Die waarnemende uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) het Donderdag skielik bedank. Die DA het Vrydag in ʼn verklaring gesê die party het van ʼn betroubare bron verneem dat Garth Strachan “skielik” bedank het, ná ʼn uitval met die departement van handel en nywerheid se direkteur-generaal, Lionel October.
Die SABS het Strachan se bedanking aan Maroela Media bevestig, maar wou nie redes vir sy bedanking verskaf nie.
Strachan beklee dié pos sedert Augustus 2018 nadat die voormalige uitvoerende hoof, Boni Mehlomakulu, bedank het. Strachan het voorheen gewerk as adjunk-direkteur-generaal van nywerheidsontwikkeling by die departement van handel en nywerheid.
“Die uitval kom ná die portefeuljekomitee van handel en nywerheid se oorsig oor die SABS die afgelope week. Die komitee het ons ingelig dat die SABS in wese bankrot is en binne die volgende boekjaar sonder geld gaan sit,” sê Dean Macpherson, DA-skaduminster van handel en nywerheid. Volgens Macpherson het October heftig gereageer op ʼn voorstel wat Strachan gemaak het om die situasie by die SABS om te keer, wat ingesluit het die aflegging van personeel en likwidasie van bates.
Maroela Media het in November berig dat die SABS sy International Automotive Task Force- (IATF-)akkreditasie kwyt is weens die nievoldoening aan internasionale standaarde. Groot kliënte soos Toyota Suid-Afrika doen hul standaardtoetsing nou by ander instellings.
“Strachan se vertrek sal sonder twyfel ʼn negatiewe uitwerking hê op uitvoerders wat staatmaak op die SABS vir gehaltebeheer in internasionale markte en ook vir verbruikers wat verwag dat goedere wat die SABS se goedkeuring dra, aan die minimum standaarde vir gesondheid en veiligheid voldoen,” sê Macpherson.
Jodi Scholtz, hoof administrateur van die SABS, het Strachan bedank vir sy waardevolle bydra tot die entiteit en hom sterkte toegewens met dit wat hy in die toekoms aanpak.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
12 Kommentare
Hulle gaan nou ook bakhand staan vir n reddingsboei afkomstig uit hardwerkendes se pensioengeld. Kan enige iemand iewers vir my n staatsinstelling wys wat floreer? Net een asb!
En so spring die rotte van die sinkende skip af……
Wonder wat gaan hulle doen as alle fondse waarvan hulle wil ass uitgeput is.
Wat is n ukieitvoerende hoof Maroela?
Wie koop nog SABS standaarde? Klugspul en nie toepaslik vir 3de wereld land met ongelooflike werkloosheid. Seker nie alle standaarde nie, net daardie waarmee ek moes werk. Heeltemal ‘overkill’