Saak teen Modise uitgestel

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, buite die streekhof in Potchefstroom. (Foto: AfriForum)

Die saak teen Thandi Modise, voormalige voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies en tans speaker van die Nasionale Vergadering, is Maandag in die streekhof in Potchefstroom na Oktober uitgestel.

Modise, wat tereg staan op ʼn aanklag van dieremishandeling, sal dan op die aanklagte teen haar pleit.

Modise word privaat vervolg deur adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid. Nel tree namens die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) in die saak op.

Die private vervolging kom nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geweier het om haar te vervolg, ondanks ʼn prima facie-saak teen haar.

Modise moes op 21 Junie haar eerste verskyning in die hof gemaak het, maar haar regspan het aangevoer dat sy weens haar verantwoordelikhede as parlementêre speaker en voorsittende beampte by pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede in Kaapstad nie in die hof sal kan verskyn nie. ’n Lasbrief vir haar inhegtenisneming is op hierdie dag uitgereik wat oorgehou is tot vandag, hangende haar verskyning in die hof.

Modise was vandag wél in die hof.

Die NDBV het die saak destyds bestempel as een van die wreedste gevalle van dieremishandeling wat die welsynsorganisasie nóg teëgekom het. Maroela Media het vroeër berig Grace de Lange, bestuurder van die NDBV se plaasdierebeskermingseenheid, het gesê Modise se plaas was besaai met karkasse van meer as 50 varke en ander dooie diere soos ganse, eende, skape en bokke.

Die oorlewende diere, waaronder varke, skape, hoenders en bokke, is sonder kos en water gelaat. Die NDBV moes ook 162 diere weens die haglike omstandighede van kant maak.

Thandi Modise buite die streekhof in Potchefstroom. (Foto: AfriForum)

“Die feit dat die NVG besluit het om Modise nié te vervolg nie, selfs al het ’n sterk saak teen haar bestaan, is ’n ernstige skending van die beginsel van gelykheid voor die reg. Modise kan nie anders as ander landsburgers deur die NVG behandel word net omdat sy ’n hoë politieke amp beklee nie,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, in ʼn verklaring gesê.

“AfriForum se private vervolgingseenheid is juis gestig om in sake soos dié van Modise, waar die NVG oënskynlik om politieke redes sy plig versuim, toe te tree en privaat te vervolg om geregtigheid te help verseker.”

Marcelle Meredith, uitvoerende hoof van die NDBV, het AfriForum se regspan bedank en gesê sonder hulle hulp sou geregtigheid, weens die enorme ondersoekproses en die regservaring wat van onskatbare waarde is, nie naastenby moontlik gewees het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Vyf jaar later en die diere-dood eienaar Praat nog lekker voor in die Parlement. Van voortrekkery van n kader is daar natuurlik geen sprake nie, want “time is on our side”, n liedjie van die vorige eeu!

Jacomanie ·

As sy reeds in Junie moes verskyn waarom nou nog uitstel?
Wat het nou bygekom of verander desert Junie.
Soos met amper alle sake word tot vervelens toe uitgestel.
Laat die voorsittende beamptes dit toe tot hulle eie voordeel? Ek wonder maar net.

Willehond ·

Aag stel net n kommissie van ondersoek aan en laat die polisie die situasie monitor! Probleem opgelos!!

Craig ·

En dis die mense wat vereis om beheer oor voedsel produskie te bekom. Die tipe gevalle kom landwyd voor. In ons area is 200 varke so verwaarloos en sonder water of kos gelaat totdat ‘n buurman dit uitgeroep het. Weereens moes die gemeenskap inspring en red omdat eienaars die diere netso gelaat het. Baie van die diere was siek en moes vakant gemaak word. Waar gaan dit eindig?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.