Saak laat vaar ná mesaanval op kleuters

court-hammer_thumbDie man wat daarvan beskuldig is dat hy twee kleuters, hul ma en ouma tydens ʼn rooftog in Dobsonville, Soweto met ʼn mes gesteek het, se saak is teruggetrek.

Phindi Louw, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die saak is nie op die hofrol geplaas nie. “Dit is weens ʼn gebrek aan bewyse,” het sy verduidelik. Die 33-jarige man is Donderdagmiddag in hegtenis geneem en sou vandag in die Protea-landdroshof verskyn het.

Die kleuters se pa het intussen gesê hy is woedend dat die aanklagte teruggetrek is. “Ek is kwaad dat die aanklagte teruggetrek is omdat die ouma gesê het dit is nie die man wat hulle aangeval het nie,” het Lehlogonolo Majara gesê. Volgens Majara kan die ouma egter nie seker wees dat dit wel die verkeerde man is wat in hegtenis geneem is nie, aangesien dit donker was toe hulle aangeval is.

Die twee seuntjies, onderskeidelik twee en drie jaar oud, en hul 20-jarige ma is Dinsdagaand tydens ʼn rooftog in hul huis in Dobsonville x3 aangeval. Twee mans was glo betrokke. Die tweejarige seuntjie is drie keer in sy kop gesteek en die driejarige het agt steekwonde gehad. Die ma is ook verskeie kere in haar linkerarm met die mes gesteek. Die kleuters se 60-jarige ouma het ʼn sny op haar voorkop opgedoen tydens die rooftog. Die verdagtes het met elektroniese toestelle gevlug.

Klik hier vir vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.