Saak uitgestel teen oud-Recce se vermeende moordenaars

Terence Tegg, ‘n veiligheidspesialis, is een van die slagoffers van die geweld deur stakende Clover-werkers. (Foto: Facebook)

Die twee mans wat beskuldig word van die moord op ʼn oud-Recce, asook die poging tot moord op een van sy kollegas tydens ʼn gewelddadige staking by Clover, se aansoek om borgtog is Woensdag uitgestel.

Terence Tegg, wat vir die private veiligheidsmaatskappy PPS gewerk het, is vermoor toe stakende Clover-werkers hom en sy kollegas met klippe bestook het.

JJ Cassanga, ʼn veiligheidswag, het ernstige beserings tydens die aanval opgedoen, maar is intussen uit die hospitaal ontslaan.

Die burgerregteorganisasie AfriForum staan Tegg en Cassanga se geliefdes by om te verseker dat die saak die nodige aandag geniet.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die beskuldigdes se aansoek is op versoek van die verdediging in die Tembisa-landdroshof tot volgende week uitgestel.

Die uitstel volg nadat die beskuldigdes se regsverteenwoordigers aanvanklik vandag die borgtogaansoek sou bring, maar later aangedui het dat hulle nie gereed is om voort te gaan nie, omdat hulle eers vroeër die dag daarvan bewus gemaak is dat bykomende aanklagte – onder meer kwaadwillige saakbeskadiging en roof – tot die klagstaat gevoeg is.

Dié aanklagte is bygevoeg nadat dit aan die lig gekom het dat die twee verdagtes na bewering Tegg en Cassanga se vuurwapens ná die aanval gebuit het. Die verdagte het glo ook Tegg se beursie gesteel.

Die vuurwapens is na bewering nog nie teruggevind nie.

“Ons sal voortgaan om Tegg en Cassanga se geliefdes by te staan, asook om saam met die ondersoekbeampte en Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te werk om te verseker dat geregtigheid geskied,” sê Nel.

“Hierdie was ʼn brutale aanval op persone wat bloot hulle werk wou doen. Die vermeende aanvallers, deur deel te neem aan die ongemagtigde staking, het geen respek vir die reg gewys nie en in die proses het hulle vir Tegg vermoor, Cassanga ernstig beseer en hulle van hul vuurwapens beroof.”

Die staking het in November verlede jaar by sowat tien van Clover se aanlegte landwyd begin en die maatskappy se produksie erg ontwrig. Werkers eis dat die maatskappy afleggings en salarisbesnoeiings opskort.

ʼn Ander Clover-veiligheidswag, Tsephe Molatsi, is reeds in Januarie dood toe hy ʼn Clover-afleweringsvoertuig teen stakende werkers wou beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Di ·

Hoop die gemors kry lewenslank! Hierdie kriminele moet uit die samelweing uit verwyder word – VIR LANK

Marius ·

Dit is ‘n skreiende skandelik dat ‘n privaat organisasie moet kyk dat die staat sy werk doen.

Namgrl ·

my mening, daar was tog nie net 2 aanvallers nie, wat het met die res gebeur?

Jacobus ·

Dankie Afriforum vir julle hulp, sonder julle sal hier baie misdadige terroriste vervolging vryspring.

Sarie ·

30 jaar gelede sou so iets nie gebeur het nie. 40 jaar gelede sou dit nie eers aan gedink wees nie

Pierre ·

Maklik, sluit mpy se deure en los die hele lot sonder werk.

capie ·

Die tragiese is dat as die wagte hulself probeer verdedig het, hulle lank in die tronk sou wees. Wat ek nog wil bysê, sal geen mediahuis publiseer nie.

MakersMark ·

Die gemors wat hom vermoor het sou soos honde voor hom gevlug het as hy gewapen was en nie vasgekeer was nie. Honderd saam nie die selfde kwaliteit man as Terence nie.

MakersMark ·

Sluit maatskappye se deure. Binnekort is die UN se kostrokkies hier met sakke mieliemeel en deel ‘n daaglikse koppie droë meel uit aan die vlieg oortrekte hongeres. Dan kan kolionalisme daarvoor ook blameer word. Geen hoop vir die vasteland nie.

Nico ·

Dit is swak van die ondersoek beampte wat beteken die woord ‘na bewering’ wees reguit en sê die wapens is nog nie op gespoor nie. Die saak moet beter ondersoek word.

Di ·

Vandat UNIES in die land gestig is, het verwoesting, moord, en vernietiging van eiendom oorgeneem tydens optogte. UNIES is die GROOTSTE EUWEL naas TAXIS in die land!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.