Saak teen Kaapse polisiebeamptes uitgestel

Foto: SAPD, Facebook

Foto: SAPD, Facebook

Die verhoor van drie Kaapstadse polisiebeamptes wat van diefstal en roof aangekla word, moes Maandag noodgedwonge uitgestel word weens ʼn maagaandoening by een van die prokureurs.

Konst. Nkosinathi Mdiya (32), ao. Mogamat Meniers (45) en sers. Heinrich Gordon (38) wat almal by die Dieprivier-polisiestasie gevestig is, se verhoor moes in die gespesialiseerde kommersiële misdaadhof in Bellville voor landdros Sabrina Sonnenberg hervat.

Mdiya staan tereg op twee aanklagte van diefstal en twee van roof, Meniers op een van diefstal en een van korrupsie en Gordon op drie aanklagte van diefstal, twee van korrupsie, een van afpersing en twee van roof. Al drie beskuldigdes het onskuld ontken op die aanklagte teen hulle.

Xolile Jonas, die staatsaanklaer, het Maandag versoek dat die saak uitgestel word aangesien een van die verdediging se prokureurs siek was met ʼn maagaandoening. ʼn Ander prokureur van die verdediging, Chantal Morgan, het aan die hof gesê dat die siek prokureur met haar in verbinding was en dat sy hoop om Dinsdag weer terug op haar pos te wees.

Die landdros het egter gesê dit is onwaarskynlik dat sy teen Dinsdag sal herstel en die saak is tot 22 April uitgestel.

Die aanklagte teen die polisiebeamptes hou verband met ses voorvalle in Februarie en Maart 2012.

In een van die voorvalle het ʼn motoris, Daniel Animalu, beweer ʼn beampte in ’n polisievoertuig het hom in die Dieprivier-gebied voorgekeer en langs die kant van die pad laat stilhou. ʼn Polisiebeampte het glo na sy motor toe geloop, die sleutels uit die aansluiter gepluk, ʼn selfoonnommer aan hom gegee en weggery. Toe Animalu die selfoonnommer skakel, is hy aangesê om R500 te betaal voordat sy sleutels aan hom terugbesorg sal word.

Animalu het die saak by die Wynberg-polisiestasie aangemeld, waar hy bloot aangesê is om weer die nommer te skakel.

In nog ʼn geval het die drie polisiebeamptes glo die deur van ʼn dwelmhandelaar se woning in ʼn informele nedersetting oopgebreek, op kontant en dwelms beslag gelê en die handelaar in hegtenis geneem. Terug by die polisiestasie het hulle na bewering R200 geëis vir sy vrylating en ʼn gedeelte van die kontant gesteel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Peet Schabort ·

“Het onskuld ontken”? Lees/verstaan ek reg dat hulle skuldig pleit?

François ·

Huh? Lees ek reg…… hulle pleit skuldig?! Onskuld ontken…?! Of verstaan ek verkeerd?

alida ·

Hoekom uitstel vir 4 maande? Is dit omdat dit SAPD lede is of hou ‘n maagaandoening so lank aan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.