Saak teen Valke-hoës voorlopig laat vaar

Shadrack Sibiya, voormalige Gautengse hoof van die Valke. Foto: Brenda Masilela/ANA

Aanklagte teen Anwa Dramat, voormalige nasionale hoof van die Valke, en Shadrack Sibiya, voormalige Gautengse hoof van die Valke, is voorlopig teruggetrek.

Die aanklagte teen dié twee het verband gehou met die beweerde onwettige uitlewering van verskeie Zimbabwiërs in 2010. Die aanklagte is Maandag in die hooggeregshof in Pretoria teruggetrek.

Lt.kol. Lesley Maluleke, voormalige polisie‑ondersoeker, word steeds aangekla.

Dramat, Sibiya en Maluleke is in 2016 aangekla. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle Zimbabwiese vlugtelinge onwettig aan die polisie in dié Afrika-land oorhandig het. Die Zimbabwiërs was gesoek vir die moord op ʼn toppolisieman in Zimbabwe.

Die aanklagte teen Dramat, Sibiya en Maluleke het sewe aanklagte van ontvoering, dwarsboming van die gereg en oortreding van die wet op immigrasie ingesluit.

Sibiya het na afloop van die hofverrigtinge gesê hy is teleurgesteld dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit het om die aanklagte teen hom voorlopig terug te trek. “Daar is geen bewyse om met ons vervolging voort te gaan nie, so ek weet nie hoekom is dit net voorlopig teruggetrek nie,” het hy gesê.

Volgens hom sou hy tevrede wees indien die aanklagte permanent teruggetrek is. Hy het gefrustreerd gelyk oor die manier waarop die saak hanteer word en gesê hy het sy werk oor die saak verloor en skuld nog sy regsverteenwoordigers geld.

“Ek sê steeds, daar is geen bewyse teen my en genl. Dramat nie. Daar is geen saak nie. Hulle sit met ʼn dossier met vals bewyse in. Ek sê julle nou, die staat sal nie voortgaan met ʼn saak teen my en [Dramat] nie,” het Sibiya gesê.

Sibiya is nou die hoof van die teenkorrupsie-eenheid vir die Stad Johannesburg.

Moses Dlamini, woordvoerder van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), het gesê die NVG se besluit is ʼn bevestiging van die aanbevelings wat hulle in 2015 gemaak het dat Sibiya en Dramat nooit vervolg moes word nie.

Die saak teen Maluleke is tot 12 November uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

alida ·

Soos met al die ander ondersoeke sal daar niks van kom nie. Het net die mense gepaai en ‘n paar ander besig gehou. Wag om te sien of daar enige vervolgings gaan kom na al die “getuisenisse” en “ondersoeke”.

Marius ·

Dit was alles ‘n komplot om Zuma se maaitjies in die posisie te kry so die Valke is ook vrot soos die res.

Ray ·

Shame man kan julle nie sien in die foto hoe onskuldig die man is nie

GN ·

Shadrack, as oud kollega, wonder ek en ander oud DSO lede oor baie kwessies. Jy kan maar net dankbaar wees oor die SAP se totale onbevoegdheid, anders sou jou onderduimsheid lankal gereflekteer het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.