Saak teen Centurion-onnie uitgestel

Die saak teen die 55-jarige onderwyser van Valhalla Primary School, wat daarvan beskuldig word dat hy leerders seksueel mishandel het, is Donderdag in die Pretoria-landdroshof uitgestel. (Foto: ANA)

Die saak teen die 55-jarige onderwyser van Valhalla Primary School, wat daarvan beskuldig word dat hy leerders seksueel mishandel het, is Donderdag in die Pretoria-landdroshof uitgestel.

Aktiviste van onder meer #NotInMyName het vandag buite die hof bymekaargekom. “Ons gaan voort om die gesinne en die leerders wat geraak word by te staan ​​en ons vra dat geregtigheid sonder vrees of guns sal geskied,” het Themba Masango, sekretaris-generaal van #NotInMyName, gesê.

Die onderwyser word daarvan beskuldig dat hy minstens 23 skoliere, in graad 5, 6 en 7, sedert Junie verlede jaar onbehoorlik betas het. Die leerlinge het klagtes ingedien ná ʼn bewusmakingsveldtog deur die Tshwane-metropolisie.

Die hof het verlede maand gehoor die getal slagoffers het tot 24 gestyg en die ondersoek duur voort. Die onderwyser is intussen voorlopig deur die Gautengse provinsiale onderwysdepartement met betaling geskors.

Die verdagte is op 14 Februarie op borgtog van R8 000 vrygelaat op voorwaarde dat hy nie sy slagoffers of getuies sal intimideer nie. Hy is ook beveel om sy paspoort in te dien.

Dít volg nadat die staat aanvanklik die aansoek om borgtog teengestaan het en die ondersoekbeampte, kapt. Johannes Mkhondo, gesê het die slagoffers sal nie veilig wees nie, omdat die man se beweerde gedrag voortgeduur het self ná die skoolhoof hom aangespreek het.

Mkhondo het aangevoer die man hou ʼn gevaar vir die gemeenskap in en behoort nie op borgtog vrygelaat te word nie.

Die beskuldigde se regspan het egter aan die hof gesê Mkhondo het glo gepoog om omkoopgeld van R10 000 by die man se vrou te kry om die saak “te laat verdwyn”. Mkhondo het dit ten sterkste ontken en het albei sy selfone vir die hof aangebied om te bepaal of hy inderdaad ʼn SMS gestuur het waar die R10 000 geëis word.

Die saak sal weer op 11 April aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sê-maar-net ·

Dis vreemd dat daar altyd soveel klagtes na vore kom NADAT ‘n Bewusmakingsveldtog deur enigiemand by skole plaasgevind het. Hoor die kinders nie maar sekere woorde, verstaan dit nie en hardloop dan na die sprekers of wie ookal nie? Baie jare terug het my broer se dogter ook die spreker gestorm en haar eie pa aangekla! Na ‘n volledige ondersoek wat my broer tot in sy siel beledig het, is daar vasgestel dat ‘n tienjarige nie die term “seksuele teistering” begryp nie. Nou wonder ek maar net, want ons familie het almal geweet dis nooit, ooit waar nie.

Anel ·

Nogal met volle betaling geskors. So vêr ek nog altyd verstaan het, as mens geskors word kry jy nie geld nie. Sê eerder dat hy op verpligte verlof met volle betaling is. So dubbele standaarde.

HESTER ·

Wanner jy geskors word is dit gewoonlik met volle betaling. Totdat verhoor voorkom en jy skuldig bevind word.

Juffrou ·

Geskors beteken geensins = skuldig nie. Dis as maatreël ingestel sodat die ondersoek ongehinderd kan voortgaan
.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.