Sacai-matrieks vaar al beter in eindeksamen

skole matrieks matriekeksamen

(Argieffoto: Maroela Media)

Die Suid-Afrikaanse Omvattende Assesseringsinstituut (Sacai) se gr. 12-slaagsyfer staan nou op 76%, ʼn 2%-verbetering op die vorige jaar.

Sacai is een van twee onafhanklike assesseringsliggame in Suid-Afrika wat, benewens die departement van basiese onderwys, die nasionale senior sertifikaat-eksamen assesseer.

Altesame 3 994 gr. 12-kandidate het verlede jaar die instituut se eksamen afgelê, ʼn toename van 36,5% in die getal kandidate wat ʼn jaar tevore ingeskryf het. Altesame 3 399 deeltydse kandidate, 159 kandidate wat die eksamen weer afgelê het en 436 kandidate van onafhanklike skole, het vanjaar deel van die Sacai-groep gevorm.

Uit dié kandidate het 1 114 met universiteitsvrystelling geslaag, 672 het diplomavrystelling gekry en 276 het met ʼn hoër sertifikaat geslaag.

Sacai-kandidate het in die afgelope matriekeksamen ʼn gesamentlike 990 onderskeidings verwerf, ʼn beduidende 195,5%-verbetering op die vorige jaar.

Skye Austin, ʼn leerder van Teneo Education, het met sewe onderskeidings – en die hoogste gemiddeld – die beste van die kandidate gevaar. Nog twee leerders, Roché Honiball van Teneo Education en Elzabé Steenkamp van Impaq, het ook sewe onderskeidings elk ingeoes.

Vyf ander leerders het ses onderskeidings behaal en nog tien leerders het vyf onderskeidings elk behaal.

Die meeste van dié toppresteerders is van Teneo Education, Impaq, Alpha Education, Benhale Academy en die Robertson Logos Christian School.

Afstandsonderrig kan oplossing bied 

“Tuisonderrig stel leerders in staat om hoëgehalte onderrig te ontvang, terwyl hulle steeds die buigsaamheid van hul private lewe behou. Almal is geregtig op goeie onderrig en die kans op ʼn suksesvolle loopbaan en dit is presies wat afstandsonderrig kan bied,” sê Keith Maseko, hoof van Sacai.

Die Covid-19-pandemie het heelwat van die vordering wat in openbare skole gemaak is uitgewis, en daar is ʼn groot behoefte aan gehalte afstandsonderrig. Sacai sê afstandsonderrig is ʼn oplossing vir leerders wat weens finansiële, geografiese of ander redes nie gewone klasse kan bywoon nie.

Voordele sluit in ʼn besparing in tyd, ʼn buigsame leerproses en die akkommodasie van leerders met spesiale behoeftes. Leerders het ook nie nodig om na en van skool te reis om by ʼn les uit te kom nie. Sacai sê een van die groot voordele is boonop die vaslegging van vaardighede soos tydsbestuur, spanwerk, probleemoplossing, kritiese denke, selfmotivering, aanpasbaarheid, kommunikasie en persoonlike groei.

Daar is wel uitdagings. Daar is nie fisieke interaksie met onderwysers en ander leerders nie en sommige leerders kan weens isolasie geestesgesondheidsprobleme ondervind, sê Sacai.

Die instituut het in 2012 tot stand gekom en Sacai sê hy het sedertdien ʼn beduidende rol in die afstandsonderrigsektor gespeel.

“Leerders wat by Sacai geregistreer is, dui dikwels aan dat hulle afstandsonderrig of klein, onafhanklike skole gekies het omdat hulle nie goed by die hoofstroomstelsel ingepas het nie. Daar is heelwat redes hoekom ouers en leerders alternatiewe onderrigopsies soek. Dit sluit in geloof, kultuur, finansies of leerprobleme wat spesiale aandag verg wat nie in die meeste konvensionele klaskamers gebied word nie,” sê Sacai.

Die instelling sê daar was die afgelope paar jaar bemoedigende verbetering in die prestasie van nie net leerders nie, maar ook in die gehalte van die uitsette van die instellings wat by Sacai geregistreer is en ʼn unieke leeromgewing moontlik maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
AW

Baie Geluk.

Jaco

Onthou net, al is dit goeie skole met baie meer dissipline, skryf dié leerders dieselfde eksamenvraestelle as die staatskole. Al dié wonderlike onderskeidings is dus gelyk aan 65-70% van die ou SA se onderwysstandaarde. Dié wat my nie glo nie, moet net na die matriek hersieningsprogramme op DSTV gaan kyk. Ek het al en dis skokkend hoe maklik alles nou is in vergelyking met toe ek in 1985 in matriek was.