Saak oor sypaadjie-groentetuin teruggetrek

Joe Nkuna staan by sy groentetuin. (Foto: Facebook)

Die Tshwane-metropolisie (TMPD) het sy saak teen Joe Nkuna, ʼn inwoner van Pretoria-Noord wat met R1 500 beboet is oor die groentetuin op die sypaadjie voor sy huis, laat vaar.

Dít nadat Nkuna geweier het om die boete te betaal en van voorneme was om dit in ʼn hof te betwis.

Nkuna sê in ʼn inskrywing op Facebook hy het intussen ʼn brief van die direkteur van die munisipale hof ontvang waarin hy ingelig is dat die saak laat vaar is.

“Dit volg nadat ek my vertoë op 28 September ingedien het. Daarin het ek aangevoer dat daar geen saak teen my is nie en dat ek geen munisipale regulasies verbreek het deur eerder kool en uie as gras en rose te plant nie.”

Nkuna se groentetuin het in September die nuus gehaal nadat die Tshwane-metropolisie (TMPD) klagtes oor die groentetuin ontvang het.

Nkuna het ʼn mondelinge waarskuwing gekry omdat hy ʼn sypaadjie versper wat vir voetgangers bedoel is. Hy is versoek om aan die nodige regulasies te voldoen. Hy het egter nie daarop gereageer nie, waarna hy die boete opgelê is.

Nkuna het volgehou dat sy erf nie ʼn openbare ruimte en gerief is nie en die metropolisie van magsmisbruik beskuldig.

“Die koolsage was ʼn betreurenswaardige gebeurtenis wat ʼn diep traumatiese letsel op my en my gesin gelaat het – fisiek, emosioneel en geestelik.

“Ek is ʼn patriot en ʼn wetsgehoorsame burger.”

Nkuna sê voorts die TMPD en die Stad Tshwane se burgemeesterskantoor se mislukte poging om hom as “ʼn skelm en ʼn rampokker” uit te beeld, “maak seer”.

“My gesin is geteister, geviktimiseer, belaster en mishandel … Ek kon dagvaar, ʼn bohaai opskop en betaal word. Maar dit is nie ek nie. Ek hoop dat al die partye lesse uit hierdie sage geleer het.

“Ek hoop daar is herbesinning en ʼn nuwe manier van hoe ons openbare stedelike ruimtes kan inspan om hongerte te beveg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Rein ·

Lyk my die regulasies moet opdateer word! Sypaadjies is publieke loop area. Enigiets wat dit belemmer en persone in die verkeer op die pad dwing behoort onwettig te wees, of dit nou kool, klippe, aalwyne of iets is! Aangrensende eienaar behoort, volgens regulasie, aanspreeklik te wees om die Sypaadjie skoon, netjies en loopbaan te hou.

groenboer ·

Ja, die stadsraad se saak hier is nie sonder enige meriete nie. Ek gaan stap gereeld in die oggende, en is dikwels gefrustreer omdat daar in baie areas doodeenvoudig nie sypaadjies is nie – ons het hier in SA gedagteloos die Amerikaanse model ingevoer, en maak asof almal voertuie het en niemand in oefening belangstel nie.

Maar die saak is straks ook onnodig geëskaleer: hulle moes hom dalk bloot verplig het om plek te maak vir voetgangers, en verder nie ‘n bohaai gemaak het oor die groente as sulks nie. Hy is op daardie punt heeltemal reg: waarom is kool minder aanvaarbaar as rose of gras?

Pieter ·

Waar kry jy sypaadjies in gegoede woonbuurtes waar jy kan loop. Nêrens.

Johan ·

En die munisipaliteit het dan die verantwoordelikheid om dit in stand te hou, wat hulle sedert die tagtiger jare nie meer gedoen het nie. Die huiseienaars is toe toegelaat om in stand te hou en mag dit versier, op die voorwaarde dat wanneer die munisipaliteit dienste moet oopgrawe, die munisipaliteit nie verantwoordelik vir enige landskapering wat die huiseienaar op die sypaadjie sou gedoen het nie.
Hierdie man doen iets positiefs, al is dit nie na jou sin of smaak nie. Hy het verseker my ondersteuning

Karlahari ·

Die engels vir sypaadjie is “side walk”.
Dus vir voetgangers se gebruik.
As n motoris nou ‘n voetganger hier in die pad sou raak-ry, wie sou wetlik verantwoordelik gehou word?

Wonder ·

En dan kry mens mense wat klippe pak sodat daar ook nie geloop kan word nie

Phumba ·

Wel gedaan Nkuna.

