Saak teen Parys-boere hervat vandag

Boeta van der Westhuizen (links), Johan Cilliers sr., Johan Cilliers jr. en Anton Loggenberg tydens hul vorige hofverskyning. Foto: Mariné Jacobs

Boeta van der Westhuizen (links), Johan Cilliers sr., Johan Cilliers jr. en Anton Loggenberg tydens hul vorige hofverskyning. Foto: Mariné Jacobs

Vyf verdagtes sal Vrydag in die Parys-landdroshof verskyn in verband met die moord op twee vermeende plaasaanvallers wat in Januarie deur ʼn groep boere op ʼn plaas in die distrik aangekeer is.

Kapt. Henk Prinsloo, Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Johan Cilliers sr. en sy seun, Johan Cilliers jr., wat almal tans op borgtog vrygelaat is, sal saam op ʼn aanklag van moord verskyn. Daar was reeds vroeg Vrydagoggend ʼn sterk polisieteenwoordigheid voor die hof en talle strate om die hof is afgesper, vermoedelik ingeval groepe betogers weer voor die hof wil betoog.

Van der Westhuizen, Loggenberg, Cilliers sr. en Cilliers jr. het op 12 Januarie laas in die hof verskyn. Die staat beweer dat hulle verantwoordelik was vir die aanranding en moorde van Samuel Tjixa en Simon Jubeba. Tjixa en Jubeba was na bewering op 6 Januarie betrokke by ʼn plaasaanval in die gebied. Hulle het na bewering van die toneel gevlug en die boer het alarm gemaak.

Kort daarna het ʼn groep boere die twee vermeende aanvallers op die plaas vasgetrek en die polisie is ontbied. Die staat beweer Prinsloo was een van die eerste polisielede op die toneel en het glo die boere gehelp om Tjixa en Jubeba aan te rand.

Ao. Isaac Tshabalala, die ondersoekbeampte, het voorheen in die hof getuig toe hy op die toneel opdaag, was Tjixa en Jubeba erg aangerand, hul gesigte was geswel en een het “krapmerke oor sy gesig gehad asof hy gesleep was”. Die twee mans is na ʼn hospitaal gebring waar hulle later aan hul beserings beswyk het.

Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers het egter tydens hul vorige hofverskyning gesê die staat het geen bewyse dat dit wel hulle was wat vir die aanranding van die twee mans verantwoordelik was nie, maar dat hulle bloot op die toneel agtergebly het toe die polisie daar opgedaag het. Baie boere het glo weggery toe die polisie by die toneel opgedaag het.

Landdros Leshni Pillay, wat die saak aanhoor, het voorheen gesê sy is teleurgesteld oor die manier waarop die saak deur die polisie hanteer is en hoewel dit hartseer is dat twee mense dood is, was daar geen bewyse voor die hof dat die vier beskuldigdes by die saak betrokke was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Berhalet Beukes ·

Landdros Pillay, ek hou van wat jy sê! Jy is realisties en regverdig!

Vic ·

So, ek neem aan Maroela, dis die “vermeende” moord op die “vermeende” plaasaanvallers?

Landi Slatter ·

Dagsê Vic

Dankie vir jou navraag. Die polisie het bevestig dat die beskuldiges almal tereg staan op ‘n aanklag van moord.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Vic ·

Dankie Maroela, maar daar’s nog geen skuldigbevinding nie – is dit nie dan net “vermeende” moord nie?

johan ·

Baie sterkte aan die boere. Wat ek egter nie vestaan nie, as daar dan geen bewys is dat die boere by die saak betrokke was nie, waarom hulle dan nog aanhou of dan word die saak mos uitgegooi of die aanklag teen hulle word teruggetrek.

SUSAN ·

Dit moet eintlik lees, die saak word hervat nadat plaasaanvallers dood is, na die boere hulleself verdedig het, en dat hulle een boer se lewe wou red.

Jean ·

Glo dit die anc belhamels sal iemand enige iemand wat blank afrikaner is in die tronk gooi bewyse of nie…dit sal hul bevele wees kyk maar…

johny ·

Leer by die boendoe howe. Hulle brand hom dan hardloop almal weg

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.