Saak teen Zuma uitgestel

Voormalige pres. Jacob Zuma en Christine Guerrier, ʼn verteenwoordiger van die Franse wapenvervaardiger Thales, in die beskuldigdebank van die hooggeregshof in Durban (6 April 2018). Skermskoot: SABC regstreekse uitsending

Oudpres. Jacob Zuma het Vrydag saam met Christine Guerrier, ʼn verteenwoordiger van die Franse wapenvervaardiger Thales, in die beskuldigdebank van die Durbanse hooggeregshof verskyn.

Zuma het op 16 aanklagte verskyn wat verband hou met die omstrede wapentransaksie van die laat 1990’s met Thales. Zuma word vervolg vir een aanklag van afpersing, twee aanklagte van korrupsie, een van geldwassery en 12 aanklagte van bedrog.

Talle kameras het geflits toe Zuma en Guerrier die hof binnegekom het en die verrigtinge is regstreeks deur die SAUK uitgesaai. Die saak is deur regter Themba Sishi aangehoor.

Adv. Billy Downer vir die staat was eerste aan die woord en het die hof se aandag daarop gevestig dat die saak nie ʼn nuwe saak is nie, maar ʼn voortsetting van ʼn hofsaak wat in 2009 op die hofrol was. Die saak is aanvanklik teruggetrek, maar weer op die hofrol geplaas nadat Shaun Abrahams, die nasionale direkteur van openbare vervolging, vroeër vanjaar besluit het om die aanklagte teen Zuma weer in te stel.

Voormalige pres. Jacob Zuma in die beskuldigdebank van die hooggeregshof in Durban (6 April 2018). Foto: ANA

Downer het aan die hof gesê die staat is wel gereed om met die saak voort te gaan, maar daar is eers ʼn paar kwessies wat afgehandel moet word. Hy het namens die staat onderneem om elektroniese afskrifte van die dossier so gou moontlik aan die verdediging beskikbaar te stel.

Hy het daarna die hof gevra om die saak uit te stel omdat Zuma se regspan van voorneme is om ʼn hersieningsaansoek in te dien om die besluit om hom te vervolg te betwis. Downer het ook gesê na gelang van die uitkoms van die hersieningsaansoek, kan daar dalk verdere hofaansoeke ingedien word.

Downer het aan die hof gesê die verdediging het die staat ingelig dat Zuma se regspan van plan is om die hersieningsaansoek teen die einde van Mei af te handel. Die onderskeie regspanne het dus ooreengekom dat hulle die hof wil versoek om die saak tot Junie uit te stel sodat hierdie kwessies afgehandel kan word.

Downer het ook aan die hof bevestig dat Guerrier in Frankryk woon, maar ingestem het om die hofverrigtinge in Suid-Afrika by te woon. Hy het aan die hof gesê die staat het geen beswaar daarteen dat Guerrier tydens die hofsaak heen en weer tussen Frankryk en Suid-Afrika reis nie.

Sishi het daarna ingestem om die saak uit te stel aangesien die regspanne saamstem oor die verloop van die verrigtinge. Die saak is tot 8 Junie uitgestel en Zuma en Guerrier is op waarskuwing vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Siek en sat ·

So sal dit ook vir die volgende klomp jare aangaan. Skotvry. Skelm is mos great in Suid Afrika.

wielie ·

hahahahahaha !!! wel die “dansers ” kon darm opwarm vir die volgende sessie.
SA score nog punte vir verkeersontwrigting, mense wat nie werk toe gaan en gaos ini strate ……….. man what a great day it is !

Willie ·

Groot surkus, die staat verdedig hom en betaal, en die staat vervolg hom… Hier gaan niks van kom nie…

JanVonZulle ·

Hier gaan ons. Almal is (gewillig) op die rondomtalie. As kind het ons in die speelpark gekyk wie die langste kan uithou. Dit was gewoontlik die een wat die wiel stoot wat eerste moeg word of dronk in die kop word en uitval. Dié binne die wiel knyp net oë toe totdat die wiel gaan staan dan is als verby

Penellope Jones ·

Vir die eerste keer van sekerlik baie “uitstellings”. . . .