Die sypaadjies word in elk geval nie deur voetgangers benut nie.

Frank John ·

As ons nie op ons sypaaitjies kan tuin maak nie, wat eintlik munisipaliteit se werk is om te onderhou, dan moet hulle dit doen. Maar die geld daarvoor het iewers verdwyn. Nou as ons dit netjies hou behoort hulle ons te bedank nie beboet nie.

Pieter ·

Munisipaliteite het nog nooit op jou sypaadjie tuin gemaak en gras gesny nie. En ek praat van donkie jare terug.

Suzette ·

Ditto. Hier stem ek volkome saam. Hoe kan een mens so briljante idee hê en dit uitvoer en dan kom ander en maak dit af as ‘n krimenele daad af. Daar is so verskriklike klomp honger mae, dat hul gerus liewer ander inwoners kan aanmoedig om sy voorbeeld te volg.

Hasie ·

80% van die tyd loop mense in die straat en nie op sypaadjies nie . Dit agv swartsakke vol vuilgooed wat die sypaadjie toestaan en of bou rommel wat daar lê en of vuilgoed wat uit swartsakke gegooi is deur vodderappers. En dan parkeer baie mense hul voertuie op sypaadjies.Daarby vererg baie huiseienaars hul as hul honde blaf vir jou omdat jy op die sypaadjie verby hul huis loop vroeg in die oggende .Ek loop al 6 maande lank werk toe en verkies om nie op die sypaadjies te loop nie ,ek was nog nooit in gevaar om deur voertuig raak gery te word nie . So hoed af vir die man hy verdien ‘n Bells . Baie kan by hom leer.

twaalfboor ·

Net so Amanda. My punt ook. Dis net ñ oop stuk munisipale grond….. geen sypaadjie of “side walk” nie.

piet ·

Waar’s die sypaadjie vir voetgangers? Lyk meer soos deel van sy erf. As daar wel ‘n behoorlike sypaadjie was en hy het dit byvoorbeeld opgebreek dan sal dit ‘n probleem wees. Vir my lyk dit nie asof dit in die eerste plek ooit bedoel was vir voetgangers om daar te loop nie. Daar’s baie huise wat nie ‘n sypaadjie voor het nie. In laasgenoemde gevalle loop die persoon se erf (gewoonlik grasperk) tot teenaan die randsteen aan die pad. Dit lyk vir my asof dit die geval hier is. Hulle het seker gedink dat die muur die grenslyn is van sy erf wat natuurlik nie in hierdie geval so is nie.

annie ·

Aai mense, die familie is erg getraumatiseer deur blote maplottery. Laat dit vir ons ‘n les wees. Met vleis-, kaas- en mieliemeel-pryse prima dink ek aan ‘n paar boerbokkies tussen my lappie mielies, koring en rys (waar die waterpyp hoeka lek) met ‘n grondjie nog oop vir wanner die munisipaliste cannabis vereenknie. My stalletjie vol lekkertes maak binnekort oop na deeske verligting. Kyk uit vir die sinkplaatdakkie met sy twee groot rooi pampoene, ok met side-talk-gardening-stress bemes.

piet ·

Hoe stap jy op so ‘n skuins “sypaadjie”? Lyk gevaarlik.

Samuel ·

Mnr. Nkuna het niks verkeerd gedoen nie. Hier in Kaapstad is ook sommige plekke waar groentetuine op sypaadjies is. Daar waar die munisipaliteit in elkgeval niks doen nie. Voetgangers maak baie min van sypaadjies gebruik.

piet ·

As jy baie stap soos ek, word sypaadjies baie gebruik anders stap jy in die pad (party mense se honde gaan so mal aan dat mens somtyds in die pad stap van versigtigheid) .

Waarnemer ·

Die man het n goeie idee maar ek moet ongelukkig se dat die sypaadjie gedeelte nie deel van sy erf is nie….hy moet tog duidelik n plan he van die omvang van sy erf,maar nietemin,hy kan darem sorg vir n paar hongeriges in sy buurt.Die metropolisie wou in elk geval net gehad het dat hy hulle n paar rand se omkoopgeld in die sak stop.Die R1500.00 was nooit werklik ter sprake nie….Doet zo voort mnr Nkuna.

Antoinette ·

Doen so voort Nkuna. Jy is n voorbeeld vir baie van ons om eerder die sypaadjies in groente tuine te omskep as dat die vuilgoed muur hoogte groei. Glo jou sypaadjie het al baie magies vol gemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.