Saai wil plan aan VN voorlê om familieboerderye te beskerm

boer-boere-trekker-plaas-boerdery-landbou

(Argieffoto: Spencer Pugh/Unsplash.com)

Die Suider Afrika Agri Inisiatief (Saai), ʼn landboubelangenetwerk vir boere, het ’n konsepresolusie opgestel om familieboerderye in die toekoms te beskerm. Dié resolusie sal volgende jaar aan die Verenigde Nasies (VN) voorgelê word in ʼn poging om misdade teen familieboere op die internasionale agenda te plaas en sodoende te beveg.

“Die belange en veiligheid van ons familieboere moet beskerm word want hierdie mense is die ruggraat van ons samelewing. Om hierdie rede het Saai besluit om ʼn resolusie vir die beskerming van familieboere te skryf,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, Maandag in ʼn verklaring.

Luidens die verklaring beoog die resolusie om die toewyding van staatsinstellings wêreldwyd te bepleit, ten einde die veiligheid van familieboere as ʼn prioriteit te verseker.

“Die VN besef dat familieboere in die beste posisie is om die uitdagings van hongersnood, werkloosheid en migrasie die hoof te bied. Die wêreld kan egter nie verwag dat familieboere hierdie groot verantwoordelikheid moet dra as hul eie regerings nie eens bereid is om hul veiligheid te prioritiseer nie,” sê Rossouw in die verklaring.

Saai sal oor die volgende 11 maande verskeie regerings en landbou-organisasies reg oor die wêreld besoek om steun vir die resolusie te kry. Indien die resolusie genoeg steun kry, sal dit in September 2020 tydens die Algemene Vergadering van die VN aangebied word.

Luidens die resolusie herbevestig Saai die ontwikkeling van ’n bemagtigende beleidsomgewing vir die verstewiging van familieboerdery, waarvolgens ’n bemagtigende maatskaplike, ekonomiese en politieke omgewing ’n voorvereiste is vir familieboere om aan die voorpunt te staan van transformasie waardeur die totale afwesigheid van honger en armoede, standhoudende gesondheid- en voedselstelsels en ’n inklusiewe en veerkragtige samelewing bewerkstellig kan word.

Die resolusie sluit verder in dat familieboere sleutelrolspelers is wat betref die bewaring van landboubiodiversiteit, handhawing en bou van gemeenskappe, versekering van voedselsekerheid, voeding en welstand.

Saai voer verder in die resolusie aan dat diegene wat op familieplase werk op gelyke regte en geleenthede geregtig is.

Lees Saai se konsepresolusie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Feite ·

Elke familieboerdery se belange sal na OSV slegs sover strek as 12 hektaar. Mega boerderye dalk n bietjie meer. SAAI se lede gaan moet grond deel met opkomende boere. Ten minste sal boere 12 hektaar grond hou en nie niks nie. Veiligheid op plase sal in elk geval gewaarborg wees indien boere grond deel, alhoewel dit ook goed sal wees om internasionaal versekering te kan he, want soos ons weet beteken politici in SA se woord nie veel nie!

CFS ·

Het Feite ñ halwe idee hoe groot is 12 hektaar,gaan jy net met een bees boer.?

Walter ·

Die staat sal die enigste groot boer wees. Die res sal op klein plasies krepeer.

John ·

Dis chaos. Woelfie is skynbaar al klaar weer besig om planne te smee glo saam met mega’s om die res van die boere uit te verkoop om hul eie baste te red. Die man glo skynbaar hy is bo-menslik bedeeld met wysheid en kennis, Bogenoeme smeekbede sal op dowe ore val want die VN is nou ‘n welsynsbeweging. Die teendeel kan dalk juis gebeur. Die ANC is verlief op Sjinese/Kubaanse-kommune-eenhede soos wat in Argentiniè posgevat het. Die super-base sit elders in weelde terwyn die slawe swoeg vir aalmoese. Net hier swoeg geen slawe nie. Dit gaan ‘n catch-2020 word soos aangedui in die wiskundige katastrofe-teorie.

Feite ·

Die feite is dat dit die minister van landbou se denke en uitspraak is. Toe die minister van waterwese, Nomvula Mokonyane gese het dat die ANC sal die rand laat val vir die ANC en die ANC sal die rand optel vir die ANC, toe het julle ook nie opgelet in die klas nie!

Sonja ·

Die proses is lank en uitgerek. Hoeveel boere gaan oor wees teen die tyd dat dit ter tafel gele word Sept vlg jaar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.