Saai verwelkom oordrag van staatsplase aan familieboere

Minister Thoko Didiza. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die besluit van Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, om plase van meer as 700 000 ha wat sedert 1994 reeds in staatsbesit is aan begunstigdes van grondhervorming oor te dra, is deur die landbouorganisasie Saai geloof.

“Die departement moes dié besluit egter 20 jaar gelede geneem het,” meen Theo de Jager, Saai se uitvoerende direksievoorsitter.

De Jager sê in Mpumalanga, die Oos-Kaap en Limpopo was heelwat van Saai se lede onder beleg weens die departement se pogings om grond – waarop sommige van dié boere al ’n dekade of langer boer – aan derde partye te verhuur.

“In die Oos-Kaap het die afsetting van suksesvolle swart boere ten gunste van goed verbinde ANC-kaders hoofopskrifte gehaal. Saai het regshulp aan dié lede verleen om hulle teen korrupte amptenare te beskerm.”

Soortgelyke afsettings het menige swart familieboer in Mpumalanga in die gesig gestaar. Saai was gereed om die belange van dié lede in die howe te gaan verdedig toe die minister haar aankondiging gedoen het.

“Die erkenning dat die departement se inligting oor die plase en die bestuur daarvan uiters gebrekkig is, is die regte beginpunt om die chaos in haar departement reg te ruk. Amptenare het van sommige boere verwag om omkoopgeld te betaal om verblyfregsekerheid te kry.”

De Jager sê verder is swart boere in Suid-Afrika se grootste uitdaging om toegang tot finansiering te bekom.

“Die staat het sedert 2007 reeds nie meer titelaktes aan begunstigdes in die herverdelingsprogram oorgedra nie. Pleks daarvan is aangekoopte plase as staatsgrond aan swart boere verhuur. Hierdie sagte vorm van nasionalisering het boere verhoed om dié plase as sekuriteit aan banke aan te bied en hulle kon dus nie toegang tot finansiering bekom nie.”

Volgens De Jager het die Landbank se kredietafgradering en swak posisie in die mark die krisis aansienlik vererger.

“Honderde ontwikkelingsprojekte wat van die Landbank afhanklik was, loop die gevaar om skipbreuk te ly weens finansieringsprobleme. Die departement het herhaaldelik bewys dat die staat ’n swak alternatiewe insetfinansierder is en het meer swart boere in ernstige finansiële moeilikheid gedompel as wat hulle gehelp het.

“Deur nou titelaktes aan hierdie swart familieboere te gee, word groter verantwoordelikheid, toegang tot finansiering en ’n kans op welvaartskepping bewerkstellig. Dit maak hulle minder afhanklik van staatskenkings en minder kwesbaar vir die korrupsie onder amptenare.”

De Jager sê Saai glo dat die departement se wye negatiewe mediadekking oor die afgelope paar maande ’n groot rol in die minister se besluit gespeel het.

“Die verdoemende hofuitspraak in die Rakgase-saak in Limpopo – waarin die departement gedwing is om sy ondernemings gestand te doen en waaruit die afknou van swart boere duidelik blyk – asook die geval van Vuyani Zigana – wat ná 12 jaar van ’n staatsplaas afgeskop, sy beeste geskut en die plaas as ’n vyfde plaas aan ’n welvarende ANC-kader gegee is – het internasionaal opslae gemaak.”

De Jager sê Saai skakel weekliks met buitelandse verteenwoordigers en landbou-unies om deurlopend te vra hoe die regering ’n rampspoedige grondwetwysiging wil deurvoer om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak terwyl die staat oor miljoene hektare onbenutte of onderbenutte grond beskik.

“Dit is skreiend hoe min die departement weet van plase onder sy beheer en wat daarop aangaan. Dit plaas ernstige vraagtekens oor ander data en inligting wat die departement bestuur, maar veral oor die grondoudit wat hulle laat doen het. Die minister se openhartige erkenning hiervan is egter al ’n groot stap in die regte rigting.

“Dreigemente van ’n radikale herverdeling van water berus op dieselfde – of selfs swakker – data en is, soos die grondkwessie, eerder ’n politieke speelbal as ’n ekonomies wetenskaplike oplossing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Staatsgrond wat my betref is ‘n nasionale bate en behoort aan al die inwoners van die land. Vervreemding van sulke grond moet deeglik beheer word en teen nominale waarde aan nuwe geselekteerde eienaars verkoop word en streng maatreels tot doeltreffende produksie daargestel word.Indien skep dit ‘n massiewe presedent tov andere wat ook grond mahala wil hê.Maatreels tov finansiering en opleiding aan geselekteerde eienaars moet in plek gestel word. Indien nie lê die volgende groot skandaal vir ons en wag!Die staat kan NIKS behoorlik doen!!

Dup

Ek het net een vraag: waarom KRY sommiges en ander moet betaal of koop?

Sarel

Kan die Regering die Projek bestuur of is dasr informele nedersettings aan die kom.
AGRI SA ?

Carina

’n Mens moet altyd, voortdurend en nimmereindigend die beginsels van rewolusionêre oorlogvoering in gedagte hou, by alles waarby die staat betrokke is. Die behoefte aan ondermyning van die magsbasisse van die vorige bestel is so prominent, dat alle perspektief op die gevolge daarvan vir die sogenaamde massas uit die oog verloor word.