Cherokee ·

Wat ‘n anti-klimaks. Duisende betogers vergader in die strate en veroorsaak verkoorsontwrigting, deur te protesteer teen Zuma se vervolging, net om minute nadat hofproses begin het, uit te vind die saak is uitgestel. Dat hulle maar hul sirkus kan opbreek. Die mense wat hier kommintaar lewer dat ‘niks gaan gebeur nie ‘en daar niks van gaan kom nie, kan gerus volgende keer die betogers kom toespreek en verduidelik dat hulle maar kan ophou betoog en dat hulle onnodig bekommerd is. Dan sal dit dalk help om die stad sy normale gang te laat gaan.

Koekoeslandvark@Never_A_Dull_Moment_In_SA.zar ·

Leef ons in Animal Farm Koekoesland? Moet ek lag of huil?

LouE ·

Hy lyk vir my pragtig daar in die beskuldigde bank – gemaklik en tuis.

Casper Labuschagne ·

Miskien is dit beter om dinge op ‘n Afrika manier te doen. ‘n Plaaslike grootkop in COPE sê nou die dag die volgende: Moet Zuma glad nie vervolg nie en traak al die sake teen hom terug mits Zuma terugkeer na Nkandla en daar sal bly. Op Nkandla kan Zuma, wat vir goeie rede in vrees lewe om doodgemaak te word, vir alles betaal insluitende sy nodige lyfwagte wat hy ook nie sal kan bekostig nie.

Dalk ‘n beter oplossing.

Rynhardt ·

Hul het sopas op E-tv die massas der massas gewys wat Zuma kom ondersteun het.Dit is duidelik hul weet nie wat aangaan in Zuma-saak nie,daarom die groot ondersteuning!Zuma het gese:”Saak is polities gemotiveerd teen my!”Baie dinge gaan nog uitkom in hofsaak wat Anc met rooi gesigte gaan laat sit,maar dit gaan ook die groot verdeeldheid en bakleiery laat uitbring tussen die twee erg verdeelde groepe binne in Anc! Carl Nieuhaus het duidelik sy steun vir Zuma uitgespreek en gese:”Hy(Zuma) is een van die beste presidente wat die land ooit opgelewer het,hy het hom altyd ontferm oor die armes!”Duidelik weet Nieuhaus ook nie waarom Zuma-saak gaan nie!As hy geweet het,dan sou hy besef het dat Zuma as president destyds sy eie belange eerste gestel het voor die armes!Oor 2maande begin die Zuma-sirkus weer met baie kinkel en kabels!???????????????????

zoom zoom ·

Hoekom het Shaun Abrahams vooraf met zuma ge wharra wharra
Daar was dit reeds besluit dst zumaoet vra vir uitstel en ook dat hy appel moet aanteken. Zuma is untouchable en die hele gereg is bang vir hom. Selfs CR is te lig om iets te doen aan die korrupsie in ons land wamt hy het genoeg geld

Cherokee ·

Heeltemal reg zoom zoom, wanneer jy sê dat Shaun Abrahams gewharra wharra het met Zuma voor die tyd. Abrahams is in soort van skaak-posisie omdat hy veg om sy eie pos te behou en dit is nie almal zuma-aanhangers wat hom wil uitskop. Hy probeer wys dat hy vir reg en geregtigheid is terwyl (meeeste in) die land anders dink. En soos jy sê, Ramapokker is te lig om die land uit ‘n korrupsienetwerk te lig.

At ·

Die regstelsel van SA moet hulself voor die hof daag…sal ‘n kersies plaas op hul sirkustent.

Alida ·

Die uitsteldatum moet GLADNIE bekend gemaak word nie. Sodoende kan die duisende “aanhangers” aangaan met hulle daaglikse werk en die verkeer kan normaal beweeg. Hoekom so’n helse bekendmaking. Agter alles is ‘n uitstel onnodig want hierdie gemors gaan al jare aan.

Helene Heyns ·

Ek wonder of hy darem net so n klein bietjie skaam kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.