Saak geskrap ná boer honde skiet

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD)

Die Vrystaatse boer en voorman wat verlede jaar in hegtenis geneem is nadat ’n groep onwettige jagters se honde op sy plaas doodgeskiet is, sal nie meer vervolg word nie.

Piet Kleynhans en Ettienne Meyer het Donderdag ’n sug van verligting geslaak nadat hulle in die landdroshof in Ventersburg meegedeel is dat die saak teen hulle geskrap gaan word.

Dít nadat die direkteur van openbare vervolging beslis het om nie te vervolg nie.

’n Saak van poging tot moord is in Oktober verlede jaar aanhangig gemaak nadat die klaers in die saak beweer het dat Kleynhans twee keer met ’n voertuig oor een van die jong jagters gery het. Geen mediese verslag is egter ooit by die hof ingedien nie.

Dié bewering “kan nie verder van die waarheid verwyder wees nie”, sê Kleynhans nou. “Ons het van die begin af geweet dis ’n valse klag.” Hy erken wel dat hy die honde geskiet het.

Volgens Kleynhans is dit ná byna vyf maande steeds nie duidelik waarom sy voorman destyds in hegtenis geneem is nie, aangesien hy die betrokke dag bloot saamgery het toe die honde geskiet is.

Kleynhans beskuldig die polisie nou van magsmisbruik en beoog om siviele regstappe te doen. Dít nadat die mans sedert hul inhegtenisneming drie dae in aanhouding moes deurbring en vier keer in die beskuldigdebank moes verskyn het.

“Dit gaan absoluut net oor magsmisbruik. Daar word ongelooflik baie geld en energie bestee om te vervolg wanneer vervolging nie eens geregverdig word nie.”

Kleynhans sê egter hy het nou weer ’n bietjie moed vir die land se regstelsel geskep nadat die saak laat vaar is.

Die VF Plus het verlede jaar kort ná die voorval op Kleynhans se plaas gesê die polisie keer in baie gevalle boere die rug toe wanneer onwettige betreding en jag aangemeld word.

“ANC- en EFF-politici se gereelde opruiende uitsprake teenoor boere dra ongetwyfeld by tot die onveilige toestande in landelike gebiede. Dié politici is veronderstel om gemeenskappe te beskerm, maar fokus eerder op populistiese uitsprake,” het Jan van Niekerk, die VF Plus se Vrystaatse leier, gesê.

Kleynhans het sy dank aan AfriForum en TLU SA uitgespreek, wat hom tydens die hofgeding ondersteun het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
JM

Ja “hoed” en jy is DOODSTIL!

Marius

Ry hulle. Die polisie dink hul is verhewe bo die wet.

Hannes

Hierdie laat my baie dink aan Rusty Labuschagne van Zim se storie. In Afrika is “hoorsê” genoeg, bewyse is ‘n bysaak as hulle dink jy verdien om gestraf te word.

casper

Die polisie is ‘n boere vyand!!!

MJ

Belaglik dat daar in die eerste plek ‘n saak was.
Wat het gebeur met die onwettige jagters op sy plaas?