SABS-baas bedank ‘skielik’

Garth Strachan bedank as waarnemende hoof van SABS. (Foto: DTI)

Die waarnemende uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) het Donderdag skielik bedank. Die DA het Vrydag in ʼn verklaring gesê die party het van ʼn betroubare bron verneem dat Garth Strachan “skielik” bedank het, ná ʼn uitval met die departement van handel en nywerheid se direkteur-generaal, Lionel October.

Die SABS het Strachan se bedanking aan Maroela Media bevestig, maar wou nie redes vir sy bedanking verskaf nie.

Strachan beklee dié pos sedert Augustus 2018 nadat die voormalige uitvoerende hoof, Boni Mehlomakulu, bedank het. Strachan het voorheen gewerk as adjunk-direkteur-generaal van nywerheidsontwikkeling by die departement van handel en nywerheid.

“Die uitval kom ná die portefeuljekomitee van handel en nywerheid se oorsig oor die SABS die afgelope week. Die komitee het ons ingelig dat die SABS in wese bankrot is en binne die volgende boekjaar sonder geld gaan sit,” sê Dean Macpherson, DA-skaduminster van handel en nywerheid. Volgens Macpherson het October heftig gereageer op ʼn voorstel wat Strachan gemaak het om die situasie by die SABS om te keer, wat ingesluit het die aflegging van personeel en likwidasie van bates.

Maroela Media het in November berig dat die SABS sy International Automotive Task Force- (IATF-)akkreditasie kwyt is weens die nievoldoening aan internasionale standaarde. Groot kliënte soos Toyota Suid-Afrika doen hul standaardtoetsing nou by ander instellings.

“Strachan se vertrek sal sonder twyfel ʼn negatiewe uitwerking hê op uitvoerders wat staatmaak op die SABS vir gehaltebeheer in internasionale markte en ook vir verbruikers wat verwag dat goedere wat die SABS se goedkeuring dra, aan die minimum standaarde vir gesondheid en veiligheid voldoen,” sê Macpherson.

Jodi Scholtz, hoof administrateur van die SABS, het Strachan bedank vir sy waardevolle bydra tot die entiteit en hom sterkte toegewens met dit wat hy in die toekoms aanpak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Niné ·

Hulle gaan nou ook bakhand staan vir n reddingsboei afkomstig uit hardwerkendes se pensioengeld. Kan enige iemand iewers vir my n staatsinstelling wys wat floreer? Net een asb!

Cherokee ·

SA Brouerye (miskien), Niné? O nee, hulle is nie staat nie.

Hond se Baas ·

Net so en dit is groot dik vet rotte in alle kleure en geure.

Nie Verbaas ·

Wonder wat gaan hulle doen as alle fondse waarvan hulle wil ass uitgeput is.

Maria ·

Wie koop nog SABS standaarde? Klugspul en nie toepaslik vir 3de wereld land met ongelooflike werkloosheid. Seker nie alle standaarde nie, net daardie waarmee ek moes werk. Heeltemal ‘overkill’

Eclectus ·

Dis nie SABS standaarde nie maar SANS, Suid-Afrikaanse Nasionale Standaarde. Die SABS is slegs verantwoordelik vir die fisiese skryf, publisering en instandhouding van hierdie standaarde, maar nie vir die inhoud daarvan nie . Inhoud word bepaal deur tegniese kommitees bestaande uit verskeie rolspelers met verteenwoordigers uit die toepaslike nywerheid soos vervaardigers, handelaars, verenigings en owerhede. So as ‘n SANS nie vir jou toepaslik is nie kan jy dit nie voor die deur van die SABS lê nie. Daar is prosesse waar jy kan aansoek doen vir wysigings wat dan deur die kommitee oorweeg sal word, en as jy mooi vra kan jy straks op die kommitee dien.

Willem ·

Wat het die ANC kaders nie opgefoeter nie? Hoe kan ons só aangaan? Hulle het nou net mooi alles wat in hierdie land opgebou is oor naie jare afgebreek.

Louis ·

Die bankrotskap van die SABS behoort nie vir enigeen ‘n verassing te wees nie. Suid-Afrika sluit maar net aan by sy buurlande en ander Afrika entiteite. ‘n Geleidelike proses van agteruitgang.

Sonder die funksionering van die bankrot SABS sal die uitvoere na beskaafde lande ook in gedrang kom, behalwe as dit na ‘n ander Afrikastate uitgevoer word. Nog ‘n terugslag vir die beskaafde wereld en vervaardigers van Suider-Afrika.

Ek neem jou nie kwalik nie Mnr Strachan. Baie van ons het soortgelyke ervaring ervaar. Die gevoel dat ons net nie langer met die leuen van hierdie land kan saamleef nie, verstaan ons baie goed. Sterkte!

HOOP ·

SAL/ESKOM/SAUK/ DENEL/PRASA /STAATS SKAKING /SABS ,nou wonder ons hoekom alles ook inmekaar tuimel in die bou bedryf , wat het ek vergeet en wat is nog oor voor dit klaarpraat is met ons.

Hennie ·

SABS het lankal nie meer ‘n reg op voortbestaan nie. Wie koop nog enigiets met ‘n SABS merk op….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.