Saak teen Bellville-landdros weer uitgestel

(Argieffoto)

Die saak teen ʼn landdros van Bellville wat ʼn vrou glo bykans ʼn dekade gelede raakgery het, is weer uitgestel.

Gerald Hattingh, ʼn landdros in die Bellville-distrik, het Verna Cloete na bewering reeds in 2011 raakgery. Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het destyds besluit om Hattingh nie te vervolg nie. Nadat die burgerregtegroep AfriForum se private vervolgingseenheid verlede jaar namens Cloete by die saak betrokke geraak het, het die NVG besluit om Hattingh wel op aanklagte van roekelose en nalatige bestuur te vervolg.

Cloete sou vandeesweek teen Hattingh getuig, maar die saak is nou weer tot volgende maand uitgestel.

Die landdros het hom Woensdag egter aan die saak onttrek omdat hy glo die beskuldigde goed ken. AfriForum sê die landdros het korrek opgetree deur homself te verskoon, maar meen dit is ʼn situasie wat voorsien en dus vermy moes word. Die organisasie het sy misnoeë met die verdere vertraging te kenne gegee.

AfriForum sê sy private vervolgingseenheid is gestig om selektiewe vervolgings te pak. Hy sê die afleiding is regverdigbaar dat sekere mense moontlik as gevolg van hulle politieke of ander affiliasie beskerm word teen vervolging. Hy sê voorts die aanklaer het Donderdagoggend in gesprek met die klaer aangedui dat die NVG self teleurgesteld is dat die verhoor nie gister kon voortgaan nie. Niemand het egter ’n verduideliking gegee waarom ’n ander geskikte landdros nie die verhoor kon behartig nie.

Volgens adv. Phyllis Vorster, aanklaer by die private vervolgingseenheid, is die saak ’n sprekende voorbeeld van waarom mense vertroue in die strafregstelsel verloor.

“Eerstens het dit die NVG byna ’n dekade geneem om vervolging in te stel al was daar ’n prima facie-saak teen die beskuldigde. Tweedens het die NVG versuim om enige terugvoer aan die klaer te gee totdat die private vervolgingseenheid betrokke geraak het. Hulle het ook aangevoer dat hulle die dossier verloor het, waarvan ons toe ’n afskrif aan hulle moes verskaf,” sê Vorster.

“Laastens moes die voorsittende beampte hom reeds by die vorige verskyning van Hattingh aan die saak onttrek het – nié nadat getuies reeds gedagvaar is om te verskyn en die klaer hoop gehad het dat die saak uiteindelik gaan begin nie. Dit is onverskoonbaar dat ’n saak as gevolg van ‘administratiewe’ nalatigheid nie kon voortgaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico ·

Die swart regering ontsien nie eens eerbiedwaardige regslui nie. Daar is al van baie blanke regters ontslae geraak; mense wat heel waarskynlik uitsprake gelewer het wat nie in die ANC se kraal gepas het nie. Die regering is skynbaar net met hofuitsprake gediend wat met hulle belange en eie siening van skuld of onskuld strook. Die landdros het in 2011 die vrou raak gery maar nog niks het gebeur nie, so verdwyn die klagstate. Regstelse is korup.

Gert Johannes ·

Wat van die Senekal uitspraak, geregverdig??@@ Moordenaars kry borgtog, want hullé is deel en part van die moorde en brandstigting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.