SAB hof toe oor jongste drankverbod

(Argieffoto: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Brouery (SAB) het besluit om hom na die land se howe te wend om die grondwetlikheid van die derde verbod op alkohol te betwis.

Die SAB het Woensdag in ’n verklaring gesê hoewel hy strenger afsonderingsregulasies soos die aandklokreël en kleiner byeenkomste ondersteun in ’n poging om die verspreiding van Covid-19 hok te slaan, hy nie nog ’n verbod op die verkoop van alkohol ondersteun nie.

Die SAB is van mening dat enige verbod, met inbegrip van die huidige verbod op alkohol, “veel verder gaan as wat redelik en nodig is om die verspreiding van die virus te beperk,” lui die verklaring.

Die SAB glo ook dat die verbod op alkohol verskeie regte wat deur die Suid-Afrikaanse Grondwet beskerm word, onwettig beperk.

Dít nadat meer as 165 000 werknemers verlede jaar hul werk kwyt is weens die vorige verbiedinge op alkohol en 100 000 ander in armoede gedompel is. “Ons het gesien hoe groot en klein ondernemings geraak word, miljarde rande aan belasting verlore gegaan het, die opbloei van onwettige handel en die plundering van drankwinkels.”

Die SAB sê regsaksie is in dié stadium sy laaste uitweg om sy werknemers, verskaffers, klante en verbruikers te beskerm.

Die SAB doen intussen ’n beroep op die regering om nou saam met die alkoholbedryf te werk en die verbod so gou as moontlik op te hef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.