Saak oor Zuma-regskoste ‘skep belangrike presedent’

Oudpres. Jacob Zuma. Foto: ANA

Die DA en die VF Plus het die hooggeregshof in Pretoria se beslissing dat oudpres. Jacob Zuma sy eie regskoste moet betaal, verwelkom.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het die uitspraak as ʼn oorwinning vir verantwoordbaarheid beskryf.

“Die DA het nog altyd volgehou dit was verkeerd van oudpres. Thabo Mbeki om te besluit dat die publiek vir Zuma se verdediging moet betaal en ons het aangevoer pres. Cyril Ramaphosa moes die onwettige ooreenkoms onmiddellik kanselleer.”

Die hof het ook die ooreenkoms tussen Zuma en die presidensie om sy regskoste te betaal ter syde gestel.

“Dit is jammer dat Ramaphosa besluit het om Zuma te help in plaas daarvan om op te staan vir verantwoordbaarheid en teen korrupsie.”

Adjunkhoofregter Audrey Ledwaba het in sy uitspraak gesê die staat is nie aanspreeklik vir Zuma se regskoste wat in persoonlike of siviele gedinge aangegaan is nie.

Maimane het gesê die hofbeslissing bring ʼn einde aan ʼn stelsel van korrupsie waar mense hul verteenwoordig met openbare geld.

“Die saak skep ʼn belangrike presedent en ons sal die geveg voortsit met diegene wat by staatskaping betrek word.”

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het gesê indien die belastingbetaler wel die regskoste sou moes betaal, dit ironies daarop neergekom het dat die publiek met hul eie belastinggeld sou moes help om geld wat deur staatskaping van hulle gesteel is, toe te smeer.

“Dit sou ook neerkom op ʼn verdere onreg teen belastingbetalers om diegene wat by staatskaping betrokke was, met belastinggeld te beskerm.

“Duidelike reëls moet vir die toekoms opgestel word wat bepaal dat enige persoon in ʼn openbare amp wat ʼn sekere misdryf pleeg of waar daar ʼn regsaksie teen sy persoon is, self vir die regskoste moet betaal. Dit is onaanvaarbaar dat belastinggeld daarvoor gebruik word.”

Groenewald het gesê slegs wanneer ʼn hof bevind het dat die klagtes ongeldig was, kan die staat so ʼn persoon se regskoste betaal en dan slegs indien bewys kan word dat sy optrede gespruit het uit sy ampspligte.

“In antwoord op parlementêre vrae van die VF Plus oor Zuma se regskoste, blyk dit dat die koste, sedert hy in 2009 president van Suid-Afrika geword het, altesame R24,24 miljoen (R24 240 201) beloop.

“Zuma het hom voor die jongste saak in vyf aangeleenthede sonder enige sukses tot die hof gewend. Slegs een van hierdie aangeleenthede is gefinaliseer. Hy het feitlik elke keer van ten minste drie advokate gebruik gemaak, en in een geval selfs van vyf.

“Die feit dat Zuma nie een van die sake gewen het nie, dien as bewys dat belastingbetalers se geld op groot skaal vermors is net om hom uit die moeilikheid te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Andre ·

Nou dat die publieke geldkas toegeklap het … hou dop hoe styg die rooftogte!

Gert ·

Ek wil nog eers sien of enige sent terugbetaal gaan word. Dieselfde met die sogenaamde Zondo-kommisie, ek sal graag wil sien of ENIGE iemand vervolg gaan word en indien wel, hoeveel jaar gaan dit vat om sake af te handel, indien ooit!! Dit is regtig om van naar te word.

piper ·

al betaal hy van die geld terug gaan hy nie so maklik iemand kry om hom te verdedidig nie in toe toekoms nie want hulle weet nie of hulle betaling gaan kry nie.

Willie ·

Een ding wat Julius in die kol gehad het, hy het mos gese CR is n lafaard…

CdV ·

Ek hoop die word uitgebrei na alle maatskappy direkteure ook, want talle van hulle neem swak besluite wat indiwidue en standaarde vernietig. Indiwidu kan nie bekostig om korppratiewe wêreld aan te vat want maatskappye het mos diep sakke. Miljoene rande word in regskoste betaal om hul direkteure se swak besluit en egotjies te “red” en nie noodwendig die maatskappy se beleid nie. As direkteure self moet betaal, sal hul twee keer dink oor hul besluite.

Anoniem ·

Vat so, Katvis! He he he he hêêê!

Wonder hoe lank nog voor Zuma ‘n “terminale siekte” ontwikkel om hom te probeer loswikkel van die nette wat al stywer om hom begin span.

humor ·

So korrup soos die staat is kan verwag word dat daar van die staat se kant so wegsteek meevallertjie onder deur die tafel aan z gegee gaan word.

Cicero ·

Regter Ledwaba us die Adjunk Regter-President van die Gauteng Hooggeregshof, Pretoria.
Hy is nie die Adjunk Hoofregter (van Suid-Afrika) nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.