Saak teen oud-KZN-polisiehoof, sakeman na hooggeregshof

Toshan Panday, kol. Navin Madhoe en Mmamonnye Ngobeni Donderdag in die hof. (Foto: Verskaf)

Die saak van korrupsie en bedrog teen Thoshan Panday, omstrede Durbanse sakeman, Mmamonnye Ngobeni, voormalige polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, en twee ander is na die hooggeregshof in Durban oorgeplaas. Dié saak is vir voorverhoorverrigtinge uitgestel tot 8 Februarie.

Panday en Ngobeni het vanoggend (Donderdag) weer saam met kol. Navin Madhoe in die Durbanse streekhof verskyn. Aswin Narainpershad, ʼn voormalige polisiekaptein, het versuim om vanoggend in die hof te verskyn weens Covid-19-protokolle wat nagekom moet word. ’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming sal uitgereik word, maar staan oor tot die volgende hofverskyning.

’n Klag van rampokkery is vanoggend by die klagstaat gevoeg soos die hof in November gelas het.

Die beskuldigdes is verlede maand in hegtenis geneem in verband met bewerings van tenderbedrog van R47 miljoen tydens die 2010-Wêreldbeker-sokkertoernooi. Daar word ook beweer dat daar destyds pogings was om ’n polisiebeampte om te koop.

Dié vier word deur meer as 200 klagte in die gesig gestaar.

Die aanklag van korrupsie spruit uit beweerde betalings wat Panday gemaak het vir ’n verjaardagpartytjie vir Ngobeni se man. Dit sluit ook omkoopgeld van R2 miljoen in wat glo aan die voormalige hoof van die Valke van KwaZulu-Natal, genl. Johan Booysen, aangebied is om die ondersoek teen Panday en Madhoe te ondermyn.

Daar word beweer dat Madhoe Booysen probeer omkoop het met kontant wat na bewering deur Panday verskaf is om met bewyse te peuter en die ondersoek wat die Valke-baas begin het in die wiele te ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

genl. Johan Booysen was een van daai polisiemanne wat nie kon omgekoop word nie.

Dine ·

Hoog tyd. Onskuldige manne wat hulle siele vir die eenheid gegee het, het vir jare n swaard oor hulle koppe gehad. Hulle is onskuldig aangekla. Laat die werklike oortreders hulle dag in die limelight kry. Gen. Johan Booysen dankie vir jou vasberadenheid om hierdie saak deur te druk dat geregtigheid seevier.

Hennie J ·

As die ou spulletjie saam tronk toe gestuur word sal DKD sy storie moet ken om tusse die reels vir hulle ordentlike verblyf te voorsien!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.