Saak oor baba-moord skuif na hoër hof

(Argieffoto: Anja van der Merwe)

Die landdroshof in Klerksdorp sal in Maart besluit wanneer die ouerpaar, Seun Joubert (44) en Isabelle Francis (35), in die hooggeregshof in Mahikeng in Noordwes sal verskyn in verband met die dood van hul vier maande oue baba. Die baba is na bewering weens wanvoeding dood.

Joubert en Francis het Maandag vlugtig in die landdroshof in Klerksdorp verskyn. Die egpaar staan tereg op aanklag van moord en oortreding van die Kinderwet.

Volgens Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, het adv. Riekie Kraus die staat se voorneme om die saak na die hooggeregshof in Noordwes oor te dra, geregistreer. ’n Klagskrif sal na die kantoor van die waarnemende direkteur van openbare vervolging in Noordwes gestuur word om die oorplasing te magtig.

Die paar is onderskeidelik op 16 September en 21 Oktober in hegtenis geneem vir die moord op hul dogtertjie.

Die egpaar woon al die afgelope 15 jaar saam in Alabama, digby Klerksdorp. Hulle het twee seuns van twee en vyf jaar oud sowel as twee dogters van agt en 13 jaar oud.

Maroela Media het vroeër berig Francis se oom, Leon Francis, het op 9 Augustus die vier maande oue baba alleen by die ouerpaar se huis aangetref. Die baba het sonder ʼn kombers op die bed gelê. Hy beweer die baba het uitgeteer gelyk.

Op 10 Augustus het die maatskaplike werker en Leon se vrou die baba na die Klerksdorp-hospitaal geneem waar sy dadelik opgeneem is. Sy is drie dae later dood en die pediater wat die kind behandel het, het bevestig dat sy aan komplikasies weens wanvoeding dood is.

Die polisie het toe reeds al vir Francis ondersoek ná sy glo haar tweejarige en 13-jarige aangerand het.

Die egpaar sal op 11 Maart weer in die landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Swerwer ·

Geen genade. Hoe doen jy dit aan ‘n onskuldige baba wat nie gevra het om in hierdie wrede land te wees nie.

Di ·

Hierdie tipe nuurberigte laat letterlik my bloed kook! Waarvoor kry hulle kinders as hulle nie vir hulle kan sorg OF hulle nie wil he nie? Gooi beide in die tronk sonder kos sodat hulle voel wat hulle aan die weerlose klein babatjie gedoen het. SLEGTER as sleg, SIES skaam julle. Hoop al die kinders is reeds weggeneem van hierdie wrede ouers af.

Mariana ·

Nog twee vuilgoed wat moet boet vir hul dade. Sulke mense moet nie naby kinders kom nie. Skande dat die saak ook met uitgestel word.

Magda G ·

Hoop beide ouers word vir ewig toegesluit. Hulle moet ook vir weke nie kos kry nie. Bedags net n koppie water. Die arme babatjie het n vreeslike lyding gehad. Slegte ouers. Wat vd ander kindrrtjies. Kry hulle ooit genoeg kos?

Yvonne ·

Asb hou op sake uitstel….laat die gemors mense uit die samelewing verwyder word….daar is soveel wat hunker na na n baba????

Nico ·

Die sake van belang word uit gestel totdat die dossiere verdwyn of in die asdrom beland. Die ouers sal nie ongestraf bly nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.