Saak oor robwelpie se mishandeling wéér uitgestel

Die verdagtes het die robwelpie glo op ’n boot aan die Weskus met ’n mes bygedam en herhaaldelik hard teen die boot geslaan. Foto: DBV

Die verhoor van twee mans van die Weskus wat beskuldig word van die mishandeling van ʼn robwelpie is vir die soveelste keer in die landdroshof op Laaiplek uitgestel.

Eric Ntabazalila, Wes-Kaapse woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê die saak is die afgelope week vir verdere ondersoek uitgestel. Hy het Maroela Media na die Wes-Kaapse polisie vir nadere besonderhede verwys, maar hul mediakantoor het tot dusver nie op navrae gereageer nie.

Beeldmateriaal van hoe Marius Tredoux (19) en Rynhard van den Heever (22) na bewering ʼn robwelpie wreed mishandel, is vroeër vanjaar in die sosiale media gedeel.

In die video kan gesien word hoe ʼn man op ʼn boot ʼn robwelpie met iets sny wat soos ʼn mes lyk en die dier meermale optel en hard neergooi.

Tredoux en Van den Heever het op 17 September in die hof verskyn nadat ʼn dagvaarding op 30 Augustus aan hulle bestel is. Ná ʼn tweede verskyning begin Oktober, is die saak opnuut uitgestel, dié keer tot 29 Oktober, toe dit weer eens uitgestel is. Hulle moet nou weer op Woensdag 28 November in die hof verskyn.

Colette Mang, voorsitter van die Swartland-en-Weskus-dierebeskermingsvereniging, het vroeër gesê: “Die twee beskuldigdes sal onder meer teregstaan op aanklagte van die oortreding van die Wet op Omgewingsbestuur, wat aktiwiteit soos die teistering en marteling van ʼn mariene spesie verbied.”

Sy het gesê iemand wat hieraan skuldig bevind word, kan tot vyf jaar tronkstraf gevonnis word of ʼn maksimum boete van R5 miljoen of tronkstraf met ʼn boete opgelê word.

Die organisasie het ook klagte aanhangig gemaak kragtens die Wet op Dierebeskerming. “Die video word in ʼn baie ernstige lig beskou,” het Mang gesê, “en die publiek word versoek om enige verdere inligting by die polisie of die departement van omgewingsake aan te meld.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jannie ·

Vyf jaar gevangenisstraf is te min!!! Parool kan daardie tydperk beïnvloed!!! Begin by minstens TIEN jaar, sonder parool!!! Straf moet ‘n afskrikmiddel wees, ook vir andere!!

Maggie ·

Dis so wreed, hulle moet maximum vonnis kry!!, asb beskerm die diere. van sulke wreedaarts????

Snowball ·

5 jaar tronkstraf!! En 2 jaar harde arbeid, iets soos gwano skoffel op ‘n verlate eiland, dan kan die grootmenere leer om die natuur te respekteer.

Jakes ·

Almal skree arme dier? Lees berig en sien R 5miljoen boete of en tronkstraf by. Moord dan net 5jaar…sonder boete!

WIEBO ·

Is ek dom of wat? Dis dan op video vasgele en hulle kan nie dadelik gevonnis word nie. Die bewyse is oop en bloot. Weet nie hoe werk die geleerde regsmense se koppe nie. As ek so iets sou doen op video, dan is die bewys daar en ek is skuldig. Die land se regstelsel gaan my verstand te bowe!!!

Kobie ·

Sluit die man toe vir ‘n lang tyd. Duidelik is hy gevaarlik met so wrede streep. Hy kan enige iets mishandel. Moet hy nou eers ‘n string goed doen voor iemand sien hy het ‘n los skroef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.