Saak teen SAL-vlieënier uitgestel ná ‘padwoede-moord’

Argieffoto

Argieffoto

Die saak teen ʼn vlieënier van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), wat na bewering ʼn ander man tydens ʼn padwoedevoorval doodgeskiet het, is Vrydag uitgestel.

Jacque Etienne van Tonder (44) is op borgtog van R10 000 vrygelaat nadat hy Louis Janse van Rensburg (53) in Bonaero Park aan die Oosrand glo op 6 Mei doodgeskiet het. Die Kempton Park-landdroshof het die saak tot 24 Julie uitgestel sodat ʼn uitstaande forensiese verslag ingedien kan word.

Van Tonder, wat in ʼn swart pak geklee was en in die SA Lugmag gedien het, het in die beskuldigdebank gestaan terwyl sy regsverteenwoordiger, Piet du Plessis, tot die uitstel ingestem het. Du Plessis het ook die Tsjeggiese sakeman Radovan Krejcir verteenwoordig.

Van Tonder se vrou het saam met vier mans in die openbare galery gesit. Toe die groep die hof verlaat, het sy met haar hand aangedui dat sy nie met die News24-verslaggewer, wat haar genader het, wou praat nie.

Tydens Van Tonder se vorige hofverskyning het dit aan die lig gekom dat hy die oggend van die skietvoorval met sy twee kinders, onderskeidelik 10 en 14 jaar oud, op pad skool toe was. Hy beweer hy het in ʼn straat naby sy huis ʼn bestuurder in ʼn Isuzu-bakkie gesien wat sy aandag probeer trek het.

Volgens Van Tonder het hy gedink die bestuurder verwar hom met iemand anders of dat daar iets met sy motor fout was. Albei mans het afgetrek. Van Rensburg het na bewering uit sy bakkie geklim en op ʼn aggressiewe, onbeskofte manier na Van Tonder gestap en hom ʼn idioot genoem.

Van Tonder het gesê hy kon nie sien wat hy verkeerd gedoen het nie en beweer Van Rensburg het hom aan sy hare getrek en deur sy half-oop venster geslaan. Sy kinders het gesien wat gebeur en het histeries geraak. Hy het gesê hy kon daarin slaag om sy kop uit Van Rensburg se greep te kry, maar het gesien hy wou sy deur oopruk. Van Tonder se gelisensieerde vuurwapen, wat hy gereeld by hom gedra het, was naby die deur.

“Toe hy die vuurwapen in my hand sien, het hy dit probeer gryp,” het Van Tonder gesê. ʼn Skoot het “skielik” afgegaan en Van Rensburg is noodlottig gewond. Van Tonder het gesê hy het polisie vanaf die toneel gebel en metropolisiebeamptes het kort daarna opgedaag.

Hy het aangedui dat hy skuld op ʼn aanklag van moord sal ontken. “Ek is opreg spyt oor die dood van die oorledene, maar het geen bedoeling gehad om hom te skiet nie,” het hy in sy verklaring gesê.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gideon ·

Indien van Tonder die waarheid praat dink ek hy het nie rede tot kommer nie- dit is waansinnig om iemand aan die hare te gryp, en so te probeer slaan! Hy het gesoek daarvoor en ongelukkig was die noodlot teen hom! Jammer dat van Tonder nou met die gebakte pere sit!

Chantelle ·

My eerlike opinie… as iemand my die pad af wys, by my hare trek en my in die gesig slaan is ek baie jammer vir hom maar ek sal hom ook skiet. Dis selfverdediging. Ek was skuldig bevind van padwoede na 100de insidente en moes die prys betaal. Niemand het die reg om iemand anders aan te rand en giggelend weg te stap nie. Eks jammer dat iemand hul lewe moes verloor en dat dit soveel gesinne en vriende raak en beïnvloed. My hart bloei vir altwee families maar wraggies wat dink mens gaan die gevolge wees as jy aangerand word wanneer jy nog agter jou stuurwiel sit. Moet jy maar net daar sit en die houe vat en bloedbelope smile en vir die ou se ‘Lekker dag verder Bud?’. Sterkte aan almal wie geraak word hierdeur xx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.