind. Jammer hy het gelyk soos die ridder op die wit perd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.