Saak teen Gert Burger-moordverdagtes voorlopig van hofrol verwyder

Gert en Martie Burger.

Die saak teen die twee mans wat verdink word van die moord op Gert Burger van Kroonstad, is van die rol geskrap.

Phehello Temperance Rakake en ʼn minderjarige is kort ná Burger (65) se moord in Februarie vanjaar in hegtenis geneem. Die minderjarige beskuldigde is in die sorg van sy ouers vrygelaat, en Rakake was in aanhouding.

Hy het sowat twee weke gelede ʼn aansoek in die hooggeregshof in Bloemfontein ingedien en sy borgtog is daar toegestaan.

FC Schilling, ʼn prokureur van Kroonstad, het ʼn waaksaamheidsopdrag van Burger se familie gekry omdat Rakake (19) se pa ʼn polisielid is en vrese bestaan dat moontlik by die saak ingemeng kan word.

Hy het Vrydag bevestig dat die saak teen die twee beskuldigdes vandeesweek in die hof op Kroonstad van die rol verwyder is, nadat die landdros bevind het dit sloer onnodig.

Dit is nou maar sowat vyf maande lank op die hofrol – volgens Schilling nie ʼn ongewoon lang tydperk vir ʼn saak nie.

Daar word egter steeds gewag op die uitslae van DNS-toetse wat ná die moord aangevra is.

“Die saak [teen die beskuldigdes] is nie slegter af omdat dit van die rol geskrap is nie. Die getuienis gaan nie weg nie, die DNS-uitslae gáán terugkom en die saak gaan beslis weer op die rol geplaas word,” het Schilling gesê.

Hy het gesê omdat die minderjarige in die sorg van sy ouers is en Rakake se aansoek om borgtog toegestaan is, was daar volgens hom geen benadeling van die beskuldigdes deur die saak op die hofrol te hou nie. Die landdros het ten spyte hiervan anders besluit.

Burger se dogter, Linette Erasmus, het destyds op sy liggaam afgekom nadat ʼn veiligheidsmaatskappy nie haar pa of ma, Martie, in die hande kon kry nie.

Die aanvallers het moontlik gedink die afstandbeheerder op die bos sleutels is die motor sʼn. Dit was egter die paniekknoppie en hulle het dit twee keer gedruk. Nadat die veiligheidsmaatskappy nie haar ouers in die hande kon kry nie, het Erasmus saam met hulle na die huis gejaag.

Sy het haar pa se liggaam onder ʼn swart plastiekseil in die motorhuis ontdek. Martie is vroeër vanjaar ná ʼn kort siekbed dood. Sy was tydens die aanval in die huis en is nie beseer nie.

Erasmus glo steeds geregtigheid gaan in ʼn stadium wél geskied.

“Ek glo nie hierdie is die einde nie. Ek is ʼn Christen en ek weet wat kom hierna. Ja, ek wil hê geregtigheid moet op aarde geskied, maar my pa se moordenaar weet nie wat vir hom voorlê nie. Die Here is genadig en Hy gee vergifnis as jy daarvoor vra, maar dan moet hulle [Burger se moordenaars] hulle lewe regkry,” het Erasmus gesê.

Sy het gesê sy kan net met lof praat van die polisie se ondersoekwerk, asook dié van die aanklaers betrokke. “Daar is altyd nog hoop.”

Maroela Media het navrae aan die Nasionale Vervolgingsgesag gerig oor waarom die saak van die rol geskrap is en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Suzette Geringer ·

Dit maak my woedend as ek hierdie goed lees. Hoe kan die saak van die rol geskrap word. Hier is doelbewuste inmenging en vertraging want hulle weet hulle kom elke keer daarmee weg!! Hier is geen wetstoepassing meer in die land want die wat in beheer is, is self kriminele- dit is hoekom dit gaan soos dit gaan.

Manie van Worcester ·

jy is absoluut reg, as die president en sy ministers korrup is en nie verantwoording doen voor gereg is die res van die land korrup. is soos n prediker wat dronk op preekstoel staan en gemeente betig oor drank misbruik. lei na nerens

Magda ·

PA n Polisie Lid – dit se hoekom die saak vd rol geskraap is- KOM Gerrie Nel -neem oor asb.

Koos de Meyer. ·

As ons van moord aangekla word dan sit jy. Maar ander kom weg. Ons regstelsel laat veel te wense oor.

Casper Labuschagne ·

Ek woon in Kroonstad en dit maak mens bekommerd. Die duidelike boodskap wat aan die gemeenskap gegee word is dat jy sal wegkom met moord op witmense. Vir die inwoners is die enigste keuse dus om jouself net meer te beskerm agter sekuriteit en te hoop vir die beste. Andersins moet ons doen wat sommige gemeenskappe doen en self vergelding neem teen misdadigers want tussen die hof en die SAPS is ons grondwet nutteloos om landsburgers te beskerm en is boendoegeregtigheid dalk ons uitweg.

marous ·

En as die beskuldigdes wit en die slagoffer swart was ????

Dee ·

As die saak van die rol verwyder word beteken dit nie die saak word teruggetrek nie. Die hofrolle is reeds so oorvol, dat sake wat se ondersoeke reeds afgehandel is, moet wag.
Dit help nie daar is 50 sake op die rol en 50 word net uitgestel nie. Dit mors tyd. Laat hulle maar eerder wag tot alle ondersoeke en DNS toetse klaar is en plaas dan die saak op die rol

Anna ·

Ai, ek ken die familie, en ons bly in dieselfde woonbuurt. Ons mooi area word heeltemal oorgeneem deur studentebehuising, en ons mag niks sê nie al lawaai dit hoe. Dan word daar gedreig en ons vrees ons lot sal dieselfde as Oom Gert s’n wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.