Saak teen voormalige KZN-polisiehoof, omstrede sakeman uitgestel

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni. Foto: SAPD

Die saak van korrupsie en bedrog teen die omstrede Durbanse sakeman Thoshan Panday, die voormalige polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Mmamonnye Ngobeni, en twee ander, is tot Desember uitgestel.

Die Durbanse streekhof het Woensdag die saak tot 17 Desember uitgestel om die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat die geleentheid te gee om magtiging van adv. Shamila Batohi, die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), te kry om ʼn aanklag van rampokkery by die klagstaat te voeg.

Regsverteenwoordigers vir Ngobeni het ’n dokument ingedien wat ook deur Batohi oorweeg sal word. Ngobeni se regspan beweer dit is ’n nolle prosequi-sertifikaat  wat deur adv. Moipone Noko, voormalige direkteur van openbare vervolging in KwaZulu-Natal, onderteken is. Die NVG reik ’n nolle prosequi-sertifikaat uit wanneer hy besluit om iemand nie te vervolg nie.

Thoshan Panday. Foto: http://www.pandagroupsa.com/

Batohi sal ook die voorleggings wat Noko in ’n interne NVG-memorandum oor die saak gedoen het, oorweeg.

Die uitstel van die saak sal die NDOV voldoende geleentheid bied om alle aangeleenthede te oorweeg.

Panday, Ngobeni, die voormalige polisiekaptein Aswin Narainpershad en kol. Navin Madhoe is verlede maand in hegtenis geneem in verband met bewerings van tenderbedrog van R47 miljoen tydens die 2010-Wêreldbekersokkertoernooi. Dit word ook beweer dat destyds gepoog is om ’n polisiebeampte om te koop.

Meer as 200 klagtes staar hulle in die gesig.

Die aanklagte van korrupsie spruit uit beweerde betalings wat Panday gemaak het vir ’n verjaardagpartytjie vir Ngobeni se man. Dit sluit ook omkoopgeld van R2 miljoen in wat glo aan die voormalige hoof van die Valke van KwaZulu-Natal, genl. Johan Booysen, aangebied is om die ondersoek teen Panday en Madhoe te ondermyn.

Dit word beweer dat Madhoe genl. Booysen probeer omkoop het met kontant wat na bewering deur Panday verskaf is om met bewyse te peuter en die ondersoek wat die Valke-baas begin het, in die wiele te ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Persheks Adri ·

O ou Cele se trots die klomp korrupte amptenare! Kry vir jou en mag jy swaar gestraf word. Elke dag al meer uniforms wat aan gekla word pffft. Cele your people man regtig en jy soek meer mag aikona

Androclus ·

Meer as 200 klagtes in die gesig staar,en nog saak uitstel ek dink tronkstraf en geld terug betaal is die beste,ander goed is net vermors van tyd.Daar moet nou aan Ace se skelmstreke aandag gegee word en plaasmoorde.

Suzette ·

Alles word net heeltyd uitgestel!!!!!!!!!!! Ek is OOR dit – rerig. Dis omdat die regstelsel in hierdie land niks werd is nie en ook gekaap is…

Hennie J ·

Lagwekkend. As ek soveel klagtes teen my gehad het, het hulle my in Alcatraz toegesluit en die sleutel weggesmyt.
Die foto van die Cele medewerker is sprekend van hoe minagtend hulle die uniform bejeen.

Androclus ·

Hulle sou my nie eers borg gegee het nie.Lankal in die tronk gesmyt.

My siening ·

Uitstel en uitstel en uitstel tot 2099 dan is die saak en getuies dood. Wat n grap!!

JohanR ·

Soe by watter een van die 200 klagte steek hulle nou vas? This country and it’s law courts are a joke!

gatgogga ·

Uitgestel? Dis nie ‘n vreemde verskynsel nie.
Ons howe werk volgens die resep:
Moet nooit vandag doen wat jy tot more kan uistel nie, en
Moet nooit uitstel tot more, wat jy tot oormore kan uitstel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.