Saftu vra ANC-LP’s om vir mosie teen Zuma te stem

Pres. Jacob Zuma (Foto: GCIS)

Die vakbondfederasie Saftu het Saterdag ʼn beroep op ANC-LP’s gedoen om volgende week tydens die mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma te stem vir wat hulle weet reg is, ongeag of die mosie met ʼn geheime stemming beslis word of nie.

Saftu het in ʼn verklaring gesê indien Zuma die mosie oorleef, sal dit “ʼn ramp wees, nie net vir Suid-Afrika nie, maar ook vir die ANC wat veroordeel sal word as ʼn party wat misdadigers goedkeur en verdedig”.

Saftu het sy stem by miljoene woedende Suid-Afrikaners gevoeg wat eis dat die mosie van wantroue teen Zuma wat Dinsdag aangehoor word, moet slaag. “Zuma, sy kabinet en sy makkers het die reg verbeur om enige amp te beklee, aangesien die bewyse van hul misdade wat hierdie land in die grootste krisis nog gedompel het sedert die einde van apartheid daagliks meer word. Hul rekord is verregaande,” lui die verklaring.

“Hulle het onder meer miljarde rande in korrupte en onwettige transaksies wat deur die Guptas gedryf is, gesteel en ʼn netwerk van ministers, staatsbeamptes, hoofde van staatsinstansies en private ondernemings omgekoop om openbare geld na hul eie sakke te herlei. Ons sien daagliks so baie onthullings dat dit onmoontlik is om te bepaal hoeveel al geplunder is, maar dit is duidelik ʼn reusebedrag,” het Saftu gesê.

Die vakbondfederasie het gesê grondwetlike strukture soos die Valke, die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en geheimedienste-agentskappe wat veronderstel is om onafhanklik te wees, weier nou om enige stappe teen die korrupte netwerk te doen en dreig fluitjieblasers en enigiemand anders wat in hul pad staan. “Die hele land is verander in ʼn mafia-styl wettelose kleptokrasie waar die oppergesag van die wet en demokratiese aanspreeklikheid dooie woorde is.”

Satu het verder gesê die ANC het verander van die leier van die vryheidstryd tot ʼn “kruipende verskoning vir korrupte leierskap wat die ANC se waardes van demokrasie en aanspreeklikheid verraai”.

“Dit het gelei tot ʼn diep ekonomiese krisis van massawerkloosheid, armoede en ongelykheid, wat vererger word deur die verwydering van ongewillige ministers wat gebruik is as dekmantel vir hoekom kredietgraderingsagentskappe die ekonomie na rommelstatus afgegradeer het en Suid-Afrika in ʼn nog erger ekonomiese katastrofe ingestuur het.”

Saftu het ʼn beroep op ANC-LP’s gedoen om vir die mosie te stem en gesê dit sal ʼn stem vir die toekoms van die land en die ANC wees.

“Hulle moet stem, nie vir die ANC wat deur Zuma en die Guptas gesteel is nie, maar vir die ANC waarby hulle aangesluit het, die ANC waarvoor kiesers gestem het en bowenal vir die demokratiese en progressiewe waardes waarop hul leiers gespoeg het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Ek is bevrees die massas openbare inisiatiewe het weinig uitwerking aan die status quo, buiten n paar siele wat die grens tussen stilswyende goedkeuring en die eties regverdigbare oorsteek. Dit raak tyd om burgerlike versetaksies te oorweeg, gesamentlik ten einde optrede daarteen te neutraliseer. Skadelik, ten einde die impak te maksimaliseer. Landswyd, ten einde n logistieke nagmerrie te wees.

Jan ·

Los vir ou Zuma hy amper klaar .Vat die Gupta s en wag vir Zuma dat hy klaar is dan vat jul hom hof toe oor al sy goed .Hy het al die mense van die lanf ore aan gesit.en die land is geld loos .

Johannes van Staden ·

Ons gaan nie werk toe in soledariteit dat zuma net asb moet gaan …dit is nou genoeg ! Watse toekoms het mens hier …moord , verkragting en inbraak oral en hoë belasting en wat kry jy ….net mooi niks geen medies pension veiligheid ..net n skop in die rug en hoor jy hoe jy grond steel en rasisties is intussen werk niks nie en geld is gesteel !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.