Saftu veroordeel teistering van joernaliste

Die vakbondfederasie Saftu het Dinsdag gesê hy veroordeel die “booswigte wat die media teister” en “veroordeel ten sterkste diegene wat redakteurs en verslaggewers intimideer”.

Die South African Federation of Trade Unions (Saftu) het in ʼn sterk bewoorde verklaring gesê die “intimiderende” betogings buite ʼn redakteur se huis deur lede van die Black First Land First (BLF)-groep, “is nie net ʼn aanval op individue nie, maar op alle mediahuise en elke Suid-Afrikaner se konstitusionele reg tot vryheid van uitdrukking en om inligting en menings te deel”. Volgens BLF is die betrokke redakteur “deel van die faksie van korrupte kapitaliste”.

ʼn Groep BLF-lede het verlede naweek ʼn optog na Peter Bruce [algemene redakteur van die Tiso Blackstar-mediagroep] se huis in Johannesburg onderneem en aangedring dat hy ophou om oor die Gupta-familie te skryf. Toe Tim Cohen, sakeredakteur van Business Day, by Bruce se huis opdaag, is hy glo hardhandig deur die groep rondgeruk.

Saftu sê dié taktiek is “deel van ʼn sistemiese dryfveer” deur ʼn korrupte faksie om alle instansies te teiken wat demokrasie ondersteun.

“Ongeag die menings van die redakteurs en die verslaggewers wat hulle teiken, kan ons nie enige poging toelaat om enige van hulle van die reg te ontneem om die betrokke menings te publiseer deur middel van dreigemente en intimidasie nie,” het Saftu bygevoeg.

Saftu het gesê selfs al baklei hy teen die dominansie van die media deur groot maatskappye, sal hy nie ʼn veldtog ondersteun wat kritici wil stilmaak of wat pogings wil kelder om die sistemiese geplunder van staatshulpbronne aan die lig te bring nie.

“Die vakbondfederasie sal voortbaklei vir ʼn werklike onafhanklike media wat alle mense van Suid-Afrika reflekteer, veral die werkers en die armes wie se stem grootliks nie gehoor word in kommersiële media nie. Maar hy sal ook baklei teen enige bewegings wat enige media wil sensor, veral diegene wat korrupsie en plundering teenstaan.”

Die BLF het in ʼn onlangse verklaring gesê hulle gaan joernaliste “teiken” wat “rassisme, laster, fopnuus en die beskerming van wit korrupsie onder die dekmantel van joernalistiek” versprei.

Die joernaliste wat genoem word, is Peter Bruce, hoofredakteur van Business Day, Sam Sole van ama-Bhungane, Adriaan Basson, redakteur van News24, Stephen Grootes, politieke joernalis van EWN, Max du Preez, politieke joernalis en kommentator, Barry Bateman, joernalis van EWN, en Alec Hogg, ʼn sakejoernalis.

Lees alle vorige berigte oor BLF op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

al ·

Benoude katte maak benoude spronge. BLF is die black monopoly kapitaliste wat voor Zupta buig!.
Los SA joernaliste uit! En kla BLF aan vir rassisme!

Johann ·

Georganiseerde hedenfaagse terrorisme deur die ZUPTA magsbasis. Anargie op sy gevaarlikste. Klein “self bemagtigde” peoples pleasers wat hulself as onaantasbaar beskou en as deel van Zuma se handpop brigade chaos saai en verwarring plant…MAAR daars n groep silent massas wat g.a.t.v.o.l is en net meet raak oor sulke iduotisme wat ons benadeel. Ek wag vir die dag wat hierdie sotlikhede hulle eie zirre gaan sien aan die hand van die van ons wat oorloop van genoeg is genoeg.

TM ·

As hulle Black First Land First is, hoekom wys hulle prentjie BLF? Dit moet mos dan BFLF wees. Ai toggie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.