Saak teen regter Hlophe wéér uitgestel

Regter Joop Labuschagne. Foto: Skermskoot/Judges Matter-video

Die saak teen regter John Hlophe, die Wes-Kaapse regter-president, is Maandag weer deur die Regterlike Dienskommissie se tribunaal uitgestel.

Die tribunaal hoor die saak, wat al tien jaar lank sloer, aan. Die saak is Maandag uitgestel nadat ʼn lid van die tribunaal hom aan die saak onttrek het. Regter John Musi het gesê hy het ʼn kennisgewing van ʼn mosie en ʼn beëdigde verklaring van Hlophe se regspan ontvang waarin daar aansoek gedoen word vir sy onttrekking aan die saak.

Daar word beweer dat Musi in Julie 2017 tydens ʼn geleentheid by Zimbali in KwaZulu-Natal neerhalende aanmerkings oor Hlophe gemaak het.

Volgens Musi het Hlophe hom in Mei 2018 gebel en versoek dat hy hom aan die saak onttrek. Musi is ook in Junie weer deur Hlophe se regspan gekontak en versoek om te onttrek. Hy het herhaaldelik geweier om dit te doen.

Musi ontken die bewerings teen hom en hou vol hy het niks verkeerd gedoen nie. “Die feit dat daar ʼn klag teen my is beteken nie ek word gediskwalifiseer om in te sit op die saak nie.”

Musi het wel gesê hy het besluit om hom aan die saak te onttrek in belang van die tribunaal en die regbank.

Regter Joop Labuschagne, voorsitter van die tribunaal, het sy kommer uitgespreek oor die vertragings in die saak.

“Ek is persoonlik baie gretig om die saak af te handel. Ek sal die hoofregter [Mogoeng Mogoeng] persoonlik kontak en vra dat iemand anders so gou as moontlik aangestel word.” Labuschagne het die versekering gegee dat hy alles in sy vermoë sal doen om die saak te bespoedig.

Hlophe word daarvan beskuldig dat hy regters van die konstitusionele hof probeer oortuig het om in die guns van oudpres. Jacob Zuma te beslis in sake waarby hy betrokke was.

Regters Bess Nkabinde en Chris Jafta het beweer Hlophe het hulle ten gunste van Zuma probeer beïnvloed in vier korrupsiesake wat voor die konstitusionele hof gedien het. Zuma was toe nog nie president nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andre ·

Nie een van die kriminele sal tronk toe gaan nie! Selfs die regstelsel en die justisie is net so vrot soos die polisie, die 1% wat eerlik is sal geen verskil maak nie.

Koos ·

Hoekom vat dit Hlophe byna ‘n jaar om vir rekusie te vra? Waarom weier Musi eers en gee dan toe? Gesloer aan beide kante hier waarneembaar?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.