SAB begin miljoene liter bier stort

(Argieffoto)

SAB het reeds begin om 6,5 miljoen liter bier te stort nadat geen ooreenkoms nog met die regering bereik kon word oor die vervoer van alkohol tydens die landwye staat van algehele afsondering nie. Dit is nagenoeg 20 miljoen bottels bier.

SAB het in dié stadium sowat 132 miljoen liter bier – oftewel sowat 400 miljoen bottels – wat klaar gebrou is en in tenks lê. ʼn Brouery kan net ʼn sekere hoeveelheid gebroude bier stoor. Wanneer dié hoeveelheid bereik word, moet die bier na ʼn stoorfasiliteit geskuif word.

Dit is dié verskuiwing wat tans nie toegelaat word nie, het Zoleka Lisa, SAB se adjunkpresident vir korporatiewe sake, Vrydag gesê.

Dit is onduidelik hoekom dit nie toegelaat word nie, omdat die vervoer van wyn vir uitvoerdoeleindes wél ingevolge die afsonderingsregulasies toegelaat word.

Die afstand wat SAB wil aflê om die bier van sy brouery na een van sy bergingsfasiliteite te vervoer, is ongeveer 500 m, het Lisa gesê.

Volgens haar het SAB drie dae kennisgewing voor die afsonderingstydperk gekry om sy bedrywighede tot stilstand te begin bring. In daardie stadium was daar reeds miljoene liter bier in die brouproses. Die proses kan nie summier gestaak word nie en die klaar gebroude bier moet nou verskuif word – óf dit moet gestort word.

“As ons die bier moet weggooi gaan dit ons naastenby vier maande neem om weer ons volle kapasiteit te bereik, omdat daar ʼn spesifieke proses is wat gevolg moet word om die bier te stort.

SAB het op 23 Maart reeds opgehou om enige nuwe bier te brou. Net minder as twee weke later is die verbod op die vervoer van alkohol boonop afgekondig.

“Ons probeer in dié stadium bloot ons voorraad beskerm. Ons vra nie om handel te hervat nie, maar as die vervoer vir uitvoer moontlik is, pleit ons dat dieselfde vervoer vir bergingsdoeleindes toegelaat moet word,” het Lisa gesê.

Sy het gesê SAB het reeds ʼn onderneming gegee dat hy die veilige vervoer van die voorraad sal verseker en alle veiligheidsmaatreëls sal tref om die verspreiding van Covid-19 te voorkom.

Sou al 132 miljoen liter bier eindelik gestort moet word, sal dit ʼn verlies van R150 miljoen in voorraad vir SAB beteken, asook ʼn verlies van R500 miljoen in aksynsbelasting vir die regering.

Lisa het gesê die regering het nog nie terugvoer oor die kwessie gegee nie.

Kenners het intussen gewaarsku dat die verbod op alkohol die bedryf in die hand van misdadigers kan dwing. Sigaretverkope is ingevolge die afsonderingsmaatreëls ook verbode – wat talle mense nou dwing om onwettig sigarette by smokkelaars te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

51 Kommentare

jongste oudste gewildste
Genis

Dis hartseer… die regering het ongelukkig nie n benul hoe hulle maatskappye beinvloed nie.. Moet my nie se hulle kannie mense ransoeneer nie? Sit kwotas in..dis maklik…

Phillip

Wat ‘n tragedie :(

Stefan

Ek sal help, skuif dit maar hier na toe.

Jaco

Hierdie hele lockdown affere begin my nou NAAR MAAK!! Dit was nie die ooreenkoms nie!! Daar is 21 dae van ons gevrae om voor te berei vir dit wat kom en toe NOG twee weke, en dis nou NOG n week later en daar is nie n einde in sig nie!! Ek het geen inkomste al vir twee maande nie en is onder huis ares, al my regte is my ontneem, ek mag nie eens n drankie drink om my te kalmeer nie!!! Oor n maand sal ons nie meer geld oorhê om kos te kan koop nie, en was… Lees meer »

Vettiemaragartos

Ai maar die mense leef heerlik in hulle bubble! Daar word laaaaaaankal met drank gewoeker op die swartmark!!!!