Saak teen Duduzane dán voortgesit

Duduzane Zuma in die hof. (Foto met vergunning van Forum Nuus)

Die verhoor teen Duduzane Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, sal op 15 Mei vanjaar voortgesit word.

Dit kom nadat Zuma se aansoek om ontslag op klagte van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur vanoggend in die Randburgse landdroshof misluk het.

Landdros Tebogo Thupaatlase het in die hof gesê getuienis in ’n saak kan net geïgnoreer word as die gehalte daarvan só swak is dat dit nie gebruik kan word nie. Thupaatlase het in sy uitspraak klem daarop gelê dat die getuienis van getuies nie sommer lukraak afgeskiet kan word nie. Dit kan net geïgnoreer word as die onbetroubaarheid daarvan bewys kan word en as dit van so ʼn aard is dat die redelike mens dit nie sal aanvaar nie.

Zuma se regspan het in hul argumentvoering die gehalte van die staat se getuies en hul getuienis skerp in twyfel getrek.

Thupaatlase het gesê ’n aansoek ingevolge artikel 174 van die Strafproseswet, 1977 (Wetno. 51 van 1977) kan net slaag as daar geen bewyse is nie en die hof oortuig is dat daar geen bewyse of getuies is nie. Hy het na verskeie sake verwys waar aansoeke om ontslag nie suksesvol was nie. Een daarvan is dié van Jacob Zuma wat in 2006 ’n aansoek om ontslag in die verkragtingsaak teen hom ingedien het. Die regter het die aansoek van die hand gewys en Jacob Zuma is later wel onskuldig aan verkragting bevind.

Die saak teen Duduzane Zuma hou verband met ’n motorongeluk op 1 Februarie 2014 toe hy met sy Porsche 911 op die N1-snelweg teen ’n minibus-taxi gebots het.

’n Vrou, Phumzile Dube, het aan haar beserings beswyk en nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) Zuma aanvanklik nie wou vervolg nie, het die Dube-familie AfriForum om hulp genader.

Duduzane Zuma en sy regsverteenwoordiger, adv. Mike Hellens SC, in die Randburg-landdroshof. (Foto: Karen Sandison/ANA)

Nadat AfriForum se private vervolgingseenheid aansoek gedoen het om Zuma privaat te vervolg, het die NVG egter sy aanvanklike besluit omgekeer en vervolging ingestel.

“Hierdie uitspraak is nie net ’n oorwinning vir die Dube-familie nie, maar vir almal in Suid-Afrika wat in gelykheid voor die reg glo,” sê Wico Swanepoel, aanklaer by AfriForum se private vervolgingseenheid.

Adv. Mike Hellens (SC) en die res van Zuma se regspan sal weer op 15, 16 en 17 Mei in die hof wees.

Hellens het in die aansoek om ontslag aangevoer dat die staat in gebreke gebly het om die klagte van strafbare manslag en nalatigheid te bewys. Volgens hom het die staat nie getuies of getuienis om op staat te maak om sy saak te bewys nie. Hy het voorts gesê dit sal ongrondwetlik wees om Zuma te roep om te getuig omdat hy homself in die proses sal kan inkrimineer.

Yusuf Baba, staatsaanklaer, was egter van mening dat die getuies hul uitstekend van hul taak gekwyt het en dat daar prima facie- bewys is vir die klag van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur.

Die staat se getuies het ’n weerkundige, ’n Porsche-handelaar, die bestuurder van die minibus-taxi, twee passasiers en ’n persoon wat foto’s op die toneel geneem het ingesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Neels ·

Dit is verbasend hoe dat die voorheen minder bevooregtes en benadeeldes , wanneer hulle in die moeilikheid is, staat maak op die bestes van die beste bevoorregte verdrukker se kennis en hulp om hulle vry te kry .

ANNA ·

Jaaa…NEELS ‘wát’ ñ humoriestiese IRONIE, wat jy nou hier ophaal…wat my ook eerste bygeval het…? wat mens nogals laat wonder nehhh….

James ·

Wil tog byvoeg: Wanneer betoog die Black Lawyers Association bietjie daar voor Zuma jr se huis?

Hettie ·

Hierdie smiling pawpaw sien niks verkeerd met wat hy gedoen het nie!het iemand dalk vir hom gesê hy lyk mooi as hy smile of amuseer die saak hom net ?

ne ·

Jnr reken seker hy is verhewe bo die wet want jz WAS president gewees.

Eish ·

Hoekom die lelieblanke verdediging?
Wat gaan die Black Lawyers Association te sê hê daaroor?

Vryheid ·

Natuurlik is hulle bo wet, Zumas kan maak wat hulle wil. Appel val nie ver vd boom nie.

jakes ·

Waar kry Duduzane geld om sy regskoste te betaal? Of het Gavin Watson iets daarmee te doen?

Cherokee ·

Ek vind dit soort van vreemd dat die Dube-familie wel AfriForum om hulp genader het. Word AfriForum nie as (gehaat) wit beskou nie? Vir my is hulle baie wit, selfs (of miskien jùìs omdat) hulle slim genoeg is om nie kleur-onderskeid te tref by klandisie nie. Miskien is hierdie bloot ‘n Vrydagaand-wens maar dit sal goed wees as AfriForum en VF+ koaliseer.

Koos de Meyer. ·

Wat vir my pla is dat Zuma junior deur die bloulug brigade rond gery word hof toe en terug. Hy was mos nie president nie. Maar ja wat sal ons sê. Hoop maar reg sal geskiet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.