Saak teen Zuma wéér uitgestel

Oudpres. Jacob Zuma het net vlugtig in die hof verskyn. (Foto: ANA)

Oudpres. Jacob Zuma het toe nié Dinsdag sy eerste langverwagte dag in die hof gekry nie.

Sy verhoor is vandag wéér uitgestel – dié keer na 4 Februarie aanstaande jaar. Die aanvanklike klag teen hom is reeds sowat 14 jaar gelede aanhangig gemaak.

Die saak is uitgestel omdat Zuma se regspan beoog om te appelleer teen ʼn besluit verlede week dat sy vervolging nié permanent gestaak moet word nie. Die staat wil op sy beurt dié appèl teenstaan.

Die oudpresident staan tereg op aanklagte van korrupsie, geldwassery en rampokkery wat dateer van 1999, toe Suid-Afrika sy omstrede wapentransaksie aangegaan het. Zuma word daarvan beskuldig dat hy omkoopgeld van die Franse wapenvervaardiger Thales ontvang het deur sy voormalige finansiële raadgewer, Shabir Schaik. Shaik is in 2005 al aan korrupsie skuldig bevind.

Zuma het tot die einde van vandeesmaand om teen die hooggeregshofbeslissing te appelleer. Die hof het bevind die aanklagte teen hom is ernstig, terwyl die oudpresident aangevoer het die saak teen hom sloer al hopeloos te lank en dat daar boonop politieke inmenging was.

Hy ontken skuld op al die aanklagte.

Oudpres. Jacob Zuma in die beskuldigdebank. (Foto: Michele Spatari/ AP)

Zuma was van 2009 tot 2018 president. Die ANC het hom verlede jaar uit sy pos geskop te midde van onverwante bewerings van korrupsie wat met die omstrede Gupta-familie verband hou. Die Amerikaanse departement van finansies het verlede week die drie Gupta-broers op ʼn swartlys geplaas.

Die sogenaamde staatskapingskandaal het opslae gemaak en die regerende ANC-party se beeld groot skade berokken. Die bewerings het ook groot skade aan die ekonomie berokken en beleggersvertroue in die land is geknou.

Senior staatsaanklaer, adv. Billy Downer SC, het gesê die staat was nog deurlopend gereed om met die verhoor voort te gaan en dat dit steeds die geval is.

Zuma het vandag net vlugtig in die hof verskyn en ʼn groot polisieteenwoordigheid is binne én buite die hof gehandhaaf. ʼn Verhoog is ook buite die hof opgerig waar Zuma glo later sy ondersteuners sou toespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Alex ·

Hy kan maar systap so veel hy wil, waarheen hy op pad is, is daar nie uitstel of afstel nie.

Ja Ne ·

Die man het die volgende uitdrukking nie in Zim geleer nie.
Die spreekwoord se: Van uitstel kom afstel.
Sterkte, hy Zoem Zoem met die regstelsel se slap….e.

colleen ·

Speel weer vir tyd. Koop solang 200m oranje materiaal vir die pajamas.

Johan ·

Ek kan my hande saam saamslaan oor hoe Mister Z dit regkry om die die regstelsel nou al vir jare te ontduik! Is die regstelsel werklik só onbeholpe of speel almal saam?

Tessa ·

Regstelsel ek ruik n rot. Wat is jul agenda kry kla met saak en al die ander jul mors ons geld. Hul moet al die geld terug betaal en toegesluit word.

Suzette Geringer ·

Hoekom word die uitstel elke keer toegelaat !!! Dit is belaglik. Dit sloer nou al 14 jaar – almal weet dat hierdie vertragingstaktiek is – Kry dit nou asseblief oor en verby. Die parasiet gaan voort om belastingbetalers se geld te vermors!!!

Se maar net ·

Agggggg. Dit is nie eers meer die moeite werd om iets oor hom of sy korrupte alie te rapporteer aan die publiek nie.ons weet hy gaan nooit boet vir sy dade nie so hoekom moet hy alewig in ons kele afgewurg word. Voel of ons lewenslank gevonnis is om sy naam in walging aan te hoor tot in ewigheid.

Geregtigheid ·

Te midde van n “groot polisie teenwoordigheid binne en buite die hof.” Het die polisie niks beter om te doen nie, waarvoor die oordrewe polisie beskerming? Zoempie het mos sy eie veiligheids mag, of was dit nog altyd die polisie. Nee dis waarvoor ons belasting betaal om mede beskuldiges van reeds veroordeeelde kriminele te beskerm. Hy is mos nie meer die presedent nie. Laat hom nes Schaik, op sy eie stoom by die hof aankom. En bring tog n ambulans saam want die arme man is siek.

Johan ·

Zuma sal absoluut niks oorkom nie, die dag toe die klagte teen hom ingedien is, was al besluit hy is n engeltjie wat niks verkeerd gedoen het nie, en so sal dit uitspeel.

Mb ·

Gaan hy nie ook vir die staatskaping saam met die Gutas aangeklae word nie? Of staan hy net
vir die wapentransaksie?

Peet ·

Ag nee. Sake kan vinniger afgehandel word. Kyk nou die saak Etsebeth. Aangekla, verhoor en gevonnis, tjoef tjaf.
Dis vir dié rede dat ons land al dieper in die moeras sink. Wat se kans het ons om mr Buffel se R500 miljaart terug te kry en skuldiges aan pen te laat ry laat veroordeel.

Kan nie wag nie ·

Sien so uit na die opskrif: Zuma in hegtenis geneem. Hoop net dit gebeur… Kan al sien hoe die rand sommer verstewig net na dit.

koos ·

JZ, die sloer met die saak is aan JOU toedoen!
Hy sal nog seker Nkandla ‘n nog ‘n rukkie wil geniet.

Jerry ·

Beide Zuma en Cyril weet hoe om vir tyd te speel in die hoop dat sake verjaar of iets opduik wat in hulle guns kan tel!

SjN ·

Hul wag vir die dr om sy terminale siekte verslag te voltooi.

Jo B ·

As hulle die ou bogger 14jaar terug vasgevat het was ons land nie nou in so groot gemors nie. “Toooo late for tears”

Erich ·

Niks hiervan gaan ooit gebeur nie. Daar gaan geen verhoor ooit wees nie. En ek stem saam, al gebeur die hofsaak en hy word skuldig bevind geen tronkstraf agv ouderdom en terminale siekte waaraan hy ly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.