Saak teen polisielede uitgestel vir verdere ondersoek

Die vyf polisiebeamptes in die hof. (Foto: ANA)

Die borgtogaansoeke van vyf polisiebeamptes wat onlangs in hegtenis geneem is tydens klopjagte in die Johannesburgse middestad is Maandag uitgestel om voorsiening te maak vir verdere ondersoek.

Die Johannesburg-landdroshof het gister gehoor dat “ʼn persoon van belang” nog nie deur die ondersoekbeampte ondervra is nie waarna die besluit gemaak is om die verdagtes se aansoek om borgtog uit te stel.

Marubini Aubrey Raphebele, Thulane Philemon Bopela, Petrose Mosiuoa, Samuel Motaung en Timothy Piet Mohlala word aangekla van diefstal en dwarsboming van die gereg.

Maroela Media het vroeër berig die verdagtes is vroeër vandeesmaand in hegtenis geneem nadat hulle glo omkoopgeld aanvaar het te midde van klopjagte op winkels met vervalste goedere in die Johannesburgse sakesentrum.

Die verdagtes beweer nou dat hulle die betrokke dag bloot ʼn winkeleienaar gehelp het om goedere aan sy winkel terug te besorg.

Khanyi Dhlakama, Bopela se regsverteenwoordiger, het tydens gister se hofverskyning sy kliënt se verklaring gelees. Hierin beweer Bopela dat hy en sy medebeskuldigdes tydens die klopjagte Nigeriese mans se goedere deursoek het. Hulle was tevrede en het ʼn voertuig voorgekeer en die eienaar van die voertuig opdrag gegee om hulle te help.

“Kol. Pillay het ons toestemming gegee om die goedere af te laai. Ons het dit gedoen, maar kort daarna het ons ʼn oproep van die polisiestasie ontvang en is ondervra en in hegtenis geneem. Daar word beweer dat die teenmisdaad-eenheid gesien het dat ons R500 van die mans geneem het, wat nie waar is nie,” lui die verklaring.

Hloni Lehoka, Mohlala se regsverteenwoordiger, wou weet hoe die verdagtes in hegtenis geneem is aangesien die R500 ter sprake nooit by een van die verdagtes gevind is nie.

“As u nie kan uitwys watter een van die vyf mans R500 van die Nigeriese mans geneem het nie, wat is die gronde vir die inhegtenisneming?” wou Lehoka by die ondersoekbeampte, Phineas Sepoa, weet.

Al die beskuldigdes voer in hul verklarings aan dat Pillay die dag toestemming aan hulle verleen het om die goedere af te laai. Toe Sepoa hieroor uitgevra is, het hy gesê: “Ons het hom nie ondervra nie, ek is geskok om dit te hoor.”

Landdros Basimane Molwana het beveel dat die hof verdaag terwyl Sepoa Pillay gebel het. Pillay het egter gesê hy stel nie daarin belang om te getuig nie, tensy hy deur die hof gedagvaar word om te getuig.

“Ek wil Pillay in die hof hê,” het Molwana gesê. “Dit is wat ons sal help. Hierdie saak het baie invloed in die buitewêreld, dit is een van xenofobie en korrupsie, veral omdat die polisie veronderstel was om die orde te herstel, maar die teenoorgestelde nou blyk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

shark ·

Waar n rokie trek is daar n vuurtjie..nou lieg hul ook nog, tipies.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.