Saartjie Baartman-gedenkteken geskend

Die Saartjie Baartman-gedenkteken voordat dit met wit verf besmeer is. Foto: http://www.sahra.org.za/

Die Saartjie Baartman-gedenkteken voordat dit met wit verf besmeer is. Foto: http://www.sahra.org.za/

Die Saartjie Baartman-gedenkteken in Hankey in die Oos-Kaap is Saterdag met wit verf geskend.

Ao. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die gedenkteken is vermoedelik rondom 12:00 Saterdagmiddag gevandaliseer. Aanklagte van opsetlike saakbeskadiging en oortreding van die Nasionale Erfeniswet is aanhangig gemaak. Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.

Swart kon nie bevestig of hierdie geval verband hou met verskeie insidente oor die afgelope paar weke waar nasionale monumente deur vandale geskend is nie. Standbeelde wat onlangs onder vandale deurgeloop het, sluit in dié van Paul Kruger op Kerkplein in Pretoria, dié van koningin Victoria en die perdegedenkbeeld in Port Elizabeth in die Oos-Kaap, dié van Andrew Murray in Wellington in die Wes-Kaap, en dié van Louis Botha voor die parlement in Kaapstad en Mahatma Ghandi in Johannesburg.

Baartman was ʼn Khoi-vrou wat in 1810 na Europa geneem en uitgestal is omdat Europeërs deur haar groot agterstewe en velkleur gefassineer was. Ná haar dood is haar liggaam vir wetenskaplike en mediese navorsing gebruik voor haar oorskot uiteindelik in 2002 na Suid-Afrika teruggebring is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Griki ·

Oeps, iemand wat sy geskiedenistoets gedop het was seker onder die indruk dat Saartjie ‘n wit vrou was.

clipes ·

Haar gedenksteen hoort hier sy is deel van die inheemse volk en dit is die enigigste ware suid afirikaners in suid afrika

Eliza-beth ·

Hoe infantiel is sulke optredes tog ai!! Mens bereik absoluut niks met sulke onnosel gedrag nie. Mense moet ophou daal na ander se vlak en wys ons is beter!

jaycee ·

Is hierdie beskadiging van stand- en gedenkbeelde net ‘n verfoeilike manier waarop mense hulle frustrasies uitleef, of is dit miskien deel van ‘n groter en georkestreerde veldtog teen wat ook al? Wat vir my soos ‘n paal bo water uitstaan is dat elk van hierdie dade net teenreaksie sal uitlok en kan oorspoel na ander geweldadige optrede waar aggressie nie teen beelde nie maar teen ander mense gerig sal word. Dit is duidelik dat die ANC-regering nie ‘n benul het van hoe om ‘n multi-kulturele en veelrassige SA te regeer nie want in hierdie opsig het dinge die afgelope 20 jaar (!) net versleg, in pleks daarvan om te verbeter. Dit was inderwaarheid hierdie vooruitsig op vrede en verdere vooruitgang wat my JA laat stem het vir 1994. Maar die realiteit is dat ons Ja-stemmers soos ‘n geblinddoekte man in ‘n doringbos ingehardloop het. Ellende en konflik het op SA gewag en dit word net erger. En met ‘n “demokratiese diktatuur” in plek lyk dit of denkende en beskaafde landsburgers nie veel kan doen om die tragedie te beredder nie. Ons land het varkkos geword.

Neptunus ·

Ja-stemmers het soos geblinddoekte mense opgetree… WERKLIK? Komaan Jaycee, jy weet mos nou jy jok skaamteloos, sies! Jy ken die gesegde “Niemand is so blind soos hy wat nie wil sien nie”. Dis ‘n meer eerlike beskrywing van hoe julle Ja-stemmers was, en steeds is in jou geval.

Het jy werklik nie voor 1992 se referendum ooit gehoor wat gebeur het in die Kongo, Zanzibar of Algerië nie? Of die moeite gedoen om iets van Afrika se geskiedenis te wete te kom nie?

Julle het ons in hierdie gemors ingekry. Doen nou die eerbare ding, en onderneem dat julle Ja-stemmers sal aanbly in ons Reënboogland, ten minste solank daar nog enige lewendige Nee-stemmers in die plek oor is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.