Saak uitgestel teen vermeende Bosasa-konkelaars

Voormalige Bosasa-amptenare het Woensdag vlugtig in die handelshof in Pretoria verskyn, waar die saak teen hulle tot Julie uitgestel is. Die uitstel is hangende die uitslag van Bosasa (nou African Global Operations) se aansoek om likwidasie in die appèlhof.

Linda Mti, voormalige hoof van korrektiewe dienste (DKD), Angelo Agrizzi, oudbedryfshoof van Bosasa, en vier ander word almal aangekla van bedrog en korrupsie. Agrizzi en voormalige Bosasa-werkers Andries van Tonder, Frans Vorster, Carlos Bonifacio en oud-DKD-amptenare Patrick Gillingham en Mti is almal in Februarie op borgtog van R20 000 elk vrygelaat.

Hulle inhegtenisnemings het gevolg op verdoemende getuienis van beweerde korrupsie by die DKD, wat voor die kommissie van ondersoek oor staatskaping gelewer is.

Die Valke, die polisie se spesialisondersoekeenheid, voer aan die aanklagte hou verband met tenders wat die departement aan Bosasa toegeken het. Die Valke se ondersoek het bevind nagenoeg R1,6 miljard is misbruik in die departement se verkryging van dienste. Die beskuldigdes is glo omgekoop met kontant, eiendomme, voertuie en ander bates. Hulle is na bewering ook vir oorsese vakansies betaal.

Bosasa het glo Mti en Gillingham se huise vir hulle gebou, terwyl Gillingham na bewering voertuie vir homself, sy vrou en kinders by die maatskappy gekry het. Hy het glo meer as R100 000 per maand by Bosasa ontvang. Mti het maandeliks glo nagenoeg R64 000 van Bosasa in sy sak gesteek.

Agrizzi sal na verwagting sy getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek voortsit. Hy het vantevore getuig hoe hy en nog ander kollegas met verskeie staatsamptenare en politici saamgespan het om winsgewende kontrakte by die staat los te slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johann cb ·

Het die fluitjieblasers gedink hulle gaan vervolging vryspring?

Sarel ·

Speel vir tyd. Na verkiesing word klagtes terug getrek en persoon bevorder

Alida ·

Ek het geweet dit is ‘n mors van tyd en geld. Na die verkiesing is ALLES vergete en die show gaan aan.

Wonder net ·

Hulle is almal Bosasa amptenare wat deur korupsie verryk is.
Waar is die ouens wat die tenders aan hulle toegeken het?

jakes ·

Jammer dat ek nie vir Gavin Watson geken het, ek kon dalk n goeie meevaller of 2 by hom kry wat genoeg kon wees om my in staat te kon stel om uit hierdie muishond van n land te emigreer .

J ·

Net jammer dat mense wat deur fluitjieblasers genoem is aangaan asof daar niks verkeerd is nie, moet hierdie fluitjie blasers beter behandel, of afslag op hul strawwe gee, dit sal maak dat meer mense vorendag kom

Stripes ·

Hoekom nog tyd mors, laat hulle sommer nou al loop. Uitgestel sodat daar van dit vergeet moet word of van getuienis ontslae kan geraak kan word. Van uitstel kom afstel. Die korrupte anc kan niks verkeerd doen nie, al pleeg hulle ook moord.

Hennie ·

Wonder waar is die Watson dat hulle nie gearresteer is nie? Dalk ook in Dudu baai?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.