Safa verbreek stilte oor Fifa-bewerings

Argieffoto

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) het sy stilte verbreek oor die bewerings dat omkoopgeld van $10 miljoen aan Fifa betaal is sodat Suid-Afrika die 2010-Sokkerwêreldbeker kon aanbied.

Safa voer aan dat geen misdaad gepleeg is nie en het gesê die bewerings is ‘n “valse verhaal” wat daarop gemik is om die land se beeld te skaad. “Die vereniging is bekommerd oor die verhaal wat ontwikkel het rondom sy sterk steun vir die insluiting van die Suid-Afrikaanse regering se Afrika diaspora in die Wêreldbekertoernooi se nalatenskapprojekte, spesifiek in die Karibiese Eilande.”

Volgens Safa is die geld wat aan Concacaf gegee is, deel van ‘n goedgepubliseerde Afrika diaspora-program wat deel gevorm het van die regering se African Renaissance-inisiatief, die breinkind van oudpresident Thabo Mbeki.

“Ons vind dit dus nogal verbasend dat die baie gewilde Afrika Renaissance-program se Afrika diaspora-ondersteuningsprojek as omkoop beskryf word.

“Ons ontken onomwonde dat dit omkoopgeld was in ruil vir stemme. Dit doen afbreuk aan die harde werk wat gedoen is deur Madiba, aartsbiskop Tutu, die Suid-Afrikaanse regering en talle ander wat hul tyd, geld en gesinne se lewens opgeoffer het om ons land trots te maak! Dit doen gewetenlose skade aan hul beeld.”

Volgens Safa impliseer die beeld wat geskets is na die inhegtenisneming van top Fifa-amptenare verkeerdelik dat ondersteuningsprojekte wat met die 2010-Sokkerwêreldbeker verband gehou het, nie destyds gerapporteer is nie en dat regeringsleiers en –beamptes dit slegs nou opper in ‘n poging om enige oortredings te probeer verbloem.

Safa het opmerkings deur Mbeki dat Suid-Afrika die Wêreldbekertoernooi wou aanbied as deel van inisiatiewe deur sy administrasie om die vasteland te bevorder, genoem.

“Dit is nie ‘n droom nie. Dit is ‘n praktiese beleid … die suksesvolle aanbieding van die Wêreldbekersokkertoernooi in Afrika sal ‘n kragtige, onkeerbare momentum aan die Afrika Renaissance verskaf, ” het Mbeki volgens Safa gesê.

Volgens Safa het Fifa op 19 September 2007 vir die Suid-Afrikaanse regering ‘n brief geskryf en sy wens uitgespreek dat Suid-Afrika se bod en die 2010 Fifa-Wêreldbekerprogram ‘n “blywende nalatenskap moet laat vir sokker en die samelewing”.

“In hierdie brief het Fifa die departement van buitelandse sake ingelig oor die stigting van die ‘Win in Africa with Africa’-program en dat Fifa $70 miljoen aan die program toegeken het. Fifa het ook in dieselfde brief die Suid-Afrikaanse regering se voorneme om $10 miljoen vir die Afrika Diaspora-program te bewillig, bevestig. Fifa het ook ingestem om die fonds te administreer deur die Fifa-rekening.”

Safa het gesê hy het kennis geneem van die inhegtenisnemings van senior Fifa-amptenare en dat daar verwys is na die betalings wat aan Concacaf gemaak is.

“Die akte van beskuldiging maak melding van betalings deur Fifa wat op 2 Januarie, 31 Januarie en 7 Maart 2008 aan die Karibiese Voetbalunie en Concacaf gemaak is. Volgens ons kennis het die Suid-Afrikaanse regering nie enige betalings uit staatkoffers gemaak vir die projek nie en is daar gevolglik besluit, in ʼn brief wat op 10 Desember 2007 deur dr. Danny Jordaan aan Fifa geskryf is, dat die geld eerder van die plaaslike reëlingskomitee se begroting gevat en direk aan Concacaf gestuur moet word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

b smit ·

Snaaks ntot die bbc kon die geld na spoor en niks was vir die kastige ontwikeling betaal nie maar was gebruik om van die lede se persoonlike krediet kaarte en skuld te delg

Ben Raubenheimer ·

Daar sleep hul weer vir ou madiba by en wat se blywende voordeel is behaal?

Thys ·

En ou Seppie bedank? Kamstig om nuwe inisiatiewe in die Fifa ligaam te bring? Ek dink eerder dis om ongemaklike vrae te probeer vermy.

Gerhard Bezuidenhout ·

Die ANC moet ophou lieg en mansgenoeg wees om net die waarheid te vertel, dit is al.

Pietie ·

Alles wat hulle sê mag seker waar wees. Behalwe die eienaardige versoek/instruksie dat die $10 miljoen deur Jack Warner persoonlik administreer moes word. Verduidelik asb diè voorwaarde menere SAFA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.