Saai vra vir herinstelling van SAOG-tribunaal

Theo de Jager is die voorsitter van Saai. Foto: Verskaf.

Die Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai) beplan om groter momentum aan die groeiende regsdruk op die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) te gee om weer die SAOG-tribunaal in te stel.

SAOG-leiers het dié tribunaal in 2011 ontbind ná ’n aantal uitsprake teen die Zimbabwiese regering, wat verklaar het dat die onteiening van private eiendom sonder vergoeding in dié land ongeldig en teenstrydig is met die SAOG-verdrag.

Ná verdoemende uitsprake in die Suid-Afrikaanse hooggeregshof en Konstitusionele Hof dat oudpres. Jacob Zuma se steun aan die ontbinding van die tribunaal in 2014 ongrondwetlik en irrasioneel was, het pres. Cyril Ramaphosa Suid-Afrika se ondertekening van dié ontbindingsooreenkoms die afgelope naweek by die 39ste SAOG-beraad in Tanzanië teruggetrek.

Hoewel Saai dié stap verwelkom, sê dié liggaam dit bly tragies dat politieke leiers nie self die morele leiding oor universele beginsels kan neem nie, maar deur die howe daartoe gedwing moet word.

“Dit is belangrik dat organisasies van reg oor die spektrum die herinstelling van die tribunaal ondersteun. Hierdie tribunaal skep ’n alternatiewe remedie vir persone waar geskille met die staat ontstaan. In die konteks van onteiening sonder vergoeding sal hierdie beslis ’n strategie wees om te volg,” het dr. Theo de Jager, Saai se direksievoorsitter, gesê.

Die hooggeregshof in Tanzanië het in Junie ’n soortgelyke uitspraak gelewer en die Tanzaniese regering se steun aan die ontbinding van die tribunaal veroordeel.

Die SAOG-regsvereniging het ook ’n sterk beroep gedoen dat die tribunaal heringestel moet word.

“Die opsigtelik onregmatige ontbinding van die tribunaal het Suider-Afrika se aantreklikheid as ’n beleggingsbestemming ernstige skade berokken in ’n tyd waarin dié streek dit die minste kon bekostig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

skurweberg ·

Geregtigheid sal oorwin. Die EFF gaan nie ophou om die vuur aan te blaas nie!!. Hulle gaan hulle nou toesptips op die regstelsel. Reeds op vroudag oorlogspraatjies gemaak. “We will take up arms. Openlike uitdaging van die staatsgesag en die regering is te S…- bang om hulle te waarsku teen die hierdie onverantwoordelike praatjies. Of weet hulle in watter toestand die SADF is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.