Saak teen LP se ‘moordenaar’ uitgestel

Sibusiso Radebe (Foto: Facebook)

Die 31-jarige man wat verdink word van die moord op ʼn ANC-LP in Junie vanjaar in Johannesburg het Woensdag vlugtig in die Roodepoort-landdroshof verskyn.

Die verdagte, Christopher Gculeka, staan onder meer tereg op ʼn aanklag van moord op die ANC-LP, Sibusiso Radebe (40).

Die saak is tot 28 Augustus uitgestel om Gculeka tyd te gun om ʼn regsverteenwoordiger aan te stel. Hy bly in aanhouding tot dan.

Maroela Media het vroeër berig Radebe is op 19 Junie tydens ʼn beweerde mislukte kaping doodgeskiet. Hy is in die kop en been geskiet nadat ʼn kaper sy selfoon geëis het.

Radebe was op dié dag omstreeks 19:30 saam met ʼn ander persoon in ʼn voertuig wat in Carbonstraat, Lindhaven, geparkeer gestaan het, toe twee aanvallers die voertuig genader en op hulle losgebrand het. Sy metgesel het ongedeerd ontsnap.

Brig. Mathapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder vir Gauteng, het Woensdag gesê ʼn intelligensiegedrewe operasie het daartoe gelei dat Gculeka Saterdag in Bramfischerville in Soweto in hegtenis geneem is.

“Die polisie het inligting opgevolg oor ʼn verdagte wat gesoek is vir ʼn reeks misdade [sakerooftogte, huisrooftogte en kapings] in die weste van Johannesburg,” het Peters gesê.

“Die verdagte is Saterdag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem. Die polisie het tydens die inhegtenisneming beslag gelê op ʼn groen Chevrolet Spark wat in Krugersdorp gekaap is, asook gesteelde goedere met ʼn geskatte waarde van R10 000.”

Volgens Peters het verdere ondersoek vasgestel dat die verdagte “onweerlegbaar” verbind kan word met Radebe se moord.

Die verdagte moet in die Roodepoort-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.