Saak oor ‘staat wat sê waar dokters mag werk’ aangehoor  

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic/Pixabay)

Uitspraak is voorbehou in Solidariteit se saak wat Vrydag in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor is om artikels 36 tot 40 van die Nasionale Gesondheidswet ongeldig te laat verklaar en te laat hersien.

Volgens Solidariteit is hierdie wetgewing een van die pilare van die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en sal ʼn oorwinning in die saak die NGV ʼn baie harde hou reeds voor sy inwerkingstelling toedien.

Hierdie artikels bepaal dat gesondheidspraktisyns ʼn sertifikaat van behoefte van die departement van gesondheid moet ontvang voordat hulle ʼn praktyk in ʼn spesifieke area mag vestig.

Solidariteit het in sy aansoek geargumenteer dat die vereiste van hierdie sertifikate onregmatig inbreuk maak op gesondheidspraktisyns se reg om hul beroep te beoefen.

“Dit is onaanvaarbaar en absurd dat iemand soos ʼn private algemene praktisyn eers by die regering moet aansoek doen voordat hulle ʼn praktyk mag oprig. Wat nóg erger is, is dat die direkteur-generaal van die departement by magte is om feitlik al die werksaamhede van die praktyk, vanaf die toerusting tot die mensehulpbronne, en selfs die grootte van die praktyk voor te skryf,” sê Pierru Marx, netwerkkoördineerder vir die mediese sektor by Solidariteit.

“In wese bemagtig dit die regering om mediese praktyke bykans geheel en al te kaap en na sy goeddunke – eerder as dié van dokters – te bestuur. Ons kan nie bloot terugsit en hoop dat die regering maar net altyd sy wye diskresie verantwoordelik sal toepas nie. Die regering behoort hoegenaamd nie sulke magte te hê nie,” verduidelik Marx.

Solidariteit voer aan dat besluite oor gesondheidsorg eerder deur gesondheidspraktisyns geneem moet word en dat meer inmenging van die regering uiteindelik almal benadeel.

“Die mediese sektor in Suid-Afrika het nie nóg meer burokrasie nodig nie. Ons moet juis ons gesondheidspraktisyns bemagtig en bemoedig. Hierdie tipe wetgewing lei tot swakker sorg, ʼn sieker land en ʼn verontwaardiging onder mediese personeel wie se regte hierdeur vertrap word.

“Ons is optimisties oor ʼn positiewe uitkoms wat ʼn reuseoorwinning vir gesondheidspraktisyns en gesondheidsorg in Suid-Afrika sal wees. Afgesien daarvan dat dit ʼn groot oorwinning sal wees, sal so ʼn uitspraak ook die weg baan vir toekomstige litigasie om die NGV finaal te stuit,” sê Marx.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

Die regering raak al hoe meer arrogant en moet in die bek geruk word.

Nie Verbaas ·

Mooi gedaan. Die regering is tog so behep met mag terwyl hulle nie eers bevoeg genoeg is om badwater in te tap nie.

Althes ·

Dankie Solidariteit vir jul voortgesette deursettingsvermoë en om geregtigheid te laat geskied in die arbeidsmark.
Ek betaal my ledegeld met liefde, vir ongeregtighede in die arbeidsmark, al trek ek nie soms direkte voordeel uit my voordeel nie, help dit iemand anders.

Lillian ·

Ons vorder al nader aan ‘n kommunistiese staat, Ramapokker leer by Putin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.